Die woord "mens": die vlinder in vlug

Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten Maandag, 29 Mei 2023
Gepubliseer in Grammatika;

Sommige naamwoorde begin om hulle soos voornaamwoorde te gedra. Ons sê dat hulle gegrammatikaliseer het. Wat beteken hierdie woord: gegrammatikaliseer? Dit dui op die taalverandering wat plaasvind wanneer “’n konstruksie afstand doen van sy leksikale betekenis en evolueer om grammatikale betekenis uit te druk” (Breed 2012:x). Met ander woorde, grammatikalisering verwys na die verandering wat intree wanneer ’n woord afstand doen van sy woordeboekbetekenis / oorspronklike, letterlike betekenis (leksikale betekenis) en ’n betekenis begin uitdruk wat slegs uit die konteks van die sin afgelei kan word (grammatikale betekenis).

Die naamwoord mens is ’n tipiese voorbeeld van ’n woord wat besig is om hierdie tipe verandering te ondergaan. As naamwoord word dit tipies gebruik as iets met die woordeboekbetekenis (leksikale betekenis) ‘’n persoon/individu; iemand wat sy/haar verstand en taal gebruik’, soos in Hoeveel mense het opgedaag?. Dit kan egter wegdoen van hierdie leksikale betekenis wanneer dit in die plek van ’n wederkerende voornaamwoord gebruik word. In plaas daarvan om te skryf ’n Mens kwel jou tevergeefs oor die dag van môre! (Van Schoor 1983:300), kan mensself in die plek van die wederkerende voornaamwoord jou gebruik word, byvoorbeeld Mens moet mensself kan handhaaf tussen ander (VivA-KPO) en Mens kan nie mensself in ander se skoene dink nie (VivA-KPO, aangepas) (vergelyk Olmen et al. 2019).[1]

Die wegdoen van mens se oorspronklike, leksikale betekenis blyk ook uit sy gebruik in die volgende sinne waar dit in die plek van die voornaamwoord jy of hulle gebruik word.

  • Mens besef eers werklik hoe feilbaar ’n held kan wees sodra hy skeeftrap (letterlik én figuurlik)!
  • ’n Mens leef net een keer.
  • Mense sê dit spook in daardie huis.

In al die bostaande voorbeelde “gedra” mens (en ook mensself waarna vroeër verwys is) dit as ’t ware soos ’n voornaamwoord waarvan die betekenis uit die teks afgelei moet word en kommunikeer dit nie meer sy oorspronklike naamwoordbetekenis ‘’n persoon/individu; iemand wat sy/haar verstand en taal gebruik’ nie.

Dat die naamwoord mens ook die eienskappe van ’n voornaamwoord begin kry, blyk uit die feit dat dit toenemend sonder die bepaalde lidwoord (’n) gebruik word, soos blyk uit die navorsing van Kirsten (2016). In haar ondersoek van vier korpusse van geskrewe Standaardafrikaans van 1911 tot 2010 het Kirsten (2016) bevind dat die vorm mens tydens 2001 en 2010 dubbeld soveel as die vorm ’n mens gebruik is – ’n aanduiding dat mens “verder weg beweeg van die oorspronklike leksikale vorm” (Kirsten 2016).

As gevolg van hierdie proses van grammatikalisering waarin mens betrokke is, word dit in ’n verskeidenheid bronne, waaronder skoolhandboeke, taalkundeboeke en ook woordeboeke, as ’n voornaamwoord aangedui.

  • In Piekfyn Afrikaans Huistaal Leerderboek Graad 9 (Vosloo et al. 2013) word mens (soos in Die mense sal my nooit glo nie) as ’n onbepaalde voornaamwoord wat nie op bepaalde mense of sake dui nie, geag.
  • Ook In Platinum Afrikaans Huistaal Leerderboek Graad 9 (Anker et al. 2013) word mens (soos in n Mens moet bewus wees van al die vlakke wat jy kan aantref) as ’n onbepaalde voornaamwoord wat nie op bepaalde mense of dinge dui nie, gereken.
  • In ’n sintaksisbron soos Ponelis (1979) word mens (soos in ’n Mens moenie oordeel nie) as ’n onbepaalde voornaamwoord wat die “semantiese klaskenmerk onbepaaldheid” het, geag.
  • Beide die aanlyn HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek en die aanlyn 2015-HAT klassifiseer mens (soos in Kan (’n) mens hierdie water drink?) as ’n voornaamwoord wat verwys na iets in die algemeen of ’n persoon van wie die naam nie genoem word/is nie.
  • Ook die WAT gee die betekenisonderskeiding ‘vnw. Iemand i.d. algemeen’ met As 'n mens vir ’n bioloog sou vra wat is die mens, sal hy waarskynlik ’n definisie gee in terme van bloedsomloop, asemhaling en biotiese organe van die mens as illustrerende voorbeeld.

Tog is mens nié ’n onbepaalde voornaamwoord soos wat hier bo aangedui is nie, veral nie as die betekenis van onbepaalde voornaamwoorde onder die loep geneem word nie. Onbepaalde voornaamwoorde verwys na ’n spesifieke saak, hoewel hierdie saak bloot vaag is. Die betekenis wat deur mens uitgedruk word, is anders: Dit verwys eintlik na énige eksemplaar (voorbeeld) binne ’n klas.

