Blitsblog 2: Die werkwoord en die verlede tyd in veelvoudige sinne

Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten Dinsdag, 06 Februarie 2024
Gepubliseer in Grammatika;

Ek ontvang nou die dag die vraag oor wat die reël is wanneer twee selfstandige werkwoorde (oftewel "leksikale hoofwerkwoorde") in dieselfde veelvoudige sin (oftewel "neweskikkend komplekse sin) voorkom en hierdie sin in die verlede tyd geskryf moet word. Die sin wat ons as voorbeeld gaan gebruik, is: Die kat en die hond hardloop in die bos, en hulle soek na voëls.

Die algemene reël in skoolmateriaal is dat indien albei werkwoorde ’n afsonderlike handeling voorstel, elkeen in die verlede tyd geskryf moet word. In die bostaande sin stel hardloop en soek elkeen ’n afsonderlike handeling voor, en daarom behoort elkeen die verledetydsvorm te kry:

  1. Die katte en die honde het in die bos gehardloop, en hulle het gesoek na voëls.

Blitsblog2_1.png

Hoe kan jy vir leerders aantoon dat albei selfstandige werkwoorde (leksikale hoofwerkwoorde) ’n afsonderlike handeling voorstel?  Antwoord: Verdeel die veelvoudige sin (neweskikkend komplekse sin) in twee enkelvoudige sinne (simplekse sinne) waarin een van hierdie selfstandige werkwoorde (leksikale hoofwerkwoorde) voorkom. Gebruik dan prente om die handeling wat deur elkeen van dié sinne voorgestel word, uit te beeld.

Blitsblog2_2.png

Blitsblog2_3.png

 

Nota: Werkwoorde wat nie elkeen ’n afsonderlike handeling aandui nie

Daar is egter sinne waarin ons twee werkwoorde het wat wil voorkom soos selfstandige werkwoorde (leksikale hoofwerkwoorde), maar waar die betrokke sin eintlik ’n enkelvoudige sin (simplekse sin) is. Daar is met ander woorde net een selfstandige werkwoord (leksikale hoofwerkwoord) in die sin. Lees die volgende sin:

2.     Hy staan en sukkel heeldag met my.

In die bostaande sin stel die werkwoord staan en sukkel nie afsonderlike handelinge voor nie. Trouens, slegs een van hulle is ’n selfstandige werkwoord (leksikale hoofwerkwoord) wat die handeling voorstel, naamlik sukkel.

Die werkwoord staan, aan die ander kant, word eerder aangewend om iets van die interne tyd te sê, naamlik om aan te dui dat die proses van sukkel aanhou en nog nie klaar is nie. Daarby druk staan ook ’n negatiewe betekenis uit.

Die twee werkwoorde vorm dus eerder een semantiese begrip binne ’n enkele enkelvoudige sin (simplekse sin) waar die een werkwoord (naamlik staan) ’n niehoofwerkwoord (oftewel "medewerkwoord") en die ander werkwoord (bv. werk) die hoofwerkwoord is.

Binne hierdie konteks kan verskillende verledetydspatrone geskep word:

·        Die niehoofwerkwoord (bv. staan) kry ge- in die verlede tyd, bv. Hy het die heeldag met my gestaan en sukkel.

·        Die niehoofwerkwoord kry ge-, maar word sonder en gebruik, bv. Hy het nog nooit geloop praat van die oorlog nie.

·        Die medewerkwoord kry nie ge- nie, maar dit word wel gevolg deur en, bv. Wie het dit loop en vertel?

·        Die medewerkwoord kry nie ge- nie, en dit word ook nie deur en gevolg nie, bv. De Rust het loop rus vir die dag.

 

Kom ons keer weer terug na ons oorspronklike sin. Alternatiewelik kan die verlede tyd met presensvorme (oftewel teenwoordigetydsvorme) weergegee word. Dit is ’n stilistiese keuse wat die skrywer/spreker maak om ’n dramatiese effek te probeer skep, sodat die leser/hoorder die gebeure kan meeleef. Die skrywer/spreker bring dus die gebeure nader aan die leser/hoorder en maak dit onmiddelliker.

Wanneer ’n sin op hierdie manier geskryf word, sê ons dat die sin in die historiese teenwoordige tyd geskryf is. Normaalweg is daar in so ’n geval ’n aanduiding dat die gebeure in die verlede afspeel. Vergelyk die volgende voorbeeld uit Van Schoor (1983:134) waar daardie oggend (onderstreep) gebruik word om die verlede tyd aan te dui, waarná die teenwoordigetydsvorm van die werkwoorde (in vetdruk) gebruik word:

  1. Daardie oggend neem hy sy koffertjie soos gewoonlik en draf skool toe ...

 

Sou ons oorspronklike sin so ’n tydsuitdrukking soos daardie oggend bevat (sien (4)) én ’n mens die gebeure lewendig en dramaties wou uitbeeld, sou ’n mens kon skryf:

  1. Daardie oggend hardloop die kat en die hond in die bos en soek die voëls.

 

Ek hoop dat die kwessie oor die vorm van die selfstandige werkwoord (leksikale hoofwerkwoord) hiermee iets van die verlede is.

 

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten

 

Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Blitsblog2_4.png

 

Bronnelys

Anker, J., Botha, A., Fouché, J., Gouws, R., Hugo, J., Jansen van Nieuwenhuizen, I., Janse van Rensburg, C., Julies, G. & Vermaak, A. 2011. Platinum Afrikaans Leerderboek Graad 10. Kaapstad: Maskew Miller Learning.

Fouché-Karsten (ter perse). Die werkwoord in ’n neutedop. [Dit sal binnekort op Klaskamerhulpmiddels beskikbaar wees.]

Elspark Hoërskool. 2020. Die tye: Verlede tyd, teenwoordige tyd, toekomende tyd. https://news.hselspark.co.za/wp/wp-content/uploads/2020/06/Tye-van-die-werkwoord-week-6-en-7.pdf Datum van gebruik: 31 Januarie 2024.

Van Schoor, J.L. 1983. Die grammatika van Standaard-Afrikaans. Kaapstad: Lex Patria.

 

Taalversorging

Maureen van Helden

Lees 2917 tye Laaste modifikasie op Woensdag, 26 Maart 2025 10:58