Hoedjies van papier: reëls en konvensies vir die uitskryf van getalle

Geplaas deur Stefan van Zyl Donderdag, 27 Januarie 2022
Gepubliseer in Grammatika;

Trefwoorde: getalle, nommers, syfers, telwoorde, uitskryf

VivA se Taaladviesdiens ontvang dikwels navrae oor die uitskryf van getalle. Dit kan ʼn komplekse saak word aangesien elke genre ʼn eie stel konvensies het. Vervolgens word enkele riglyne in die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), sowel as die nuut bygewerkte digitale weergawe van Skryf Afrikaans van A tot Z: jou gids tot keurige Kortpadafrikaans (SAAZ) (2021) hier aangebied. Afdeling 7 in die AWS bevat riglyne oor die maniere waarop getalle, syfers en simbole hanteer word, terwyl afdeling 18 in SAAZ dieselfde onderwerp hanteer. Dit is belangrik om te onthou dat laasgenoemde bron eintlik ʼn joernalistieke stylgids van Media24 was, en dat heelwat van die riglyne eerder die voorskrifte van senior subredakteurs as taalreëls is. Nietemin is dit ʼn uiters nuttige bron waarop taalpraktisyns dikwels reken om netelige taalkwessies op te los.

  • In joernalistieke skryfwerk word getalle van een tot nege gewoonlik uitgeskryf en van 10 af in syfers weergegee. (Sommige publikasies het huisreëls wat bepaal dat een tot tien of een tot twintig uitgeskryf word.) Wanneer die getal egter aan die begin van ʼn sin staan, word dit verkieslik uitgeskryf.
  • In fiksie, veral in die dialooggedeeltes, word getalle gewoonlik uitgeskryf, maar dit is ʼn konvensie, nie ʼn vaste voorskrif nie. Dit is byvoorbeeld aanvaarbaar om jaartalle (1955), die name van vuurwapens waarin getalle voorkom (.22, 9 mm-pistool), kamernommers (saal 10), die enjinkapasiteit van voertuie (1400), ens. in syfers weer te gee. Dit is wel belangrik om daarop te let dat die reël hier bo oor die uitskryf van een tot nege nie op fiksieskryfwerk van toepassing is nie.
  • Die skryfwyse van hooftelwoorde met die voegwoord en word deur die AWS bepaal en geld vir alle soorte skryfwerk. Sulke woorde word óf los óf met koppeltekens vas geskryf, byvoorbeeld een en twintig óf een-en-twintig.
  • Die skryfwyse van rangtelwoorde word ook deur die AWS bepaal. Rangtelwoorde wat uit meer as een komponent bestaan, word vas geskryf en indien dit die voegwoord en bevat, moet dit met koppeltekens geskryf word, byvoorbeeld die een-en-twintigste keer, die vyfhonderdste dag.
  • Die AWS bepaal verder dat tien in verbindings met ʼn voorafgaande telwoord vas geskryf word, byvoorbeeld agtien, negentien.
  • Volgens die AWS is verbindings tussen honderd, duisend, miljoen, miljard, ens. en ʼn voorafgaande telwoord óf los óf sonder ʼn koppelteken vas, byvoorbeeld vier honderd óf vierhonderd, drie duisend agt honderd óf drieduisend agthonderd óf drieduisendagthonderd.
  • ʼn Breuknaam wat uit meer as een komponent bestaan, word vas geskryf, en indien ʼn breuknaam die voegwoord en bevat, word dit met koppeltekens geskryf, byvoorbeeld ʼn drieduisendste, ʼn agt-en-dertigste.
  • ʼn Heelgetal en ʼn breuknaam word los geskryf, bv. een en ʼn halwe koppie meel.
  • Indien ʼn getal een woord én deel van ʼn samestelling is, moet dit uitgeskryf word, byvoorbeeld tweeslaapkamerhuis, driewielfiets.
  • ʼn Getal wat in syfers geskryf word en wat deel is van ʼn samestelling (wat vas geskryf word as dit in woorde weergegee word), moet met ʼn koppelteken aan die woord verbind word, byvoorbeeld 80-jarige.
  • Indien ʼn getal ʼn wisselvorm het, soos ag of agt, kies een en gebruik dit konsekwent in die teks.

