Een van die hoogtepunte van hierdie jaar was die Gladgebek-inisiatief van die Kalaharisirkel van die Kaaplandse Vrouelandbouvereniging. Tannie Bessie Kriek (ja, ek mag haar maar “tannie” noem, want sy is 84 jaar oud, en my ma het my goed grootgemaak) het die vroue daar in die Noord-Kaap in aangevuur om streekstaaluitdrukkings en -woorde in te samel. Uit die meer as 200 inskrywings is die volgende my persoonlike gunstelinge:

- halfjan: vertaling van “half-jack”
- koorsmooi: intensiewe vorm van “mooi”
- hy het die ketel aan die tuit beet: hy pak ʼn saak verkeerd aan
- iemand is gekap maar nie geskaaf nie: iemand het slegte maniere
- 'n pondjie botter: ʼn gesette persoon
- lekker fluitvoet wees: dronk wees
- jansmokkie: daai walgvelletjie op kookmelk of vla
- papnekkie: pasgebore baba (ook genoem ʼn “vars baba”)
- presentkind: stiefkind
- ostrein: span met osse
En dis maar net ʼn mondjie vol van my gunstelinge. Die res van die inskrywings word ook aan woordeboekmakers gestuur, wat dan kan oorweeg om hierdie woorde en segswyses in woordeboeke te verewig.
Boonop stap ta’ Bessie met ʼn R5 000-kontantprys weg!
Maar daar is nog prysgeld (ter waarde van R17 000) op die spel – ook vir jou as stemgeregtigde.
ʼn Paneel van kundiges het uit al die inskrywings deur die loop van die jaar 20 finaliste vir ons jaareindkompetisie gekies. Hier is die finaliste (om te sien wat hulle beteken, gaan na https://varsgebek.org):
- Woorde:
- allekleurtjies
- hommelmonitor
- kophoedvol
- kopwurm
- pampoentyd
- pawiljoenkar
- pylvakparade
- troosvoosheid
- vinkkoors
- voormerrie
- zammaplan
- Uitdrukkings:
- sonder arms rondstaan
- die bruid op elke troue en die lyk op elke begrafnis wil wees
- so geduldig soos ’n dolos wees
- iemand se donkie draf
- tussen “gewond” en “gesond” verskil net een letter
- selfs 'n klip kan dryf, selfs 'n engel kan sink
- iemand wat reën ruik, al is daar nie wolke nie
- so slim soos ’n boom vol uile wees
- jou gesig met ’n ander man se waslap was.
Om jou stem uit te bring en groot pryse los te slaan, gaan na https://varsgebek.org en stem voor die stembus op Dinsdag 12 Desember om 23:30 sluit. Die wenners word op Vrydag 15 Desember op VivA se Facebookblad aangekondig.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 09 Desember 2017 verskyn.
