Jy kan nie, soos die liewe, naïewe Juliet vir die ewe onnosele Romeo vra: "What's in a name? that which we call a rose by any other name would smell as sweet," en daarmee haarself probeer wysmaak dat die kloof tussen hulle oorbrug kan word as Romeo net 'n ander van as "Montague" gehad het. Want sonder die naam is hy bloot net perfeksie, sê die domme meisiekind, en geen vyand van die Capulets nie. So asof 'n mens 'n roos 'n lelie kan noem en dan dink jy het van die dorings ontslae geraak.
My kennismaking met linguistiek as studieveld was in Februarie 1982 aan die destydse Universiteit van die Oranje Vrystaat, toe ek in die heel eerste lesing geleer het by taal is die verhouding tussen vorm en inhoud arbitrêr. Dit is 'n baie ingewikkelde manier om te sê dat ons (of ons voorouers dan) lukraak gekies het watter name ons vir watter dinge wil gee. Op dieselfde manier as wat padgebruikers afgespreek het dat 'n rooi verkeerslig beteken jy moet stop (wel, op enige ander plek as in Pretoria, in ieder geval), het taalgebruikers op 'n kol besluit die ding met takke en wortels se naam is "boom", 'n snorkende, pienk plaasbewoner se naam is "vark" en die plek waar jy pakkies gaan ingee wat jy nooit weer wil sien nie, is "poskantoor".
Op dieselfde manier as wat rooi geen inherente betekenis van "stop" het nie (as dit die geval was, was daai frilletjiesnagklere wat jy op Valentynsdag koop nie rooi nie), is daar niks aan "vark" wat inherent na die dier verwys nie. Dis bloot 'n versameling spraakklanke wat sigbaar deur letters voorgestel word waaraan ons betekenis toegedig het. (Afrikaans het natuurlik so 'n bietjie verneuk, want ons het nie ons verbintenisse uit niks gaan skep nie; ons taalgoed is meestal geërf, geleen of gesteel. Dit kan dalk lyk asof ons minder arbitrêr te werk gegaan het, maar die beginsel bly dieselfde: Geen inherente verbintenis tussen vorm en inhoud nie.)
Naamgewing vir dinge lyk dus na 'n maklike proses. Jy skep 'n ding, jy skommel 'n paar klanke tot dit goed klink, besluit hoe jy dit wil spel, en siedaar, nuwe woord, kompleet met spelling, betekenis en 'n definisie wat in die woordeboek opgeneem kan word. Stof hande af, sit agteroor, drink wyn.
Toe nou nie. Vertalers, veral, het meer lewenswysheid as arme Juliet, en hulle weet maar alte goed jy gaan jou vingers getik kry as jy onnoukeurig met woorde omgaan. Want die verbintenis mag oorspronklik arbitrêr gewees het, maar dit raak later ook vas, en saam met dié vastigheid kom die konnotasie en emotiewe lading en suggestie en insluiting en sinjalering en allerhande ander goed wat vlotsprekers begryp al is dit nie altyd maklik om dit in 'n woordeboekdefinisie in te skryf nie. Dit mag dalk vir leke onbenullig lyk, maar mense wat weet, weet byvoorbeeld daar is 'n verskil tussen "koesisters" en "koeksisters", tussen "doughnuts" en "bollas", tussen "varklies" en "varkpens", en tussen "melktert" en "Kaapse melktert". (As jy wil melktert eet, moet jy die tannie opspoor wat in die tagtigs vir Welkom se tuisnywerheid gebak het; daai Kaapse ding is 'n soet omelet.)
So kuier ek op 'n kol by Amerikaanse vriende en ek moet 'n nagereg saamneem. Die Suid-Afrikaansste nagereg wat ek kan maak, sê hulle, en ek maak 'n melktert. Nou nie die tannie van Welkom s'n nie, maar dis my ouma se resep en baie naby aan smelt-in-die-mond. Met die randjie gekartel en die kaneel deur 'n doilie gestrooi. Melktert, behoorlik opgetert.
Sit die Amerikaners die aand daaraan en eet, en ek sien hulle sluk swaar. Hulle is taktvol teenoor die besoeker uit Donker Afrika, maar die kinders is net kinders en die takt ontbreek nog. "What's this we're eating?" vra die een. Melktert, antwoord ek. Op Afrikaans, want dis die ding se naam. A tart made of milk, is die naaste wat ek bereid is om aan 'n vertaling te kom. "Oh," antwoord die kind, "I was gonna say it tastes just like stale custard." Die gasheer laat val sy koekvurkie van verleentheid en sê die custard tart sou baie lekker gewees het saam met suur kersies of miskien 'n karamelsous. Hy wou die ding opgesous gehad het en nie opgetert nie.
Ek kyk hulle so, hierdie spul wat dink boelieballet is sport, pampoen is nagereg en oranje is 'n haarkleur. En ek eet my regte, Suid-Afrikaanse melktert met die gekartelde randjie en die patroontjieskaneel met smaak, want saam met "melktert" kom daar 'n Ventertjie vol herinneringe en verlang na die mense by wie ek hoort en die aarde waaruit ek kom. Hierdie ding kan jy nie 'n "custard pie" of 'n "milktart" noem nie. Hierdie ding is 'n melktert, en jy moes hom op 'n laatsomersmiddag onder 'n moerbeiboom in 'n agterplaas in Welkom geëet het om te verstaan hoekom dit so is.
Laat hulle hulle touchdown hou. Solank ek my melktert mag kry.
VivA-groete
Sophia