Stal items per gids uit: woordlengte

Dinsdag, 19 September 2017 06:37

Staan vas vir lang woorde

Sug ʼn resensent by my: “Die subredakteurs is leesbaarheidskoppeltekenbehep,” toe ek hom vra waarom hy “verskroeide-aarde-beleid” (met koppeltekens) in plaas van die meer korrekte “verskroeideaardebeleid” geskryf het.

Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) probeer om so ver moontlik vir gebruikers vaste reëls te gee om in skryfwerk toe te pas. Variasie en uitsonderings is egter deel van enige taal, en daarom word hoofstuk 17 in die AWS gewy aan wisselvorme: “doktore” is korrek naas “doktors”; beide “aangehegte” en “aangehegde” is korrek; en so meer. Op ander plekke in die AWS word wisseling ook eksplisiet vermeld, soos byvoorbeeld dat “Mbombela Stadion”, “Mbombela-Stadion”, “Mbombela-stadion” en “Mbombelastadion” almal korrek is.

Dis juis die koppelteken wat dikwels tot variasie in die skryfwyse lei. In wese beteken die koppelteken dat twee woord(dele) vas aan mekaar gekoppel word: daar is geen betekenisverskil tussen “Mbombela-stadion” en “Mbombelastadion” nie.