Verlede week had hy weer die internet aan die brand toe hy tydens sy VN-toespraak gesê het “Nambië” se gesondheidstelsel is toenemend selfonderhoudend. Kort voor lank moes ons kennis neem van die feit dat Nambië hom aan die Covfefeverdrag onttrek het, of dat Nambië die wêreld se topprodusent van covfefe is.
Maar mense wat in covfefehuise woon, moenie politici met covfefe bestook nie.
ʼn Baie bekende vorm van ʼn taalflater, is die sogenaamde malapropisme – d.i. wanneer jy ʼn verkeerde woord gebruik wat baie soos die ander, korrekte woord klink, dikwels met humoristiese effek.
Dink maar aan Oubaas van Sewende Laan-faam. Hy het byvoorbeeld gesê: “Moenie dink julle kan my die bosse in lei nie”, in plaas van: “Moenie dink julle kan my om die bos lei nie”; of iets was “van epidermiese proporsies” in plaas van (waarskynlik) “epidemiese proporsies”. Sy taalgebruik was al die onderwerp van menige akademiese studie, waaronder ʼn Stellenbosse MA-verhandeling deur Lizl Morden oor hoe sy malapropismes in Engelse ondertitels hanteer is.
Juis in vertalings loop dinge maklik skeef.
In Engels is daar ʼn reuseverskil tussen bear with me en bare with me: In die een geval behou jy jou klere, in die ander nie. Insgelyks is die verskil in Frans tussen J’ai chaud (‘Ek het/kry warm’) en Je suis chaud (‘Ek is ... uhm ... warm’) ʼn kwessie van hoeveel klere jy aanhou.
Jare gelede is ek en kollegas Marné Pienaar en Axel Fleisch by ʼn kognitiewelinguistiekkongres in Spanje. Die wisselkoers knyp en ons vind onderdak in ʼn regte-egte klooster wat deur regte-egte nonne bewoon en bestuur word. Sluitingstyd saans is pront om 23:00. Dan sluit een of ander Gestrenge Suster die poorte, en inkom is daarna min.
Tydens ons eerste aandete (wat onder andere bulonderdele ingesluit het) leer Axel my keurig om “goeienag” in Spaans te sê: “Buenas noches”. Sien, ons beplan om een of ander fles Spaanse kruiedrank (las hierbas) die klooster in te smokkel en ons skelm-skelm op ʼn versteekte stoepie te gaan vermaak. Die son sak somers in Spanje immers eers omstreeks 23:00. Die plan is dus om doodluiters en so onopvallend moontlik die klooster in te slenter, die wakende nonne ʼn goeie nagrus toe te wens, en dan die trappe op te verdwyn.
Op pad herhaal ek oor en oor in my kop: Buenas noches, buenas noches, buenas noches ...
Maar in die spanning van die oomblik, toe Suster Gestrenge voor my staan met poortsleutel in die hand, stamel ek in plaas van buenas noches: “Buenos nachos!”
Axel val op die grond. Ek het pas vir die non gesê sy het heerlike nachos …
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 30 September 2017 verskyn.
