Deur Pieter Bosman
I
In ’n artikel oor “Soorte neste wat voëls kan maak”, wat in ’n ou Landbouweekblad verskyn het (en ek bedoel óúd, gedateer 29 Maart 1922!), lees ek van “... die krokodilvoëltjie wat haar eiertjies in die sand lê en dit toeskop as daar mense in die nabyheid kom”.
Nou ja, wat op aarde is ’n krokodilvoëltjie? Dit klink asof die skrywer, ene P.R.G., aanvaar dat almal weet wat dit is. Miskien het die lesers van sowat honderd jaar gelede dit geweet, maar in 2018 het ek geen benul nie en kan ek nie aan P.R.G. skryf en om inligting vra nie.
Deur Pieter Bosman

Die swart bleshoenders dryf verby
agter die skraal wit riet
en die hele grys vleilandskap word
vol óú verdriet
NP van Wyk Louw, “Seekoevlei”
Deur Pieter Bosman
Heelwat voëlname is beskrywend van die voël se voorkoms of gedrag. Dink aan oranjeborsboslaksman, kwikstert, bronsvlerkdrawwertjie, bontkiewiet, ensovoorts – almal name wat amper “vanselfsprekend”, hoewel ietwat verbeeldingloos, is. Aasvoëls se naam val in hierdie groep. Hulle vreet “aas”; met ander woorde, iets wat reeds dood is. Taalkenners is onseker of die woord aasvoël ’n Afrikaanse skepping is, aangesien dit onbekend in Nederlands is (die woord gier word gebruik), tog bestaan die woord Aasvogel wel in Duits. Hoogdrawende Afrikaanssprekers gebruik ook “gier”.
Deur Pieter Bosman
Na aanleiding van my vorige artikel oor kraaie het ek verder gedink oor in watter groot mate kraaie ’n rol speel in veral die Europese kultuur. Die alombekende fabels van Aesopus (van ongeveer 600 VHJ) beskryf onder meer hoe ’n kraai water uit ’n kruik kry deur klippies daarin te gooi – gedrag wat deur hedendaagse navorsing bevestig is – en ook hoe ’n kraai ’n slinkse jakkals uitoorlê het.
Deur Pieter Bosman
Wanneer ’n mens na die volksname van voëls kyk, val dit op dat daardie voëls wat gewoonlik naby mense leef, heelwat verskillende noemname het. Dink aan die bokmakierie, janfrederik, tiptol, ensovoorts.
Die uitsondering op hierdie reël is die kraai. In Suid-Afrika het die drie inheemse kraaie elk slegs een alternatiewe noemnaam: swartkraai – koringlandkraai; witborskraai – bontkraai (mantelkraai); en withalskraai – rinkhalskraai.
(’n Volksnaam vir neushoringvoëls is boskraaie, hoewel hulle nie aan kraaie verwant is nie.)
Deur Pieter Bosman
Enige boek wat die oorsprong van woorde bespreek, waarsku teen sogenaamde “volksetimologie” – dit is waar mense (leke sowel as kenners) die oorsprong van ’n woord verklaar deur na ooglopende ooreenkomste tussen woorde te verwys.
By wielewaal is die begeerte groot om in dié slagyster te trap. Elke Afrikaanssprekende kind ken die kleuterrympie waarin die woord wieliewalie voorkom, ’n vervorming van die Nederlandse woord wielewaai, wat beteken ‘om in die rondte te draai’.