Eerstens moet jy weet wat daardie "betreklike" in die naam beteken. (Moenie skrik vir terminologie nie, dis gewoon inligting wat jy moet absorbeer, daar is niks vreesaanjaends daaraan nie.) In ʼn sin soos "Is dit jou seun WAT so mooi rugby speel?" betrek die voornaamwoord "wat" inligting (iets) wat vroeër in die sin genoem is. Daardie inligting word die "antesedent" genoem. (Die Engels daarvoor is "antecedent", en dit help om te onthou daardie "ante" beteken "voor". Dis dieselfde "ante" wat jy in poker het, waar dit verwys na die bedrag wat die spelers neersit voor hulle kan speel.) Reg, die antesedent is die inligting wat jy voor die betreklike voornaamwoord kry, en dié inligting word later weer deur die voornaamwoord betrek. In ons voorbeeldsin hier bo betrek die "wat" die inligting "jou seun". As jy nou regtig sintakties wil redeneer daaroor, is daar twee sinne "Is dit jou seun?" en "Jou seun speel so mooi rugby" wat saamgestel is om een sin te vorm, en die betreklike voornaamwoord "wat" is die manier om daardie lastige herhaling van "jou seun" uit te skakel.
Die antesedent kan menslik ("jou seun" in die voorbeeldsin) of niemenslik wees. In ʼn sin soos "Die brood wat hulle vir ons in die koshuis gee, proe altyd muf" is die antesedent "die brood". Uit hierdie twee voorbeeldsinne is dit reeds duidelik dat ons in Afrikaans vir menslike en niemenslike antesedente "wat" gebruik. Hierdie voorbeelde het almal menslike antesedente:
- Die pa WAT die spannetjie afrig, het self rugby gespeel.
- Die onderwyser WAT vir ons wiskunde gee, ken sy storie.
- Die verteenwoordiger van die departement WAT die vorms moet teken, is met verlof.
En hierdie klompie het niemenslike antesedente:
- Die water WAT hier verbyvloei, gaan reguit see toe.
- Kry ʼn hond WAT geskik is vir kinders.
- Dit is ʼn algemene wanopvatting WAT baie ongelukkigheid in die gemeenskap veroorsaak.
"Wie" gebruik ʼn mens net 1) saam met menslike antesedente EN 2) saam met ʼn voorsetsel of saam met "se":
- Die pa van WIE ek jou vertel het, is hier.
- Die onderwyser van WIE hulle so baie hou, gee wiskunde.
- Die verteenwoordiger van die departement WIE se vorms altyd laat is, het bedank.
Die neiging van baie Afrikaanssprekers om "wie" te gebruik vir menslike antesedente al is daar nie ʼn voorsetsel of "se" in die sin nie, is 'n gevolg van blootstelling aan die Engelse patroon (ja, dis ʼn anglisisme):
- The guys WHO installed our fibre were fantastic. X *Die ouens WIE ons optiese vesel geïnstalleer het, was fantasties.
As jy dus ooit ʼn sin maak met "wie" en daar is nie ʼn voorsetsel of "se" rondom die "wie" nie, moet jy begin ankers uitgooi en eers jou werk redigeer.
Jy moet nou vra (as jy tot hier gelees het, is jy ʼn taalnuuskierige en jy moet vra) wat met "wat" plus niemenslike antesedente gebeur wat saam met ʼn voorsetsel optree. Dit verbuig. So lyk dit:
- Die kabel WAAROOR ([oor]+[wat]) sy geval het, is verwyder.
- Die maatreëls WAARMEE ([met]+[wat]) die munisipaliteit water wil bespaar, is onrealisties.
- Dis ʼn giftige slang WAAROP ([op]+[wat]) jy getrap het.
En "wat" plus "se"? Dis ʼn ongewone konstruksie, en waarskynlik iets wat jy net in gesprekke gaan hoor en nie in Standaardafrikaanse tekste gaan lees nie. (Moet ook nie deurmekaar raak hier met die vraende voornaamwoord "watse" nie, dis iets anders.) Ons kan sê "die boeke se omslae" en "die breekgoed se glans", maar as ons sulke konstruksies het waarvoor ons ʼn betreklike woord moet inspan, gebruik ons in StA "waarvan":
- Die boeke WAARVAN die omslae weg is, moet vervang word (nie *"die boeke wat se" nie).
- Daar is breekgoed in die kas WAARVAN die glans verdof het (nie *"die breekgoed wat se" nie).
Wees maar bedag op die uitskieters: Dit is moontlik om vir niemenslike antesedente "wie" te gebruik, maar dis in baie spesifieke gevalle:
- Die skool WIE se uitslae eerste bekend gemaak word, is die wenner.
- Dit is die einste maatskappy WIE se samewerking bedenklik was.
In hierdie gevalle is die antesedent oënskynlik niemenslik, maar ons bedoel telkens "die mense verbonde aan". Op papier is die antesedent dus niemenslik, maar in ons koppe weet ons dis mense van wie ons praat. Dieselfde gebeur met diere, veral deesdae waar ons troeteldiere ons kinders geword het:
- Dis die Jack Russeltjie WIE se kos so vol miere word.
- Dis nou my hondekinders, Nala en Gracie, van WIE ek julle al so baie vertel het.
Een laaste voetnoot oor die verhouding tussen die antesedent en die betreklike woord: Taalgebruikers hou daarvan om die betreklike woord so na as moontlik aan die antesedent te hê. Ons koppe is geprogrammeer om die ding net voor die betreklike woord as die antesedent te beskou. Ons kan so ʼn bietjie uitstel en ander inligting tussen die antesedent en die betreklike woord plaas, byvoorbeeld:
- Die vliegtuigie met sy afstandbeheer en handgeverfte embleme WAT in China vervaardig word, kos maar R99,95.
Dis egter reeds in hierdie voorbeeld moeilik om kop te hou wat die antesedent is (vliegtuigie, afstandbeheer of embleme). By die volgende voorbeeld het dinge erg skeefgeloop:
- Die skeppings van hierdie jong ontwerper WAT deesdae in glanspersoonlikhede se aantrekkamers hang, is voorwaar iets om te aanskou.
Hou dus maar jou kop, jou rokkies, en jou antesedent en betreklike woord bymekaar.
VivA-groete
Sophia