Die woord bleshoender is vir my een van daardie lekker Afrikaanse woorde: ’n Mens hoef nie te “leer” wat dit is nie, die woord self beskryf dit. (Soos byvoorbeeld ook vuurhoutjie.) In Duits is die woord soortgelyk, naamlik Bleßhuhn (ook Bleßralle). Die bleshoender is glad nie een van die hoenderagtiges nie, maar in die volksmond word name nie volgens taksonomie gegee nie, maar hoe dit vir die taalgebruikers lyk.
In heelwat ander tale moet mens ’n spesifieke woord leer. In Nederlands heet dié voël meerkoet en in Engels coot. Taalgeleerdes verskil oor watter taal die woord uit watter een oorgeneem het. Daar is egter ’n Engelse van, Cote, wat reeds in die dertiende eeu gebruik is. Selfs dan kon dit ’n Nederlandse oorsprong gehad het.
Die geluid wat die bleshoender maak, kan redelik maklik nagemaak word: Hou jou lippe styf op mekaar en sê “pomp”.
Die bles-gedeelte van die naam kan óf ’n wit kol óf ’n haarlose of blink (kop) beskryf. In hierdie geval, dink ek, is dit al twee. By ’n vosbles(perd) sal dit slegs ’n wit kol wees, asook by die blesbok. Inderdaad gebruik die Basotho die woord blesbok, “boleseboko”, vir die bleshoender – omdat die bleshoender se wit kol hulle aan die blesbok herinner. Die Xhosanaam, “unomkqayi”, verwys ook na ’n bleskop.
Ander woorde verwant aan bles is, onder andere, bleek, bleik en blas, asook Engels blaze – wat nogal ’n blink kaalkop mooi beskryf.
Die bleshoender is in sommige streke bekend as ’n “waterhoender”, maar dis blykbaar nie baie algemeen nie. In die eerste deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, by die inskrywing onder bleshoender, is daar ’n kruisverwysing na rooibleshoender. Ongelukkig is daar in die betrokke deel wat “R” bevat (Deel xiii) en wat bykans ’n halwe eeu later verskyn het, geen inskrywing onder rooibleshoender nie.
In Sketches of South African Bird-Life deur Haagner en Ivy (1907) word die Afrikaanse naam vir die Gallinula chloropus (nou bekend as die grootwaterhoender) aangegee as “Rooi-bles Hoender”.
’n Spoorweghalte op die Tuinroete heet Bleshoender.
