Die beginsel wat 'n mens altyd moet onthou, is dat taal nie iets is wat deur bleek en gifpennige akademici in stowwerige kantore geskep word en dan in lyste aan 'n dankbare bevolking deurgegee word nie. Die taal behoort altyd in die eerste plek aan sy sprekers, en sprekers steur hulle soms aan die Waarheid en soms nie. Versamelnaamwoorde is by uitstek iets wat deur sprekers geskep word. Dit leef en groei en sterf in die monde van gewone mense, en vir gewone mense (veral die klomp wat honderd jaar gelede met die versamelnaamwoorde vorendag gekom het) is 'n dolfyn 'n ding wat in 'n skool voorkom omdat hy kan swem.
Op dieselfde manier praat ons van 'n swerm bye omdat hulle kan vlieg, al is hulle nie voëls nie. Sprinkane kom ook in swerms voor, al is hulle nie altyd vlieënd nie, en vlermuise maak swerms al is hulle nie voëls of insekte nie. Daarbenewens is kreatiewe taalgebruikers heeltemal gemaklik daarmee om te skryf dat bedelaars, rowers, toeriste en ander groepe mense wat soms 'n irritasie is in swerms voorkom (kyk HAT6 se inskrywing by "swerm"). Punt is: Al weet gewone mense vlermuise is nie insekte of voëls nie en bedelaars kan nie vlieg nie, is gewone mense heeltemal gemaklik daarmee om versamelings vlermuise of bedelaars 'n swerm te noem, want gewone mense gebruik soms logika en talige instink eerder as akademiese kennis wanneer hulle taal maak.
Om in 'n klas te sit en vir kinders te leer dat dolfyne net in 'n skool kan voorkom, is gewoon verkeerd. Want jy kan ook 'n groep dolfyne, 'n versameling dolfyne of 'n kolonie dolfyne kry, en taalkundig is elk van hierdie vetgedrukte woorde 'n versamelnaamwoord. 'n Versamelnaamwoord is nie 'n vaste, voorskryfbare ding nie, dit is deel van 'n sintaktiese konstruksie (naamwoord + naamwoord) waar die eerste naamwoord 'n versameling van die tweede aandui. Sommige van hierdie konstruksies is vaster, bekender en meer tradisioneel as ander en dit kan ons in lyste in handboeke publiseer en aandring dat leerders daarvan kennis neem, maar 'n vraag soos "Wat is die versamelnaamwoord vir x?" is heeltemal ongeldig, want as 'n kind daar skryf "kolonie" is dit korrek en mag dit nie verkeerd gemerk word nie.
Ja, leer asseblief vir kinders dat daar taalreëls is. Gee vir hulle die lys met bekende versamelnaamwoorde. Ja, koop die Afrikaanse woordelys en spelreëls en maak seker jy weet hoe om dit te gebruik. Skryf keurig. Vra as jy nie weet nie. Leer as jy besef jou kennis en opvattings is verouderd of verkeerd. Maar moenie taalgebruikers, veral die jonges, se kreatiwiteit in 'n blik druk met lyste goed wat hulle moet leer en dan sê daar is nie 'n ander manier om 'n ding te skryf nie. Want dié van ons wie se werk dit is om taal te beskryf, weet al: Jy kan hierdie ding wat Afrikaans is nie in 'n blik druk nie. Hy is gewoon te groot en te lewend en te kragtig daarvoor.