Die skool verras my, want dit is nie in Athlone nie, dis in Bellville. (Dis na die Earl of Athlone vernoem wat die grond vir die skool geskenk het, nie na die woonbuurt nie.) En al weet ek die skool bedien blinde en siggestremde kinders uit Kaapstad se arm woonbuurte, is die plek mooi opgepas. Al is die skool pas 90 jaar oud, is dit modern. Al is hulle gestrem, het die kinders almal internettoegang en rekenaars of tablette. Daar is min frilletjies, want elke sent wat inkom moet gebruik word vir onderrig of onderhoud – daar is ʼn koshuis – maar hulle doen wat hulle kan met die geld tot hulle beskikking. Veiligheid is natuurlik ononderhandelbaar, daarom begluur die wag my toe ek stilhou en hou die boek uit sodat ek kan aanteken wat ek daar maak. Dié plek het nie ʼn draad nie, dit het ʼn muur. Die kinders is weerloos.
Ons word ontvang deur die hoof, meneer Fletcher Fisher, ʼn lang man met ʼn ferm handdruk en ʼn ek-vat-raak-houding. As ek op sy personeel was, het ek in my spoor getrap. Ek verduidelik wat ons daar maak en hy luister beleef. En dan vra ek: Dink hy sy kinders sal kan baat by VivA?
Hy kyk my lank. “Juffrou,” sê hy. (Ek het al vergeet hoe is alle vroue by ʼn skool “juffrou”.) “Juffrou, hierdie kinders skryf presies dieselfde vraestelle as enige siende kind. Hulle moet dieselfde werk bemeester. Hulle moet dieselfde vaardighede hê. Ons probeer om vir hulle dieselfde toegang te skep as siende leerders en dis nie aldag ewe maklik nie. Dit kos moeite en dit kos geld. Praat gerus met my onderwysers, ons verwelkom enige hulp.”
Ek gaan verduidelik vir die Afrikaansjuffrou wat ons bied en ek kan sien sy is sielsmoeg. Sy gee Afrikaans EAT vir graad 8 tot graad 12. Maar dis wonderlik, sê sy, sy gaan dit beslis vir haar leerders aanbeveel. Dit sal vir baie van hulle die eerste keer wees wat hulle in ʼn woordeboek kan naslaan, want gewone woordeboeke is te klein gedruk. En daar is net een braillemasjien in die land en dis by Worcester. As hulle daar ʼn boek laat omskakel in braille, is ʼn gewone boek tien bundels dik. ʼn Woordeboek is net onmoontlik. Dankie, sê sy. Baie dankie. Dis ʼn groot voorreg om van VivA te hoor.
Ek is daar weg, ontstig oor al die goed wat ek elke dag so vanselfsprekend aanvaar: Om te kan sien, om te kan lees, om te kan naslaan, om te kan vra, om ʼn onderwyser vir elke graad te hê, om te kan weet die wolke stoot uit die weste in en as daar ʼn morrige bruin strook op die horison lê, moet jy jou sambreel saamvat skool toe. Om te weet jou sambreel is die rooie. Om te weet wat is rooi. Om te gaan studeer met die verwagting dat daar vir jou ʼn plek gaan wees in die samelewing.
Hopelik skakel die Athlone School for the Blind met my. Hopelik is daar iewers ʼn kind wat voorheen gesukkel het, wat nou makliker regkom met die skrifbeeld. Hopelik kan VivA vir die juffrou iets beteken. Maar al gebeur dit nié, was die besoek vrugbaar, want hulle het vir my meer beteken as wat ek vir hulle kan wees.
VivA-groete
Sophia