Omdat generaal in sulke gevalle 'n adjektief is, kan ons nie die meervoud daarop vorm nie. Ons praat dus van landmeters-generaal, prokureurs-generaal en direkteurs-generaal.
Die militêre rang van generaal hou histories ook met hierdie betekenis verband. In die laaste deel van die 16e eeu het die kaptein-generaal (die hoogste kaptein) begin bekend staan slegs as generaal, en dit raak toe só gevestig as 'n naamwoord wat na 'n militêre rang verwys. (Kyk onder andere in Etymonline.) Die meervoud van luitenant‑generaal is dus luitenant‑generaals, soos ook brigadier-generaals, ensovoorts.
Tot slot, emeritus is 'n vergelykbare geval. Dit is 'n adjektief en beteken 'afgetrede'. In emeritus professor (só geskryf; kyk in die AWS) kan ons dus emeritus met afgetrede vervang. In Engels verkies hulle dikwels om dit ook ná die naamwoord te skryf, soos Professor Emeritus. (Kyk o.a. wat in die Engelse Wikipedia staan.) Net soos wat die naamwoord generaal uit die adjektief ontwikkel het, so het die naamwoord emeritus ook uit hierdie byvoeglike naamwoord ontstaan; die naamwoord word egter weinig in Afrikaans gebruik.