Hy was so kwaad, jy kon ’n aartappel in hom gaarmaak.
Hy is ’n ongeskilde aartappel, dié ruwe, ongepoetse vent.
Kan ’n mens aartappels in iemand se ore plant? Dan het hulle seker lank laas ’n waslap gesien.
Iemand wat sy of haar aartappels nie twee keer skil nie, praat een maal klaar; doen ’n ding een maal en doen dit reg.
Gedra kinders hulle sleg? Onthou dan wie se oogappels hulle is. Die appel val nie ver van die boom nie; die kind aard meestal na die ouer.
Vir ’n appel en ’n snaps werk ’n mens jou nie oor ’n mik nie. ’n Appel en ’n snaps is iets gerings of niksbeduidends.
As jy vir ’n appel en ’n bokstert, of ’n appel en ’n ei (let wel: nie ’n ui nie, maar ’n eier), iets spotgoedkoop kry, onthou dan om ’n appeltjie vir die dors te bewaar. Hou altyd iets oor vir later. Maar pasop dat iemand jou nie appels (of dalk perdedrolle) vir vye verkoop nie, want dan word jy verkul.
As jy wen, dra jy die goue appel weg.
As ’n perd onder die ruiter staan en appel maak, pronk hy.
Het jy ’n appeltjie met iemand te skil? Moet jy iemand onder vier oë spreek om ’n saak uit te praat of hom of haar te berispe. Dan is dit dalk ’n onaangename turksvy, ’n suur appel wat jy moet deurbyt – onaangenaam, maar noodsaaklik.
As ’n man appels gooi, of vir iemand appels leen, slaan hy met die vuis. Appelkose vir die goddelose, sal sommige sê; wie sleg is, verdien sure ondervindings. Maar sorg dat jy weet hoe om jou twee pere te gebruik, as jy wil baklei.
Plant jy beet tussen jou beddings? Dan praat jy Afrikaans met Engelse woorde tussenin en maak jy taalpuriste die boontjies in. As jy self die bone in raak, of in die bone sit, is jy in die moeilikheid.
Kom ’n mens êrens vir spek en bone, of spek en boontjies, rig jy daar niks uit nie.
Weet jy hoeveel blou boontjies vyf maak? Dan het jy die waarheid ontdek. Wil jy iemand op haar plek sit? Beduie dan vir háár hoeveel blou boontjies vyf maak.
’n Heilige boontjie hou hom vroom; haal Farisese streke uit, sê die WAT.
Kom daar boontjies van iets, kom daar niks van nie.
As jy iemand in die boontjies kry, fop jy hom. Maar onthou: Boontjie kry sy loontjie; wie kwaad doen, word gestraf.
Daan en Faan lyk soos twee boontjies op mekaar, soos vinkel en koljander; die een is nes die ander. Soos twee boontjies stem hulle ook oor alles saam, al glo ander daar ook dadels van. Al betaal jy my ook dadels by die jaart, sal ek dit nie glo nie.
As daar dadels van iets kom, kom daar ook niks van nie.
Is iemand ’n doring, ’n bielie. Wil jy hom of haar vlei? Sê dan: Jy is darem ’n ou dadel(pit), jy!
Werk die verhouding nie uit nie? Moenie treur nie. Daar’s nog baie koejawels aan die boom. Maar moet nou nie ’n groen koejawel, ’n jong, onervare snuiter kies nie. Ook nie ’n hardekoejawel, ’n koppige, astrante, eiewys persoon nie. Bly van inkoejawel mense en dinge liewer weg. Dink ook twee maal oor iemand wat nie pruim – nie boe of ba – kan sê nie. En loop lig vir ’n rissiepit.
Onthou: “Plesier is nes ’n jong komkommer, as jy hom pluk, verlep hy sommer,” het F.W. Reitz gesê. En Piet Cillié, komkommerkoel: “Eet jou rape eerste!”
Laat jy jou knolle vir sitroene verkoop? Dan is jy ’n pampoen; ’n pampoenkop wat jou allerhande dinge laat wysmaak. Dan het jy ’n pampoenbril op; skille oor jou oë, wat jou dalk net in tamatiestraat kan laat beland, waar jy met die gebakte pere bly sit.
En dis nie sommer ’n patat nie. Dis die reine waarheid.
Wie ken nóg sulke, maar nuwe, nog onopgetekende uitdrukkings, soos die Varsgebekwenner “elke moer wil ’n ertappel wees”?
Toe. Uit met die mandjie patats. By viva-afrikaans.org/varsgebek.
Ek gaan nou eers ’n kwepertjie kneus. ;-)
’n Groot deel van Afrikaans se idiomeskat is reeds etlike honderde jare oud. Baie van ons spreekwoorde en gesegdes gaan selfs terug tot vorige millennia. Heelparty dateer van die Griekse en Romeinse mitologie. Sommige is aan oeroue fabels ontleen. Talle kom uit die Bybel. Nog ander uit die Middeleeue en die riddertyd.