Bywoorde en byvoeglike naamwoorde kry -er en -ste. Dit sluit voorbeelde in soos die volgende:
- mooi, mooier, die mooiste
- groot, groter, die grootste
- algemeen, algemener, die algemeenste
- eenvoudig, eenvoudiger, die eenvoudigste
- bekoorlik, bekoorliker, die bekoorlikste
- korrek, korrekter, die korrekste
- interessant, interessanter, interessantste
Bywoorde en byvoeglike naamwoorde wat op e eindig, kry meer en mees. Wees versigtig, dis woorde wat in die onverboë vorm op ʼn e eindig. Dit sluit met ander woorde nie woorde in soos interessante, eenvoudige of geduldige nie, want dié woorde het in die onverboë vorm nie ʼn e nie.
- beskonke, meer beskonke, mees beskonke
- ervare, meer ervare, mees ervare
- volwasse, meer volwasse, mees volwasse
Deelwoorde wat as bywoorde of byvoeglike naamwoorde optree, kry -er of meer en -ste of mees.
- gekompliseerd, gekompliseerder, gekompliseerdste OF gekompliseerd, meer gekompliseer, mees gekompliseerde
- oplettend, oplettender, oplettendste OF oplettend, meer oplettend, mees oplettende
- bekommerd, bekommerder bekommerdste OF bekommerd, meer bekommerd, mees bekommerde
- sprankelend, sprankelender, sprankelendste OF sprankelend, meer sprankelend, mees sprankelende
Dan is daar ʼn klas wat beter en beste neem. Dit is bywoorde en byvoeglike naamwoorde wat volgens gehalte gradeerbaar is.
- gekwalifiseer, beter gekwalifiseer, die beste gekwalifiseer
- toegerus, beter toegerus, die beste toegerus
En natuurlik, die onvoorspelbare klompie, wat hulle eie patroon volg:
- goed, beter, die beste
- graag, liewer, die graagste
- baie, meer, die meeste
As jy met leerders of taalaanleerders werk, wys ook maar op die grootste fout: Ons gebruik nooit die -er en -ste saam met meer en mees nie. Die meeste mense gaan nog die mees eenvoudige aanvaar al sê die AWS dis nie reg nie, maar oor die mees eenvoudigste gaan hulle kla.
Ek hoop jy weet nou meerder. Mag jy hierna beterder weet hoe om trappe van vergelyking op die mees beste manier te skryf.
VivA-groete
Sophia