Stuur Maarten Venter hierdie week vir my ʼn skakel na Adendorff Machinery Mart se webwerf, met die opdrag om hulle Afrikaanse brosjure af te laai en te bestudeer.
Nou kyk, in my tipe beroep ontvang ʼn mens byna daagliks klagtes van ontsteldes en omgekraptes oor die taalgebruik in die-en-daai se publikasie, of dese-en-gene se TV- of radioprogram. Ek verwag dus die ergste.
Heel bo staan: “Sien ons webtuiste vir volledige kontakbesonderhede, wenke, video’s, meer produkinligting en bepalings en voorwaardes.” Ek lees weer. Daar is dan nie ʼn én-ké-lé fout nie?! Wat het geword van “termes en kondisies” wat ons deesdae oral lees en hoor? Wanneer laas het jy gesien dat iemand “kontakbesonderhede” en “produkinligting” korrek skryf? Dit is gewoon ongehoord om ʼn sin sonder ʼn fout te kry! (Nou ja, die punteneuriges sou kon sê dat daar ingevolge 13.35.d van die Afrikaanse woordelys en spelreëls ʼn komma voor die eerste “en” hoort, maar diesulkes is maar vitterig, as jy my vra.)
En so raak ek verdwaald in die brosjure van ʼn volledig tweetalige sakeonderneming wat duidelik nie skroom om geld aan ʼn goeie vertaler en/of taalversorger te bestee nie. Daar is nie ʼn koppelteken, komma of punt uit sy plek nie. Van “62-stuk-gereedskapstel” en “50 mm-waterpomp”, tot “snytap- en splitdraadsnymoerstelle”. Só geskrywe, sonder die vermaledyde verdommingskoppelteken! My tone én hare begin van lekkerkry krul.
En die name van al die Masjiene:
Vasstamper; wisselrigter-sweismasjien; vinnigruilbeitelhouer; metaaldraadsnydraaibank met gangwissel; hidrouliese bandsae (nié *hidroliese nie); pneumatiese naelklinkers; suigtoevoersproeispuite; freesmasjiene (nee, vreesmasjiene is iets anders); voetknipmasjien; kis- en panplaatmetaal-voumasjiene; gliprollers; draaiflensbuigmasjien; banktapgatmasjien; bossiekappers; awegaars; draagbare loopteleskoop.
Ek lees my in ʼn asmatiese euforie in, my vrese vir die masjiene vir ewig verby.
Kan iemand asseblief reël dat dié mense ʼn paar liters Bell’s kry?
Luister ook na die podsending wat oor hierdie rubriek handel.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 09 Maart 2018 verskyn.