Dit is interessant dat beide Anna Jarvis en Woodrow Wilson gespesifiseer het dat die enkelvoud (“Mother’s”, en nie “Mothers’” nie) gebruik moet word, want die dag moes gaan oor die verering van elke gesin se eie moeder, nie moeders of moederskap in die algemeen nie. Anna Jarvis het ook in haar leeftyd reeds bekommerd geraak oor die kommersialisering van die dag, en het gedreig om die viering te boikot omdat groot maatskappye soos Hallmark dit as ʼn geleentheid beskou het om wins uit die sentiment te maak.
Natuurlik was dit nie ʼn gety wat sy kon omkeer nie. Moedersdag word vandag wêreldwyd gevier, weliswaar nie oral op dieselfde dag nie, maar wel met dieselfde sentiment.
Want ons het almal ma’s, en ongeag ons taal, kultuur, geloof of lewens- en wêreldbeskouing, is ons ma’s waarskynlik die persoon wat die grootste invloed op ons uitgeoefen het.
Ons sien dit ook in die manier waarop die woord “moeder” in die taal neerslag vind. Die moeder is die bron, die oorsprong, die broeiplek, die ontluikplek. Die HAT6 dui aan dat “moeder-” as eerste komponent van ʼn samestelling beteken “dit waaruit ander ontstaan het”. Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans sê dit is die “[b]ron, oorsprong, die grootste, beste, ensovoorts van ʼn bepaalde verskynsel”.
Die bron en basis van ons lewe is per slot van rekening “Moeder Aarde” (AWS). Die taal wat ons die beste praat, is ons “moedertaal” (want ons het dit by haar geleer) (WAT), die “moederbodem” is die “voedende, vormgewende bron” van al ons opvattinge (WAT), die “moederatoom” is die stamatoom (Fisikawoordeboek). So kan ʼn mens maar opnoem: moederbok, moederplantasie, moedergemeente, moederkolonie, moederkopie, moedermagma, moedermaatskappy, moedermetaal, moederplaneet, moederreg, moedersel, moederskip, moedertuig, moederbord, moedersaad, moederplant, moederkerk. In elke dissipline is daar ʼn oorsprong, begin, voedingsbron, en telkens is dit in die moeder te vinde.
Selfs in krygskunde het die moeder haar onwaarskynlike opwagting gemaak, en dit nogal uit ʼn heel onverwagte oord. Die uitdrukking “die moeder van alle ...” is volgens Etymonline terug te voer na Golfoorlogsleng; Saddam Hussain het blykbaar na ʼn komende veldslag verwys as “the mother of all battles”. Volgens dieselfde bron is dit oorspronklik ʼn Arabiese uitdrukking, wat op sy beurt ontstaan het uit “the Mother of all Believers” – ʼn verwysing na Ayesha, die tweede vrou van die profeet Mohammed.
Wanneer jy hierdie oerste, eerste, diepste, gekompliseerdste van alle verhoudings vier, onthou dat niemand ʼn ma vrygespring het nie. Groot digters soos Yeats, Whitman, Hardy, Dickenson en Kipling het hierdie unieke verbintenis in woorde probeer vasvang, films het dit probeer uitbeeld, skrywers het dit in romans probeer verwoord. Niemand kon nog na behore nie. Want dit is wat dit is: die bron, die begin, die bodem waaruit ons groei. En woorde kan dit nie vashou nie.
Loop sê vir haar jy’s dankbaar.
VivA-groete
Sophia