Hoekom sê ek “hulle dink” so? Een van my leermeesters, daardie doyen van die Afrikaanse fonologie, prof Daan Wissing, het my geleer dat daar al te dikwels ʼn reuseverskil is tussen wat mense dink hulle sê en wat hulle eintlik regtig sê. Maar dié keer klop die Facebookers en Twitterati se instink 100% met prof Daan se voorspelling van wat die uitspraak sal wees. Hy verduidelik dat daar ʼn paar faktore is wat ʼn rol speel:
- Wanneer ʼn <e> in ʼn onbeklemtoonde lettergreep staan en gevolg word deur nog ʼn onbeklemtoonde lettergreep, word dit gewoonlik uitgespreek as [ê] of [ae], maar nie as [ee] nie. Daarom word “serebraal” ook [sê-rî-brAAl] en nie *[see-rî-brAAl] nie; teenoor “serum” wat as [sEE-rîm] uitgespreek word, aangesien die klem op die eerste sillabe val. Maar hoe nou, Gehasi, hier bo sê 70% van die mense dat die klemtoon in “telefoon” op die eerste sillabe is? Dit is ʼn nuwe klemtoonverskuiwing wat die afgelope vyftig jaar of so plaasgevind het, waarskynlik onder die invloed van Engels. Oorspronklik het die klemtoon in “telefoon” op “foon” geval, soos menige ouer bron nog beweer. Voorspelling: Dit sal eerder [tê-lî-foon] as [tee-lî-foon] wees.
- Die <e> wat voor ʼn <l; k; r; g> staan, klink in die meeste monde anders as voor ander konsonante. “Bel”, “bek”, “ver” en “veg” klink dus anders as byvoorbeeld “fes” of “vet”. Voorspelling: Dit sal meer geredelik [tae-lî-foon] as [tê-lî-foon] wees.
- As gevolg van vokaalreduksie kan dit ook gebeur dat die <e> selfs as [î] uitgespreek word, soos in [tî-lî-foon]. Maar omdat daardie eerste sillabe oorspronklik ook ʼn bietjie klem gekry het (en deesdae baie), sal dit nie algemeen voorkom nie. Voorspelling: Eerder [tae-lî-foon] as [tî-lî-foon].
- Die demografie van sprekers speel natuurlik ook altyd ʼn uiters belangrike rol. Prof Daan voorspel dat ʼn ouer inwoner van byvoorbeeld Genadendal self ʼn amperse [j] sou kon invoeg, soos [tjae-lî- foon]. Daarteenoor sal ʼn jonglied uit Potchefstroom die <e> byna as [a] uitspreek, soos [ta-lî-foon]. Selfs houding sou ʼn rol kon speel: Iemand wat dink hy/sy is vreeslik grênd, sou dit hiperkorrek as [tee-lie-foon] kon uitspreek.
[tAE-lî-foon] is dus voorspelbaar én word algemeen gebruik. Oor die res: Verbly jou in al die ander moontlike uitsprake wat oor die wydte en sydte van Afrikaans kan voorkom.
* Lees meer oor die [ê] in Afrikaans op Taalportaal. Jy kan ook op Taalportaal meer lees oor algemene vokaalkwaliteitsverandering in Afrikaans.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 15 Maart 2019 verskyn.