 In die volgende gevalle word getalle verkieslik nie uitgeskryf wanneer dit in ʼn sin voorkom nie:

  • Bladsynommers, bl. 10, bl. 201-210
  • Nommers van hoofstukke en dele van ʼn boek, hfst. 4, deel 3
  • Breedte- en lengtegrade, 50° 40' 10'' S
  • Bybelverse, Jesaja 28:11
  • Datums (dag en jaar), 12 November 1987
  • Mate en gewigte in byvoorbeeld resepte, 30 mℓ, 3 botterskorsies
  • Saam met die persentasieteken, 100%
  • Kantoornommer, straatnommer, poskodes, 565, Barnardlaan 4, 8460
  • Groottes van klere, 44
  • Liednommers in ʼn sangbundel, Lied 519, Skrifberyming 21:1
  • Oppervlakte-afmetings, 45 mm × 55 mm
  • Posbus, telefoon, reeks- en registrasienommers, Posbus 2189, 012 XXX XXXX, FR XX GP
  • Sporttellings, 30 – 0
  • Wet- en artikelnommers, Artikel 2(3) van die Wet op Testamente (Wet No. 7 van 1953)
  • Wiskundige verhoudings, 1:100

Hierdie blog bevat algemene riglyne wat betrekking op die uitskryf van getalle het. Sekere stylgidse kan ander riglyne bevat wat van hierdie riglyne verskil, en daarom is dit belangrik om jou van sodanige spesifieke riglyne te vergewis.

Lees gerus ook die volgende VivA-blogs wat met hierdie onderwerp verband hou: Tel jou woorde met telwoorde, Laat konteks bepaal wat is nommerpas en Grootgetalletabel.

VivA-groete

Stefan

Bronne:

Carstens, W.A.M. 2018. Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans. Pretoria: Van Schaik.

Pharos. 2017. Afrikaanse woordelys en spelreëls. https://www.pharosonline.co.za/aws/indeks

Pharos. 2021. Skryf Afrikaans van A tot Z: jou gids tot keurige Kortpadafrikaans. https://www.pharosonline.co.za/skryf-afrikaans

Lees 8273 tye Laaste modifikasie op Donderdag, 03 Maart 2022 22:07

Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel
    Christolene Heunis
    Christolene Heunis
    Woensdag, 01 Februarie 2023 09:08

    Ek lees vandag eers (net mooi ’n jaar later!) hierdie artikel. Hiervolgens moet ’n breuknaam wat uit meer as een komponent bestaan vas geskryf word en indien dit die voegwoord "en" bevat, moet dit met koppeltekens geskryf word, bv. een-en-twintigste. Maar, bv. een en twintig, kan met of sonder koppeltekens geskryf word. Die AWS se herbewerkte uitgawe van 2002 sê egter ook dat dit met of sonder koppeltekens geskryf kan word. Verstaan ek dit reg? Het dit verander?

    Groete
    Christolene Heunis

  • Kommentaarskakel
    Stefan van Zyl
    Stefan van Zyl
    Dinsdag, 01 Februarie 2022 20:37

    Hallo Seymour

    Baie dankie vir jou navraag!

    Wanneer jy na die inskrywing oor "los skryf/geskryf" op bladsy 402 in die AWS kyk, sal jy sien daar word na reël 15.51 opmerking (b) verwys. Dit sou ook hier van toepassing wees.

    VivA-groete
    Stefan

  • Kommentaarskakel
    Seymour Isaac Bothman
    Seymour Isaac Bothman
    Dinsdag, 01 Februarie 2022 11:26

    Hallo Stefan

    Verduidelik asseblief waarom die woord, vasskroef of vasgeskroef (AWS, p. 532) vas geskryf word, maar die woord, vas skryf of vas geskryf, los geskryf word. Die woorde kom voor in bogenoemde teks.

    Baie dankie vir die artikel.

    Groete
    Seymour