ʼn Eenvoudige en voor die hand liggende voorbeeld: In Afrikaans sê ons “in die somer”, terwyl Engels in summer sê; iemand is in ʼn Afrikaans ʼn “professor in die taalkunde”, maar in Engels ʼn professor in linguistics; as jy ekstaties is, is jy “in die sewende hemel”, maar in Engels in seventh heaven.
Klop dit? Ja, maar ons kan ook in Engels praat van in the summer, in Afrikaans van ʼn “professor in taalkunde”, en in Engels van in the seventh heaven. Dit illustreer maar net hoe naby ons twee tale eintlik aan mekaar is - comme ci comme ça, Tweedledum and Tweedledee, vinkel en koljander.
As ek so in die meeste van my woordeboeke en bronne grawe, dan lyk dit of taalkundiges en taalpraktisyns al vir dekades lank (ten minste sedert die 1950’s) dit eens is dat “die” in baie van hierdie tipes uitdrukkings opsioneel is, soos “in (die) belang van iets”; “buite (die) orde reël”; “aan (die) bewind kom”; en les bes ook “op (die) hoogte wees van iets”.
| X = | {enigiets} | sake |
| op die hoogte van X | 349 | 65 |
| op die hoogte met X | 24 | 0 |
| op hoogte van X | 854 | 170 |
| op hoogte met X | 321 | 1 |
| TOTAAL | 1 548 | 236 |
Maar in laasgenoemde is sprake van meer wisseling as net met of sonder “die”: Johan Combrink en Spies weet in Sakboek van regte Afrikaans (1994) te vertelle ʼn mens kan ook “op (die) hoogte mét sake” wees. Nog nooit van gehoor nie, Gehasi! Is dit net ekke?
As ek in ʼn korpus van oor die 250 miljoen woorde kyk, dan kom “op (die) hoogte met sake” slegs een keer voor, terwyl “op (die) hoogte van sake” 235 keer voorkom. Gaaf, ek is darem nog nie die kluts heeltemal kwyt nie … (ʼn Mens kry wel ʼn klompie gevalle van goed soos: “Ons hou jou op hoogte met die jongste nuus/reëlings/ensovoorts”.)
En hoe vergelyk die “die”-gevalle met dié sonder die “die”?
Die verdeling is so ongeveer 25:75 vir die:die-loos. Dit beteken gewoon dat verreweg die meeste mense “op hoogte van sake” skryf.
Tot slot, as daar een “die” is waaroor die meeste taalpraktisyns nog sterk voel, dan is dit die ene in “die meeste taalpraktisyns”. Om te skryf *“meeste taalpraktisyns/mense/bestuurders” word steeds wyd as minder idiomaties geag.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 07 Junie 2019 verskyn.
