Van klanksimboliek is daar sprake as daar in die klank van ’n woord of uitdrukking – wanneer ’n mens dit hardop sê – ’n verband te gewaar is met begrippe en kwaliteite soos donkerte, gewig, gladheid, helderheid, hoekigheid of kantigheid, intensiteit, kleinheid, ligtheid, rondheid, skerpheid, skurfheid, en so meer. Ook as daar ’n bepaalde ooreenkoms of verwantskap aangedui kan word tussen hoe ’n woord of uitdrukking klink en ’n bepaalde gevoel, houding, stemming of psigiese toestand. In sulke gevalle – anders as by onomatopee en klankskildering – het die referent of saak waarna die woord of uitdrukking verwys, met geluid of beweging as sodanig niks te make nie.
Vergelyk byvoorbeeld rododendron met viooltjie en albatros met sysie. Watter een van elke paar is die grootste? Watter een van elke paar is die kleinste? Selfs al het jy nog nooit ’n rododendron of albatros gesien of van een gehoor nie, en nog minder van ’n viooltjie of ’n sysie, sal jy in beide gevalle waarskynlik die korrekte afleiding maak: Dat ’n rododendron, waarvan die grootste soort tot 50 meter hoog kan word, en ’n albatros, die grootste seevoël, waarskynlik groter as ’n viooltjie en die klein, kanarieagtige sysie moet wees. Hoe? Bloot op grond van hoe hulle name klink! Die verskillende klanke laat ’n mens reeds iets van elkeen se eienskappe vermoed.
Die akoestiese geaardheid van klanke en hulle posisie ten opsigte van mekaar, speel by klanksimboliek dus ’n belangrike rol; hoe woorde deur die stembande in die keel en mondholte gevorm word; die motoriese sensasie van die uitspreekhandeling; ritmiese en metriese patrone; die herhaling en/of kontrastering van klanke, en ook hulle duur – hoe lank hulle uitgespreek word; die lengte van woorde, frases en sinne. En daarby hoe die oor van die luisteraar die klanke waarneem; die assosiasies wat hulle by die hoorder, en by die spreker self ook, oproep.
Om klein dingetjies, en eienskappe soos dunheid, helderheid en ligtheid voor te stel, word, byvoorbeeld, stemlose klanke soos /k/ en /t/, en dikwels die hoë voorvokaal /i/ gebruik (net soos dié klanke in die geval van klanknabootsing ook gebruik word om hoë, fyn geluidjies voor te stel).
Om die indruk van iets groots te skep, of eienskappe soos dofheid, donkerte of swaarheid weer te gee, word aan die ander kant dikwels swaar, dreunende stemhebbende klanke aangewend; trillers en eksplosiewe, soos /r/ en /d/, en lang agtervokale, soos /a:/, /o/ en /u/.
Vergelyk, byvoorbeeld, A.G. Visser se “foelie, jasmyn, angelier” en “minjonet” met sy “donkerrooi rose” en hulle “duist’re geheime” in “Rosa Rosarum”. Metafories word na sulke klanke dikwels verwys as helder of lig (“foelie”, “angelier”), of as diep, donker of swaar (“donkerrooi rose”), wat dikwels ’n bepaalde stemming skep, en soms ook spesifieke gevoelens kan oordra of weerspieël: blydskap teenoor droefheid, opgewektheid teenoor terneergedruktheid, sorgvryheid teenoor onheilspellendheid, en so meer.
Hou in gedagte dat verskillende klankmiddele dikwels saam aangewend word. Verskillende soorte klankekspressie vloei dikwels ineen. Klanknabootsing kan oorgaan in bewegingskildering, en bewegingskildering in klanksimboliek.
Ek dra hierdie reeks op aan die nagedagtenis van dr. H.C.T. Müller, by wie ek van die literêre teorie geleer het, maar ook van die woordkuns self. Sy artikel “Klankekspressie: ’n voorstudie” het as bron vir dié drie blogs gedien. Dit is opgeneem in Van Rensburg, F.I.J. (red.). 1975. Die Kunswerk as taal. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.