Steek kers op by my kollega, prof Gerhard van Huyssteen. Sommer gou doen hy klinkklare antwoorde aan die hand. Ek probeer hier so bondig moontlik opsom wat hy gesê het.
Kom ons begin net eers by die definisies. Ek dink ons het almal lank genoeg onder Afrikaansonderwysers deurgeloop dat ons dit onthou:
Homonieme is verskillende woorde wat etimologies verskillende oorspronge het en (toevallig) in Afrikaans dieselfde klink en dieselfde gespel word. As jy ooit twyfel oor die term, onthou dat ons die woord uit Grieks kry waar homo 'dieselfde' en onoma 'naam' beteken het. Homonieme is dus letterlik dieselfde naam wat vir verskillende dinge gebruik word.
Daarteenoor is ʼn poliseem een woord wat verwante betekenisse het. So ʼn woord het ʼn bepaalde oorsprong, maar het met verloop van tyd betekenisuitbreiding ondergaan sodat dit in verskillende kontekste verskillend aangewend word. Die term kom ook uit Grieks, waar poli- 'baie' of 'veel' beteken het en sem verwys het na 'teken'. Baie betekenisse, sien.
Let mooi op die onderskeid:
homonieme = verskillende woorde, verskillende oorspronge, lyk en klink dieselfde, verskillende betekenisse
polisemiese woord = dieselfde woord, dieselfde oorsprong, lyk en klink dieselfde, verwante betekenisse
Nou goed, in my lys homonieme teken ek onder andere die volgende op:
| as | dit wat oorbly as iets verbrand het, bv. As is verbrande hout. | van ’n motor, bv. Ná hy oor die klip gery het, is die motor se voorste as gebuig. | indien, bv. Jy gaan harder moet leer as jy wil slaag. |
| by | insek wat heuning maak, bv. Daar is ʼn by wat die hele tyd teen die venster zoem. | in die nabyheid, bv. Ek hou meer daarvan om by die huis te bly as om uit te gaan. | |
| dig | toe, bv. Maak seker al die deure en vensters is dig sodat die reën nie inkom nie. | poësie maak, bv. Die digter dig met woorde. | |
| eg | nie vals nie, bv. Hierdie skildery is nie ʼn namaaksel nie, dit is eg. | plaaswerktuig, bv. ʼn Eg word gebruik om vore in ʼn land te maak. | huwelik, bv. By ʼn troue word twee mense in die eg verbind. |
| graaf | instrument waarmee ’n mens spit, bv. Spit die bedding met ʼn graaf om. | titel van ʼn edelman, bv. Die graaf en gravin het die bal bygewoon. | |
| ken | onderste deel van die gesig, bv. Die bokser het sy opponent op die ken geslaan, | oor kennis beskik, bv. Ek gaan nie verder leer nie, ek ken my werk. | |
| leer | toestel met sporte waarteen jy kan opklim, bv. Staan op die leer as jy die portrette ophang, anders gaan jy nie bykom nie. | inligting bemeester, bv. As jy nie leer nie, gaan jy nie slaag nie. | gelooide vel van diere, bv. Hy dra net skoene van egte leer. |
| lewer | orgaan in die liggaam, bv. Geelsug is ʼn siekte van die lewer. | verskaf, bv. Plaaslike boere lewer al die groente vir die gastehuis. | |
| pers | ʼn kleur, bv. Pers klere word dikwels gedra om dood of rou aan te dui. | ʼn instrument wat druk uitoefen, bv. Plaas die olywe in ʼn pers om die olie uit te druk. | |
| rys | graansoort, bv. My gunstelingkos is kerrie en rys. | uitstyg, bv. Plaas die gekniede deeg op ʼn warm plek sodat dit behoorlik kan rys. | |
| steel | lang handvatsel van ʼn instrument, bv. Hou die besem aan die bokant van die steel vas. | diefstal pleeg, bv. As jy mense se geld steel, is jy ʼn misdadiger. | |
| vee | plaasdiere, bv. Die vee moet gereeld teen siektes ingeënt word. | handeling om die grond skoon te maak, bv. Vee bietjie die stof met ʼn besem bymekaar. | |
| vertrek | kamer, bv. Almal in die huis het in een vertrek bymekaargekom. | begin met ʼn reis, bv. Wanneer vertrek julle Kaap toe? |
Waar ek toe vasval, is by die woord druk. Want omtrent in elke boek is druk as ʼn homoniem aangeteken, maar Gerhard slaan sommer dadelik ʼn spyker in druk se homonimiese doodskis: druk, seg hy, is een polisemiese woord, nie twee homonimiese woorde nie.
Ek gaan kyk, en ja, sowaar – al die betekenisse wat ek in my lys het (ʼn druk gee, druk besig, druk ʼn papier met ʼn duimspyker vas) het te doen met die oorspronklike betekenis van 'ʼn krag op iets uitoefen' (in Engels: 'pressure').
