Armoede se 'arm' het lang geskiedenis

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Maandag, 25 September 2017
Gepubliseer in VivA;

Vra Isa Marx via e-pos: “Waarom skryf ons “lankmoedig” en “blymoedig”, maar “armoedig” en nie “*armmoedig” nie? Dit lyk eenvoudig, maar het my goed aan die dink gesit.”

Die geval “armoedig” en sy basisvorm “armoede” is (vir bleeksielakademici soos ekke) gewoon vreugdeskos om dae lank serebrale rittels van te kry ... #siestog

“Armoede” is ʼn baie ou woord in die Germaanse tale en kom steeds voor in Nederlands (armoede; ook armoe, maar dan met ʼn ander betekenis), Duits (Armut), Sweeds, Noors en Deens (al drie armod), Jiddisj (אָרעמקייַט, oftewel oremkayt) en Fries (earmoed).

En wat van ons ander Germaanse taal, Engels? Die boeiende is dat “armoede” om die een of ander rede nie in Engels oorleef het nie. In Oudengels had ons nog iermþu en iermþ (of earmðu volgens ʼn ander woordeboek), en in Middelengels armthe en earmthe, maar dié moes toe plek maak vir die gesofistikeerder poverty wat ʼn afleiding is van die Oudfranse poure en nog verder terug die Latynse pauper (wat beide ‘arm’ beteken). In die res van die Germaanse wêreld het ons maar gewoon oudmodies arm gebly, niks fênsie nie.

Nou moet ons ʼn stukkie morfologie pleeg. In Oudgermaans is die agtervoegsel -oed (toentertyd geskryf as -ōþu en -ōðu) gebruik om abstrakte naamwoorde te vorm uit werkwoorde wat op -ōn geëindig het. In dié tyd was daar ʼn werkwoord armōn wat ‘arm wees’ beteken het. Gooi nou die -ōn in armōn weg en plak -oed daaraan vas, en met 'n hink-stap-sprong is jy by arm+oed, oftewel armoede!

Presies dieselfde proses sien ons in die woord “kleinood”, waar die -ood-gedeelte maar net ʼn variant is van -oed; dus klein+ood = kleinood. En nog ʼn variant van -oed is -aad, soos in sier+aad = sieraad. As dit nou nie jou hart verwarm nie, dan moet jy maar aanvaar jy is afgestomp, sinies en kil.

Die potensiële spellingprobleem van “armoedig” as “*armmoedig” het te make met wat in die taalkunde bekend staan as verkeerde hakieanalise. Na analogie van [lank][moed][-ig] en [bly][moed][-ig] wil ʼn mens nou – doodnatuurlik – die woord gaan analiseer as *[arm][moed][-ig]; “lank”, “bly” en “arm” is immers al drie byvoeglike naamwoorde. Maar ons weet nou die hakies in laasgenoemde is verkeerd: Dit moet [arm][-oed][-ig] wees.

Ons sien dieselfde potensieel verkeerde hakieanalise ook by die woorde “deemoedig” en “ootmoedig”. Eersgenoemde is nie *[dee][moed][-ig] nie, maar wel [deemoed][-ig]; laasgenoemde nie *[oot][moed][-ig] nie, maar [ootmoed][-ig]. Ons ken immers die woorde “deemoed” en “ootmoed”, maar nie “*dee” en “*oot” nie.

Verbandhoudend met verkeerde hakieanalises, is die sogenaamde hakieparadoks. Wannie Carstens se bekendste (selfuitgedinkte) voorbeeld van ʼn samestellende samestelling, is die woord “verstopterioolingenieur”. Met die korrekte hakieanalise kry ons [verstopte riool][ingenieur]: ʼn ingenieur wat hom/haar besig hou met verstopte riole. Maar met ʼn verkeerde hakieanalise kry ons [verstopte][rioolingenieur]: ʼn rioolingenieur wat dringend ʼn purgeermiddel benodig.

En dan is daar ook nog hakieheranalise (rebracketing). “Hamburger” se oorspronklike analise is [Hamburg][er] (iemand – of ʼn broodjie – wat van die stad Hamburg kom). Maar op basis van hakieheranalise loop staan maak ons (eintlik die Engelse) toe [ham][burger], en vervolgens kan jy dan [ham] lekker vervang met [hoender], [vis] en les bes [tofoe] (die hemele behoede ons!).

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 23 September 2017 verskyn.

Beeld logo

Lees 3616 tye