Sedert 1928 vind ’n internasionale linguistiekkongres elke vyf jaar plaas. Ná die eerste een in Nederland het byeenkomste gevolg in Switserland (Genéve, 1931), Italië (Rome, 1933), en Denemarke (Kopenhagen, 1936). Die volgende kongres, wat in 1939 in België (Brussel) gehou sou word, is weens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog afgelas.
Ná die oorlog is die kongresse hervat. In 1948 het taalkundiges van dié tyd in Frankryk (Parys) vergader, in 1952 in die Verenigde Koninkryk (Londen), in 1957 in Noorweë (Oslo), in 1962 in die VSA (Cambridge, Massachusetts), in 1962 in Roemenië (Boekarest), in 1972 weer in Italië (die keer in Bologna), in 1977 in Oostenryk (Wene), in 1982 in Japan (Tokio), in 1987 in Duitsland (Berlyn), in 1992 Kanada (Quebec), in 1997 weer in Frankryk (Parys), in 2003 in Tsjeggië (Praag), in 2008 in Suid-Korea (Seoel), en in 2013 die tweede keer in Switserland (Genéve).
Vanjaar, in 2018, was dit Suid-Afrika se beurt.
Van 2 tot 6 Julie is die Internasionale Kongres van Taalkundiges (die International Congress of Linguists) vir die eerste keer op die Afrikavasteland aangebied. In die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (die Kiks, beter bekend as die CTICC). Hier het taalkundiges uit tientalle lande verlede week byeengekom en oor vyf dae, in 10 parallelle sessies, sowat 650 referate gelewer en altesaam 27 werkswinkels gehou. In aansluiting by die kongrestema: Die dinamiek van taal.
’n Legio onderwerpe is aangeroer – uit die historiese taalkunde; morfologie; sintaksis; taaltipologie; fonetiek en fonologie; psigolinguistiek; semantiek; pragmatiek; leksikografie; sosiolinguistiek; taalvariasie, taalverskeidenheid, taalverandering; die invloed van migrasie en globalisering op taal; situasies waarin verskillende tale met mekaar in kontak is; meertaligheid; taalonderrig en taalbeleid; ook gebaretaal.
Genoeg om die beker te laat oorloop van enigiemand wat selfs maar enigsins in taal belangstel!
Die kongres is bygewoon deur van die wêreld se voorste taalkundiges. En Suid-Afrikaanse navorsers – veral ook jong taalkundiges – het geskitter! Te veel om te noem, in die vrees dat ek iemand gaan oorslaan.
Besoek dus liewer self die webblad, icl20capetown.com, en kyk na die indrukwekkende program van 87 bladsye en 471 bladsye opsommings. Soek op Twitter die hutsmerk #ICL20 vir die intydse indrukke van kongresgangers, en hoor in die meegaande podsending ’n paar van hulle stemme.
Vir ’n heuglike taalkundeweek, puik georganiseer: Dankie aan die voorsitter van ICL20, prof. Rajend Meshtrie van die Universiteit van Kaapstad se linguistiekdepartement; die CIPL; die Suider-Afrikaanse taalkundeverenigings (LSSA, SAALA, ALASA, WOCAL en Afrilex); en die vriendelike personeel van Kaapstad se wêreldklaskonferensiesentrum.