Tot nou toe kon ek – jammer genoeg – nog nie die hipotese ten aansien van Afrikaans verkeerd bewys nie. My verbete en swetende soektog na regte-egte Afrikaanse nuutskeppings van 2018 lewer niks op nie. Op LitNet kry ek woorde-van-die-jaar soos afspraakmoord, demoondwelm, grondgryp, grondonteiening, gryswater, populisme, Ramaforie, rommelstatus, sekspes en vergrypkyk. Alles fraai en so, maar de laaste een van hulle is gewoon vertalings uit Engels.
Jammer dan ook dat ons nog nie lekker vertalings van hande vol eietydse Engelse woorde het nie, byvoorbeeld farshoring en nearshoring (om dienste na ver- of nabygeleë lande uit te bestee), flexitarian (ʼn nie-rigiede vegetariër), hoardroab (klerekas van iemand wat klere opgaar), snapplause (om met vingers in plaas van hande applous te gee), youie (die teenoorgestelde van ʼn selfie), t-rexing (om met twee vingers op jou selfoon te tik) en al die ander -ing-woorde soos gaslighting, lampshading, voldemorting, sportswashing, race-tagging, en so meer.
My hipotese sal dalk wel aangepas moet word, want dit wil vir my lyk of daar in Nederlands (en ander eentalige gemeenskappe) tog ʼn klomp inheemse nuutskeppings is. Dalk is die Nederlandse gemeenskap meer innoverend, of dalk is dit maar net omdat die Instituut vir die Nederlandse Taal ʼn toegewyde projek oor en webwerf vir Nederlandse neologismes het.
Hier is ʼn paar 2018-woorde wat vir my lyk of hulle nie oorspronklik in Engels geskep is nie (en ter wille van verstaanbaarheid gee ek die direkte Afrikaanse vertaling):
- lokbra: ʼn stukkie ondergoed wat die polisie gebruik om ʼn winkeldief mee uit te vang
- windmeulekstremisme: radikale verset teen die groeiende aantal windmeulens om groen elektrisiteit mee op te wek
- verstoptimisme: neiging om negatiewe nuus te versteek (verstop) deur dit doelbewus positief te verwoord
- sedehond of spermahond: polisiehond wat opgelei is om spermaspore van verkragters en aanranders te vind (maar in Engels is ’n sperm dog klaarblyklik ’n onbeholpe Don Juan)
- liefdesnomade, gevoelseggo’s, verlangpaniek: nuutskepping van die Nederlandse verhoudingskundige Rika Ponnet
Wie weet, dalk is 2019 die jaar van nuwe Afrikaanse uitvindings? Tot dan maak ek my maar skuldig aan ʼn bietjie onskuldige boney m-ing.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 21 Desember 2018 verskyn.
