'Papgooi' deug nie, wel potgooi

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag, 07 Oktober 2017
Gepubliseer in VivA;

Vra ʼn jong taalentoesias die ander dag op Facebook: “Waar kry ʼn mens VivA se papgooie”?

Ek frons, kry visioenflitse van boeresportdae uit my verre verlede, probeer eers die klepel by die klok te kry, toe die kloutjie by die oor, en besef uiteindelik die lieweling bedoel seker te vra: “Waar kry ʼn mens VivA se pótgooie?”

Dis nou wat gebeur as ʼn mens “podcast” met “potgooi” vertaal. Van die oor na die mond, val die pot op die grond – om nou maar flouerig met idiome om te gaan ...

Die Engelse woord “podcast” is ʼn versmelting van “iPod” en “broadcast” – ʼn woord wat so half toevallig in 2004 deur die Britse joernalis Ben Hammersley geskep is. ʼn “Podcast” was toentertyd ʼn reeks digitale klanklêers wat via die internet uitgesaai is (daarom “broadcast”) en wat hoofsaaklik deur Applegebruikers afgelaai is (daarom “iPod). Vandag is dit klank en/of video, met programnotas, kommentaar, die hele boksemdais – beskikbaar op iOS, Android en Windows.

Dit was nie ʼn honderd jaar nie, toe kom RSG (of ʼn inbeller) met die vertaling “potgooi” vorendag – ʼn tipies volksetimologiese vertaling. Na bewering het Rapport ook al in 2005 die term “podgooi” gebruik. (ʼn Mens kan dit ongelukkig nie verifieer nie, aangesien die Media24-koerantargief nie meer vir navorsingsdoeleindes toeganklik is nie.)

Maar die Taalkommissie wou geen niks van dié gebry weet nie. “Podsend” moet dit wees, het ons slim-slim en deftig in die 2009-AWS aangekondig. Slim vang egter sy baas, en in die nuutste uitgawe van die AWS erken ons “potgooi”, “potgooier” en “het gepotgooi”, naas “podsend(ing)”, “podsender” en “het gepodsend”.

Terug na die Facebookjongeling se vraag: Waar kry ʼn mens VivA se papgooie/potgooie/podsendings?

VivA het onlangs begin met twee podsendingreekse. Die doel voor oë is enersyds om inligting op nuwerwetse maniere aan die (jonger) publiek beskikbaar te stel, maar ook andersyds om ʼn diens aan die siggestremde gemeenskap te lewer.

Die een reeks handel oor die pasverskene AWS. Daar is ʼn paar inleidende episodes oor wat die AWS is en hoe die 2017-uitgawe van die 2009-uitgawe verskil. Daarna duik Taalkommissielede in elk van die dele en hoofstukke in, bespreek die noodsaak van die onderhawige deel en probeer om die reëls en werkswyse van die Taalkommissie so eenvoudig as moontlik te verduidelik. Dit is hopelik ʼn lekker manier om die boek vir Jan en San Alleman – en veral hulle kinders – toeganklik te maak. Daar is reeds nege episodes opgelaai, en die res word in die loop van die volgende twee maande gepubliseer.

Die tweede reeks (VivA-joernaal) bevat onderhoude met mense in die taalbedryf (byvoorbeeld oor die bekendstelling van nuwe boeke, of oor interessante taalkundige navorsing), asook voorlesings van rubrieke en blogs deur onder andere Jana Luther en Sophia Kapp. (Weens Media24 se kopieregbeleid mag hierdie rubriek helaas nie voorgelees word nie.)

Beide reekse is beskikbaar by viva-afrikaans.org (onder “Lees|Luister”) of iono.fm, of in iTunes of enige ander podsendingtoepassing. (Soek vir “VivA Afrikaans”.) Op VivA se webwerf is daar ook twee aflaaibare blitsgidse (hier en hier) om jou te help om skouer aan dié nuwe tegnologiewiel te sit.

Gaan luister en laat weet ons by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. wat jy daarvan dink. Gooi mielies!

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 07 Oktober 2017 verskyn.

Beeld logo

Lees 2869 tye

kommentaar

  • Kommentaarskakel
    Una Engelbrecht
    Una Engelbrecht
    Woensdag, 25 Oktober 2017 11:31

    Ek het ook al "klipgooi" i.p.v. "potgooi" gehoor en dis nie van oorspronklikheid nie; eerder die klepel wat ver van die klok af is!