Ek is bang dat, wanneer ek vir hulle die morfologiese proses van inkorting verduidelik, ek nie die korrekte letters in die regte volgorde van die LGBTQQIP2SAA+-akroniem sal gebruik nie. Of sê nou maar ek spreek die “r” in “allomorf” nie duidelik genoeg uit nie?
Ek is bang om morfologiese verskynsels in verskillende dialekte aan die hand van voorbeelde te illustreer, want dalk word ek van kultuurtoe-eiening (“cultural appropriation”) aangekla. Of miskien juis die teenoorgestelde: Die woord “dialek” brandmerk my dalk as ʼn liberalistiese kommunis wat te veel klem lê op ʼn inklusiewe beskouing van Afrikaans.
Ek moet dalk nie meer die morfologie van manlike en vroulike persoonsname verduidelik nie, want dit etaleer dalk genderbinarisme wat iemand in die klas ongemaklik kan laat voel. Maar as ek dit uit die kurrikulum weglaat, maak ek my dalk juis skuldig aan ontkenningsideologie (“denialism”).
En ek is bang om hulle “gogga”, “bokkie” of “skapie” te noem, soos ek hulle – mý studentkinders – nog al die jare liefdevol noem. Vanmelewe se dae het ek sommer maklik vir ʼn sukkelende student wat onverwags ʼn toets deurgekom het ʼn drukkie gegee. Deesdae raak ek niemand meer aan nie. Dalk moet ek ook maar voortaan formeel volstaan met ʼn dames-en-here? Maar o wee, dan is ons terug by binarisme, by alliansieskap (“allyship”) en dat ek dalk nie bewus-empaties (“woke”) genoeg is nie. As ons Afrikaanse terme vir “snowflake” en “libtard” had, was ek dalk een van hulle?
Is ek regtig bang vir millenniërstudente? Nee, ek is eintlik woedend-kwaad vir die hutsmerkisme (“hashtagism”) van die bloed-en-vleesdorstige zombies op überlinkse en hiperregse Facebook en Twitter. Want dis hulle, nee, eintlik óns wat ʼn nuwe generasie van hipersensitiewe fanatici geskep het, ʼn hele wêreld wat mediageil en skuimbekkend sit en wag om met duimpie-af die wraakgierige internetgladiatore op mekaar los te laat.
Skrywer-joernalis Christopher Hitchens het gesê: “Those who are determined to be offended will discover a provocation somewhere. We cannot possibly adjust enough to please the fanatics, and it is degrading to make the attempt.”
In die 1970’s is ons gemuilband deur wette en publikasierade. Ons spraak is in die 1990’s kortstondig bevry deur ʼn wêreldwyd volprese Grondwet. En nou? Nou word ons ingekerker deur ʼn tydsgees wat uiteindelik geleer het: Die hutsmerk is magtiger as die swaard. #hiephiephoera
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 06 Julie 2018 verskyn.
