Ons kan in den brede tussen vyf soorte koppeltekens onderskei.
- Die afbreekkoppelteken word in gedrukte media gebruik om ʼn woord oor twee reëls af te breek (byvoorbeeld “elek-trisiteit”).
- Die weglaatkoppelteken dui aan dat ʼn woorddeel weggelaat is, soos in “sout- en peperpot” (wat eintlik “soutpot en peperpot” is).
- Die betekeniskoppelteken dui bepaalde betekenisverhoudings tussen woorde aan, soos “tenderpreneur-nepotis” (iemand soos, na bewering, die Vrystaatse sokkerbaas Mike Mokoena), of “Kimberley-Saldanha-treinroete” (daar waar Prasa se treine nie lekker vlot nie).
- Die valensiekoppelteken maak dit moontlik vir sekere woorde om met mekaar te verbind en is daarom verpligtend; kyk na die volgende woorde: In Suid-Afrika se 2016-verkiesing sal ons na die senu-uitputtende tjou-tjou van aspirantpolitici moet luister. In al hierdie gevalle is die koppelteken verpligtend.
- En dan is daar tot slot die nieverpligte leesbaarheidskoppelteken. Dié ene is soos mag: dit word dikwels misbruik.
Die AWS laat eintlik maar net twee gevalle toe waar die leesbaarheidskoppelteken gebruik kán word. Reël 12.1 sê die leesbaarheidskoppelteken kan in ʼn samestelling gebruik word as ’n opeenvolging van klinkers daartoe lei dat die woord verkeerd gelees word. Sê nou maar soos “pigmeeutopie” wat makliker lees met ʼn koppelteken: “pigmee-utopie”. Jy is veilig as jy die leesbaarheidskoppelteken slegs in die volgende gevalle toepas: (1) As die opeenvolgende klinkers ʼn bekende diftongkombinasie vorm (“bendeeuforie” word “bende-euforie”, maar “bendeaanval” bly net so, want “-eaa-” is nie ʼn diftongkombinasie nie); en (2) As die opeenvolgende klinkers a’s, e’s, o’s en u’s is (“bendeellende” en “diskoopwinding” deug nie, maar “bikiniidool” en “intervarsityydeltuit” lewer nie leesprobleme op nie, want “-ii-“ en “-yy” verteenwoordig nie bekende klanke in Afrikaans nie). Dus, “rooiuieoes” en “eeueoue koeioë” word leesbaarheidskoppeltekenloos gelaat.
Reël 12.5 sê jy kan ʼn leesbaarheidskoppelteken in ʼn lang woord gebruik om lees te vergemaklik. En dit is in dié geval waar subredakteurs dikwels neersien op ons as lesers se intelligensie en konsentrasievermoë, want die leesbaarheidskoppelteken word gewoon in ʼn kort, maklik leesbare woord soos “mediaherrie” ingedruk.
Uit ʼn PUK/Protea-korpusondersoek van 1,6 miljoen woorde blyk dit dat die gemiddelde woordlengte in Afrikaans 10,7 karakters is; die kortste woord het een karakter (“u”), terwyl die langste woord 47 karakters het (“obsessief-kompulsiewepersoonlikheidsversteuring”). Woorde wat tot 26 karakters lank is, kan steeds gesien word as “normaal”. Steek jou hand op as jy sukkel om “alkoholgebruiksversteuring” of “instromingsbeheermaatreëls” te lees ... Sien, niemand sukkel nie, want ons is nie dom nie.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 01 April 2016 verskyn.
