Die naam van die pragtige voël wielewaal klink asof dit ook hierdie oorsprong en moontlik ’n verband met dié betekenis het. Tog kan ’n mens amper nie verder van die waarheid wees nie.
Die enigste ooreenkoms tussen wielewaal en wieliewalie is dat die voëlnaam ook uit Nederlands na Afrikaans gekom het.
In 1266 is die vorm weduwale al in Middelnederlands aangeteken. Die eerste deel van dié woord het die betekenis ‘woud’ en kom in talle Europese tale in een of ander soortgelyke vorm voor. (Die Duits vir ’n hoep-hoep is Wiedehopf.) In moderne Engels kry ons wood.
Die tweede deel van wielewaal kom ook met woorde uit uiteenlopende Europese tale ooreen waarvan die betekenis min of meer ‘roep’ is. In Pools wołać, Tjeggies volati, Letties valuôdze, selfs Russies ívolga! In moderne Engels is wail nog in algemene gebruik.
Die wielewaal se naam beteken dus ‘’n (voël) wat in die woud roep’, en het niks met rondomtaliedraai te doen nie!
Die Engelse (en wetenskaplike) naam van die Afrikaanse wielewaal, Oriolus auratus, is ’n korrupsie van die Latynse aureolus: ‘goue’, ‘met die kleur van goud’.
