Meisies waai toe al die tyd hul 'pompons'

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag, 16 September 2017
Gepubliseer in VivA;

Stormloop die egpaar Johan en Nellie de Beer my onlangs by ʼn bekendstellingsgeleentheid van die nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls: “Is daar ʼn fout by pom-pom en pompon in die AWS?”

Pompon?” vra ek beterweterig. “Dis tog nie ʼn woord nie?”

“Kyk maar,” hou hulle vol, “daar op bladsy 460.”

Ek voel soos ʼn pampoen, want, jou wrintiewaar, daar staan geskrywe:

pom-pom (soort kanon), -s

pompon (blom; klossie), -s

Volgens die AWS kry ons dus na regte pom-pomseuns en pomponmeisies, om nou maar so kortpad te stereotipeer. Pom-pomseuns skiet met kanonne, pomponmeisies dans op Loftus.

Albei is reg gespel: Reduplikasies (herhalingsamestellings) word met ʼn koppelteken geskryf (“pom-pom, lag-lag, speel-speel”; AWS 12.16), terwyl gedeeltelike reduplikasies na regs sonder ʼn koppelteken geskryf word (“pompon, kriskras, roesemoes”; AWS 12.17).

As ek my vriende vra wat ʼn mens daai bolvormige tossel noem waarmee rasieleiers jolyt maak, sê almal deur die bank dis ʼn “pom-pom”.

Onse woordeboeke loop ook mooitjies agter die pratende volk aan. Hoewel HAT en WAT “pompon” erken, dui beide aan dat “pom-pom” meer gebruiklik is om na so ʼn tossel te verwys. Beide ken ook “pom-pom” vir die skietding (HAT gee “maxim” as sinoniem, WAT gee “meksim”), terwyl die meer omvattende WAT daarop wys dat “pom-poms” ook variëteite van dahlias en krisante is. Die hakietoeligting in die AWS klop dus, en ek kan rustig gaan skuinslê.

Maar wat van die skrywende volk? In VivA se Korpusportaal is daar 92 gevalle (met variante) van die twee woorde. ʼn Derde van die gevalle verwys na ʼn skietding, ʼn derde na ʼn tossel en ʼn derde na die plantsoort Campuloclinium macrocephalum (ʼn indringerplant).

 

pom-pom

pompom

pompon

pom-pon

 TOTAAL

'klossie'

12

5

10

2

29

'blom'

14

12

1

0

27

'kanon'

32

4

0

0

36

 TOTAAL

58

21

11

2

92

Dit blyk egter glashelder uit die data dat:

  • “pompon” eksklusief na die tossel verwys;
  • “pompom” (sonder koppelteken en na regte dus ʼn skryffout) eksklusief na die onkruid verwys; en
  • “pom-pom” meestal gebruik word om na die kanon te verwys, maar eweneens in tosselkringe inslag gevind het.

En wat is hierdie woorde se herkoms? “Pom-pom” is ʼn tipies klanknabootsende woord, net soos “doef-doef” en “woer-woer”. Oor “pompon” se herkoms is daar geen sekerheid nie. Daar word vermoed dat dit kom uit die Franse pompe wat ‘prag’ beteken – soos wat ons dit vandag ook nog ken in die Engelse pomp and circumstance. Jy sien al sommer al die tossels en joligheid as een of ander prinsie weer ʼn tand kry. Volgens Webster's College Dictionary kan dit nog verder teruggelei word na die Latynse pompa wat na ʼn parade of prosessie verwys, en die Griekse werkwoord pémpein wat ‘stuur’ beteken.

Het “pampoen” (in Nederlands pompoen) iets hiermee te make? Glad nie, weet Webster's te vertelle, want “pampoen” word herlei na die Griekse naamwoord pépōn wat verwys het na ʼn soort spanspek. Maar daar is dalk tog ʼn vermiste skakel, want in Middelfrans was die woord vir ‘pampoen’ wél pompon! Myns insiens is dit ʼn meer waarskynlike verklaring dat ons moderne pompons metafories soos post-Middeleeuse pampoene lyk, eerder as wat ons allerlei metonimiese truuks moet uithaal om die woord aan parades en prosessies te verbind.

Terwyl die een klomp kinders dan appels swaai, kan die ander klomp vrolik pampoene waai. Dit werk vir my ...

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 16 September 2017 verskyn.

Lees 2633 tye Laaste modifikasie op Saterdag, 16 September 2017 08:42