Indien ’n mens mens wel as ’n voornaamwoord sou reken, sou dit sinvoller wees om dit ’n "menslike onpersoonlike voornaamwoord” te noem (Breed 2023). In ’n onderhoud met prof. Adri Breed sê sy die volgende: “In die taalkundeliteratuur bestaan die term ‘menslike onpersoonlike voornaamwoorde’ om na hierdie voornaamwoorde wat van mens-woorde afkomstig is, te verwys.” Sou hierdie voorgestelde term dan gebruik word, kry mens voornaamwoordstatus, maar dit word van onbepaalde voornaamwoorde onderskei.

Ons beskouing in VivA se Afrikaansgrammatika is dat mens steeds ’n naamwoord is, aangesien dit steeds die kern van ’n sinsdeel vorm en saam met ’n ander woordsoort, in die besonder die onbepaalde lidwoord, gebruik word. Dit het dus bloot ’n voornaamwoordelike karakter. Hierdie siening word ook gereflekteer in Van Schoor (1983) en die Longman-HAT Eng-Afr/Afr-Eng Skoolwoordeboek.

  • Van Schoor (1983) stel dit eksplisiet dat die gebruik van mens (soos in ’n Mens weet nie wat jy in so ’n ruimtetjie met jou bene moet maak nie) “semanties met onbepaalde voornaamwoorde ooreenkom”, hoewel hy dit nie as ’n onbepaalde voornaamwoord klassifiseer nie.
  • In die aanlyn Longman-HAT Eng-Afr/Afr-Eng Skoolwoordeboek word die gebruik van mens (soos in (’n) Mens weet nooit wat kan gebeur nie) met die betekenis ‘(’n) mens [PEOPLE IN GENERAL]’, in ooreenstemming met ons siening, as ’n naamwoord geklassifiseer.

Wie is dan reg? Ek dink nie dit gaan soseer daaroor watter klassifikasie van mens in bronne gegee word nie. Waarop ek wys, is die feit dat taal verander. Lury (2016) beskryf dit treffend wanneer hy sê: “Celebrate the diversity, capture the vitality of the changing language, and study grammar not as a way to preserve the language, like a butterfly pinned out in a glass-case, but a way of noticing the beauty and power of [language] – the butterfly in flight.” (My invoeging – NFK.)

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten

 

Bronnelys

Breed, C.A. 2012. Die grammatikalisering van aspek in Afrikaans: ʼn semantiese studie van perifrastiese progressiewe konstruksies. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif – PhD).

Breed, C.A. 2023. Die aard van die woord “mens” wat gebruik word om op ’n generiese wyse te verwys [Persoonlike onderhoud]. 8 Mei 2023, WhatsApp-gesprek

Kirsten, J. 2016. Grammatikale verandering in Afrikaans vanaf 1911 tot 2010. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif – PhD).

Lury, J. 2016. Understanding and teaching grammar in the primary classroom: Subject knowledge, ideas and activities. Abingdon, Oxon: Routledge.

Luther, J. & Pheiffer, F. 2013. Taal en Feitegids. Suid-Afrika: Pearson Education.

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Van Olmen, D., Breed, A. & Verhoeven, B. 2019. A corpus-based study of the human impersonal pronoun ('n) mens in Afrikaans: Compared to men and een mens in Dutch. Languages in Contrast, 19(4):9-105.

Van Schoor, J.L. 1983. Die grammatika van standaard-Afrikaans. Kaapstad: Lex Patria.

Vosloo, R., Viljoen, H., Gloy, A. & Prinsloo, B. 2013. Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 9 Huistaal. Kaapstad: Best Books.

Anker, J., Badenhorst, R., du Toit, E., Gouws, R., Janse van Rensburg, J.H.C., Julies, G., Le Cordeur, M., Nel, M. & Stubbe, E. 2013. Platinum Afrikaans Huistaal Leerderboek Graad 9 PlatKaapstad: Maskew Miller Longman.

 

Aanlyn woordeboeke geraadpleeg

Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)

Longman-HAT Eng-Afr/Afr-Eng Skoolwoordeboek.

HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (6de uitgawe)

 

[1] Let daarop dat hierdie gebruik van mensself nie in preskriptiewe bronne goedgekeur word nie. Die algemene riglyn hierin is om mens of ’n mens egter een keer gebruik, en daarna jy en jou, byvoorbeeld As ’n mens die dag op die strand deurbring, moet jy sorg dat jy nie te veel son kry nie (Luther & Pheiffer 2013:78).

Lees 1309 tye Laaste modifikasie op Maandag, 29 Mei 2023 20:10

Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel
    G Olwagen
    G Olwagen
    Maandag, 26 Junie 2023 02:31

    "Zoals men zaait zo zal men oogsten" (uit die Bybel).
    Afrikaans: "Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes" - 1983-vertaling.
    Interessant is dat "hy" juis hier gecruik word pleks van "jy:"
    Dit sluit weer aan by 'n ander vertaling waar "die mens" in plaas van "''n mens" gebruik word:
    "... net wat die mens saai, dit sal hy ook maai."
    Dit voel amper asof daar 'n betekenisverskil is deurdat "'n mens" vervang kan word deur "iemand", maar "die mens" deur "die mens as 'n spesifieke wese", of hoe?

  • Kommentaarskakel
    G Olwagen
    G Olwagen
    Maandag, 26 Junie 2023 01:49

    En die verband tussen die Afrikaanse "('n) mens" en die Nederlandse "men"?
    Ek vra die vraag as 'n leek in hierdie verband, omdat ek altyd gedink het ons het ons woord van die Nederlandse een afgelei, omdat "'mens" vir ons 'n bekender begrip is as 'n vae "men".