- Die invloedrykste taalmaker van alle taalmakers is die subredakteur – daardie persoon wat enige joernalis of rubrikant se skryfseltjies onder hande neem, dit betimmer en beskaaf en uiteindelik van ʼn kop (opskrif) voorsien. Jy sien hulle nie raak nie as jy gladweg jou pad deur die koerant lees, maar as ʼn slim kop jou oog tref, of ʼn taalglips jou de josie in maak, dan is dit ook meestal die subredakteur se handewerk. Hulle is én die onbesonge helde, én die magtigste besluitnemers van die taalwêreld … (Romansiers, liriekskrywers sangers, akteurs en omroepers veg nog om te sien wie die tweede plek in dié resies behaal.)
- “Dit is korrek” of “dit is verkeerd” is twee uitgewaste sinne. Vir my is “dit is interessant” of “dit is belangrik” deesdae veel nuttiger. Wat bedoel ek? As iemand op die draadloos “onderwýs” (in plaas van “ónderwys”) sê, moet ons nie wonder of dit korrek of verkeerd is nie, maar eerder die interessantheid in die verskuiwing van klemtoon probeer raaksien. Is dit belangrik om iemand te kapittel omdat hy “op dit” (in plaas van “daarop”) sê, of het jy in ieder geval verstaan wat die persoon bedoel? So ja, sien in jou eie kop die interessantheid raak, en laat onbelangrike slapende honde lê … Want daar is ʼn reuseverskil tussen ʼn opgewonde behoefte om jou taalinstrument so vlytig as moontlik te gebruik, en ʼn neerhalende en meerderwaardige taalelitisme wat mense vir ewig afskrik van jou en jou taalgenote.
- Variasie is een van die natuurlikste eienskappe van alle tale. Net soos wat daar Amerikaanse en Britse en Indiese en Australiese Engels is, so is daar verskillende Afrikaanse – in die noorde en suide, in jong monde en ou hande, in alle kleure van ons land. Party mense sê “saam met jou”, ander sê “saam jou“; sommiges het ʼn “pah en mah”, ander ʼn “pô en mô”. Verbly jou in andersgeit, eerder as om almal te wil dwing om soos jy te klink.
- Afrikaans en Engels het meer met mekaar gemeen as wat die meeste mense graag wil glo (of wil weet). Ek het in dié tyd self ʼn Damaskuspad geloop. Telkens wat ʼn leser per e-pos oor hierdie of daardie “anglisisme” kla, moes ek gaan rondkrap en navorsing doen – om my(self) van die feite te vergewis. Net om maar oor en oor weer agter te kom dat dié begrip eintlik van alle angels ontdaan is. Gister se anglisisme is môre se Afrikaans, net soos gister se Afrikaans môre se neerlandisme is.
- Wat my eintlik by die belangrikste (vir my persoonlik, te minste) insig bring: Alle tale verander altyd. Die Afrikaans van Autshumato is nie dieselfde Afrikaans as dié van Louis Trichardt nie, is nie dieselfde Afrikaans as dié van sjeg Abubakr Effendi, Paul Kruger, SJ du Toit en Adam Small nie, is nie dieselfde Afrikaans wat ek en jy vandag in koerante en op Facebook lees of oor die eter hoor nie. Dit is ʼn fait accompli, ʼn feit soos ʼn koei.
En dit is dié feit wat maak dat Afrikaans se liggie lank nie gedoof is nie … Want ons – ek en jy – is die eintlike taalmakers. Hoe óns praat en skryf, bepaal hoe hierdie taal oor honderd jaar van nou gaan klink en blink. Laat die ligte brand!
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 21 Junie 2019 verskyn.