Nou hoe op aarde moet ʼn arme tweedetaalleerder in graad agt weet wanneer woorde homonieme is en wanneer ʼn woord polisemies is as die handboekskrywers so dwaal? Maklik, sê Gerhard: Jy slaan na. (Dis natuurlik die antwoord op enige navraag, maar goed, hierdie een is darem maklik op te spoor.)
Die woordeboekmakers het hier vir ons al die werk reeds gedoen, As ʼn mens in ʼn woordeboek soos die HAT of WAT naslaan, sal jy sien dat daar by die woord druk slegs een inskrywing is. Ja, daar is ʼn klomp betekenisse wat onder druk gegee word (die HAT dui byvoorbeeld aan dat dit ʼn s.nw., ʼn ww., ʼn b.nw. of ʼn bw. kan wees), maar dis betekenisse vir een woord. Polisemies, volgens die definisie hier bo.
So lyk die inskrywing vir druk in die HAT (ek knip en plak hier, iets wat ek normaalweg nie doen nie omdat ek glo woordeboekmakers se werk moet beskerm word, maar ek wil graag illustreer hoe die inskrywing lyk):
druk
◙ ww. [het gedruk]
1 krag uitoefen op iets: ’n knoppie druk • in ’n skrum druk • ’n gat in iets druk.
2 aan ’n (knellende/persende) krag onderwerp: iemand se hand druk • sap uit vrugte druk • Sy skoene druk hom.
3 letters/afbeeldings/ens. op papier aanbring: ’n boek/koerant (laat) druk • met die hand of ’n stempel gedruk.
4 (rugby) die bal met die hand(e) in die doelgebied neersit: ’n drie druk.
5 vinniger, met haas probeer vorder; aandruk: Druk die perde bietjie dat ons voor sononder tuis kan wees.
6 (figuurlik) nadruk/klem op iets lê: Hy druk op die feit dat dit nodig is.
7 (figuurlik) moeilik maak; ’n onaangename las wees: gedruk word deur geldelike verpligtings • Die nood druk my.
8 (figuurlik) afwaarts dwing: pryse na onder probeer druk.
◙ s.nw. [drukke; drukkie] [afk. dr.]
1 knellende/persende krag: druk op iets uitoefen • atmosferiese/hoë/lae/konstante druk • lugdruk.
2 liefkosende/toegeneë omhelsing: Hy het haar met ’n liefderike druk gegroet. • Gee my nog ’n drukkie.
3 keer wat gedruk word: ’n druk met die hand • al die drukke op die kitaar ken.
4 (drukkuns) (a) handeling van te druk: die druk van ’n boek/tydskrif/koerant.
(b) al die eksemplare saam wat gelyktydig gedruk is (drukoplaag), of een eksemplaar daarvan: die agtste druk van die sesde uitgawe van ’n woordeboek • eerste drukke versamel. Vgl. uitgawe
(c) letters/ens wat gedruk is; drukwerk: Ek kan die fyn druk nie lees nie. • groot/klein/kursiewe/vet druk.
5 (figuurlik) dwingende eis: druk om iets te doen • aan druk toegee.
6 (figuurlik) las; belemmering: die druk van belastings/armoede.
◙ b.nw., bw. [druk, drukker, die drukste]
1 met baie werk; bedrywig; aktief: ’n druk dag beleef.
| dit druk hê baie werk hê; besig wees.
2 lewendig; beweeglik; voortdurend: druk aan die gesels wees • ’n dokter wat druk besoek word • druk verkeer.
Daarteenoor lyk ʼn woordeboekinskrywing vir steel so in die HAT:
steel1 s.nw. [stele; steeltjie]
1 lang handvatsel; buis; skag: die steel van ’n besem/byl/hamer/hark/lepel/vurk/lans • die steel van ’n tabakpyp.
2 (botanie) stingel van ’n blaar/blom/vrug: die steel van ’n roosblaar/lelie/peer • Snyblomme met lang stele is gesog. • ’n reguit/kaal/harige steel.
[Grieks steleos]
► steelloos
steel2 ww. [het gesteel]
sonder toestemming wegneem of vir jou toeëien: ’n Dief het my selfoon gesteel. • voorraad van jou werkgewer steel ◊ Jy mag nie steel nie (Eksodus 20:15). ♦ (ook figuurlik): iemand se idees steel • ’n skrywer wat by ander skrywers steel.
Die belangrike ding om hier van kennis te neem, is die nommers in boskrif (Engels: superscript) langs die twee inskrywings vir steel. Hierdie nommers dui vir ons aan dat ons nie met een woord met verskillende betekenisse te doen het nie, maar met twee verskillende homonieme. Let op dat dit nie by druk so aangedui word nie. Al die betekenisse vir druk word onder die een inskrywing (sonder die nommer) geplaas. Alles is betekenisse van een polisemiese woord.
Mag dit jou uit jou homonimiese hel en jou polisemiese druk haal. En jou herinner dat jy nooit taalkunde mag pleeg sonder ʼn woordeboek nie.
VivA-groete
Sophia