Hoekom is “huidiglik” vir menige taalpraktisyn én gebruiker ʼn doring in die vlees? Mense voer hoofsaaklik drie argumente teen “huidiglik” aan:
- Hulle sê: Die gebruik van “huidiglik” getuig van deftigdoenery en slimpratery. Ek sê: Dit is ʼn kwessie van persoonlike smaak en oordeel, maar dit beteken hoegenaamd nie dat “huidiglik” foutief is nie.
- Hulle sê: “Huidiglik” volg nie die patroon van hoe Afrikaanse woorde gevorm word nie. Ek sê: Daar is meer as honderd Afrikaanse woorde wat op -iglik eindig, soos “genadiglik”, “naarstiglik” en “wettiglik”. Onse “huidiglik” is een van hulle en bestaan uit hede+ig > huidig+lik > huidiglik. (Daardie “huidig” kom al in die agtste eeu in Oudhoogduits voor!) Die agtervoegsel -lik kan meerdere rolle vertolk, onder andere: (a) met ʼn nadrukfunksie – as iemand jou “vuriglik” soen, maak jou knieë anders as wanneer dit net “vurig” is; en (b) om aan te dui dat ʼn woord ʼn bywoord is – mense skryf eerder “hy skenk barmhartiglik geld” as “hy skenk barmhartig geld”.
- Hulle sê: “Huidiglik” is ʼn anglisisme, want dit ʼn oorklanking van “presently”, en dit verdring vorme soos “tans”, “deesdae” en “teenswoordig”. Ek sê: Deur taalkundige en korpusanalise kan ons aantoon dat dit glad nie waar is nie. Byvoorbeeld, uit ʼn vergelyking van koeranttekste oor ʼn tydperk van twee dekades, bly al hierdie woorde se frekwensie in wese onveranderd (met “tans” wat verreweg die meeste voorkom).
Prof Johan Combrink het reeds in 1995 gesê dat “huidig” en “huidiglik” deel van die “taalskat van meningvormende Afrikaanssprekendes” is; in 2003 bepleit dr Anton Prinsloo ook dat “huidiglik” nie stief in woordeboeke behandel moet word nie. Nog 15 jaar later en byna 45 jaar ná die eerste verskyning van “huidiglik”, toon my navorsing ook dat dié ou woordjie sy staning in Afrikaans gemaak het.
Gaan luister gerus by viva-afrikaans.org/lees-luister/podsendings waar ek uitgebreid oor “huidiglik” praat.
Maar ai, ten spyte van alles, elke keer as ek “huidiglik” kan of mag sê, struikel ek oor my eie tongval. Jonk gewend en oud gekend …
Luister ook na die uitgebreide podsending oor huidiglik.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 08 Junie 2018 verskyn.
