Terwyl ouers in die res van die wêreld hulle kinders vermaak met stories van Kersvader en sy elwe en rendiere, en dié wat stout is dalk gewaarsku word dat hulle dié jaar nie presente moet verwag nie, trakteer ouers in Ysland hulle bloedjies op grieselrige verhale oor ’n rits vreesaanjaende wesens, soos Grýla, wat glo stout kinders vang om van hulle sop te gaan kook.
In party verhale is dié vroulike kannibaal ’n trol, in ander ’n wese met hoewe, in nog ander ’n skaap wat loop soos ’n mens. Soms het sy oë agter haar kop, of sterte waaraan haar slagoffers in ballonne hang om saamgeneem te word na die berg waar sy woon. (Soet kinders spring dié lot vry, want sop wat van hulle gekook word, smaak glo maar sleg.)
Volgens Magnus Skarphéðinsson, hoof van die Elweskool in die Yslandse hoofstad, Reykjavik, ’n instituut wat volksoorlewerings oor paranormale aktiwiteite, fenomene en verskynsels navors, is die Grýlaverhale waarskynlik vermenings van feit en fiksie. Skarphéðinsson, wat klaarblyklik self aan die bestaan van elwe, verborge mense en ander bonatuurlike dinge glo, sê hy vermoed iemand het eens in die pikdonker Kerstyd dalk ’n bose aardgees gewaar en dat die verhaal van Grýla waarskynlik daar begin het.
Maar sulke verhale en bangmaakstories is natuurlik nie net tot Ysland beperk nie. Kinderskrikverhale kom in die meeste lande en kulture van die wêreld voor.
In die Afrikaanse folklore is die bekendste kinderverskrikker waarskynlik Antjie Somers, ’n geheimsinnige man wat hom vermom soos ’n vrou. Volgens D.F. Malherbe in ’n “breedgestreepte sisrok” en ’n “rooibont bestroentjie” (volgens die WAT ook ’n “boeseroen” of “boeseroentjie”, of “bi(e)sroentjie”, ’n soort loshangrok of -baadjie). “Pasop, die Antjie gaan jou vang.” Dié bangmaakdreigement is in die verlede glo dikwels teenoor kinders gebruik.
In ou Kaapse verhale is daar Doederomandro, ’n “vreeslike, yslike monsterding met ’n skubberige likkewaanstert”. So beskryf Linda Rode hom in Stories vir die Vaak. Van al die ongediertes, so is daar vertel, is Doederomandro die gevaarlikste, omdat hy jou met ’n towerliedjie, ’n towerspreuk, in sy mag kry.
Ou Blinkoog is ’n skrikgestalte met een oog wat in die donker gloei, gewoonlik in die middel van sy voorkop. “Blinkoog” is ook ’n bynaam vir die duiwel.
’n Wydverspreide bygeloof vertel van die diamantslang wat in riviere en in watergate hou. Halflyf regop seil hy en lok met ’n blêrgeluid mense aan om hulle te verslind. Op sy kop dra dié diamantslang glo ’n edelsteen, ’n “karbonkel”, soos ’n kroon. In die Middeleeue reeds is daar om dié fabeIagtige vuurrooi steen verskeie verhale geweef. Bonatuurlike kragte en geneeskundige eienskappe is daaraan toegeskryf. In 1705 skryf Peter Kolbe, ’n sterrekundige op besoek aan die Kaap, oor ’n vreemde lig wat saans teen Tafelberg verskyn. Die destydse koloniste het onder mekaar bespiegel dat dit dalk die kroon van die diamantslang kon wees wat snags daar skitter. Dieselfde slang is volgens die WAT ook onder verskei ander name bekend, soos blêr-, bles-, bok-, dassie-, garing-, groot-, Grootrivier-, juweel-, kol-, mensvreter-, ster-, vuur- en waterslang. Ook as die steendraer, waterbaas, waterbees, waterbul, gekroonde slang, slang met die kroon en slang met die steen.
Dan is daar Kaaiman, nog ’n skepping van die verbeelding en bygeloof. ’n Kaaiman is ’n soort reptiel of ’n klipsalmander, maar dié Kaaiman is die bynaam van ’n denkbeeldige watergees, halfmens, halfvis, wat glo mense as slagoffers die diepte intrek. By Swellendam is daar geglo Kaaiman woon in die diep, donker seekoegate van die Groot- of Buffelsrivier. Vandaar die name Kaaimansgat en Kaaimansrivier.
Nog ’n bekende spookgedaante is die Kappietante, die gestalte van ’n ouerige vrou met ’n outydse kappie op haar kop. Maak dié antie teen skemeraand by Malmesbury nie self haar verskyning om kinders wat nog buite kerjakker na hulle huise te stuur nie, kry Kapkaatjie die werk om hulle te verjaag. Kapkaatjie – ’n stok met ’n doek om en ’n kappie oor die punt gebind.
By Oudtshoorn kruip daar glo langs die pad ’n kwelgees-dwergmannetjie weg. Sy naam is Kettemekê, en pasop: Kettemekê spring soms op verbygangers se rug.
Nog ’n Afrikaanse bangmaakding is Kokkewiet, ’n geheimsinnige wese of diertjie wat altyd ’n klein, skerp messie by hom het. By die Waterberg is Kokkewiet ’n oorsnyer wat die gedaante aanneem van die gelyknamige voël wat glo die ore sou afsny van kinders wat kaalkop in die son loop. In die Bosveld, waar hy ook Kappertoon heet, is Kokkewiet ’n toonsnyer, ’n viervoetige diertjie, soos ’n mierleeu of bidsprinkaan, wat onder die grond loop met sy messie op sy rug. Vir kinders wat kaalvoet loop waar hulle nie moet nie, het die ou mense gesê dié Kokkewiet gaan jou tone afsny.
Naby of in vlak water of modder is daar is ook ’n waterkokkewiet, ’n waterdiertjie, dikwels ’n waterskerpioen, ewe-eens met ’n messie. Sy naam is soms ook Fiskaal, of Janfiskaal.
Wanneer iemand se toon of voet aan die onderkant gebars, gesny of geskeur is, is daar gesê dis Kokkewiet se werk. ’n Toon met ’n sny of skeur in die vel, onder in die vou waar die toon en die voet bymekaarkom, is ’n janfiskaaltoon.
Maar dit was gister.
Wanneer die gruwels van die werklikheid dié van die verbeelding oortref, maak gogga nie meer vir baba so bang nie.
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 8 Maart 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in
.