Saterdag 18 Augustus 2018 09:40

Hopmajantjie met woorde

“Kyk hoe die taal verander het sedert 1923,” sê Frikkie Lombard, eindredakteur van die WAT, op Facebook. Dit gaan oor dié sitaat van C. Louis Leipoldt, uit sy boek Skoolgesondheid, wat tussen 1916 en 1934 verskeie kere herdruk is: “Hy (die kind met ’n swak hart) moet veral nie reisies ja nie, en veel sports doen, teen ooraanstrenging waak en trag sy hart so min te oorverg as moontlik.”

Ooraanstrenging, trag, oorverg. “Trag” klink lekker op die oor, sê ander Frikkie, Frikkie Booysen. Maar vandag “probeer” ons net; ons “trag” nie meer nie. Hy trag soms nog, sê Jean Meiring.

Ek blaai deur die elektroniese WAT; soek nog “Leipoldtwoorde”.

Vrydag 23 Maart 2018 19:06

Van huisraad tot kos, waarom nie ook retro-taal nie?

Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 23 Maart in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees.

 

Seisoen ná seisoen bly retro-giere en retro-modes in die nuus. Retro – van die Latynse voorvoegsel re-, wat “opnuut”, “van voor af” beteken, en die bywoord retro,agtertoe”, “terugwaarts”. Retro is ook ’n verkorting van die byvoeglike naamwoord retrospektief met die sinoniem terugskouend. Want ons kyk graag terug.

Van die 1970’s al verwys die woord retro na die nabootsing van voorkomste wat in vroeëre eras, in toeka se tyd, gewild was. Blaai ’n mens deur ’n stapel ou tydskrifte kom jy dit gou agter:

Donderdag 28 Desember 2017 08:03

Hou julle lekker vakansie? “Ons doen!”

deur Fred Pheiffer

 

Wanneer dié taalverskynsel begin kop uitsteek het, sal ’n mens net met uitgebreide taalopnames kan vasstel, maar dit het waarskynlik ná die eeuwisseling begin. In navolging van Engelse uitdrukkings soos “I do” en “It does” het veral jonger Afrikaanssprekendes “Ek doen” en “Dit doen” begin sê. Dit kom neer op ’n uitbreiding van die sintaktiese rol van doen as werkwoord. Tradisioneel en konvensioneel was doen nog altyd en is doen steeds ’n oorganklike werkwoord. In ’n welgevormde sin benodig dit dus ’n komplement, hetsy ’n voorwerp (’n naamwoord) soos in “inkopies doen”, “sake doen” of “niks doen nie”, hetsy ’n bepaler (’n bywoord) soos in “uitstekend doen”. Derhalwe is ’n sin met doen sonder ’n komplement nie welgevormd nie.

Hoe dus nou gemaak met sinne waarin doen onoorganklik gebruik word? Iemand vra byvoorbeeld vir jou of jy van sjokolade met neute hou, en jy antwoord bevestigend: “Ek doen!” Of iemand merk op die hitte en droogte skroei alles droog, en jy stem saam: “Dit doen!” Taalpuriste sal dié soort verskynsel as volstrek anglisisties afmaak, en by elke geleentheid daarop wys en dit uit die taal probeer weer. Dat dit anglisisties is, kan nie ontken word nie. “Ek doen!” volg die Engelse patroon slaafs na en vervang in dié proses uitdrukkings soos “O ja!” of “Beslis!”, en “Inderdaad!” of “Dis nie altemit nie!”

Dinsdag 21 November 2017 20:09

Onafwendbare verandering

Fred Pheiffer, voormalige redakteur van die HAT en woordeboekmaker by OUP, skryf vir VivA oor taalverandering en die invloed van Engels op Afrikaans. 

In ’n taal buiten Engels word ’n anglisisme beskou as ’n woord of uitdrukking wat deur Engels geaffekteer is. Dit is dus ’n taalverskynsel wat die invloed – vir sommige per definisie slegte invloed – toon wat Engels op ’n taal het. In ons konteks behels dit in die besonder die invloed wat Engels op Afrikaans het. Die beïnvloeding van een taal deur ’n ander taal is egter ’n natuurlike taalproses, en is een van die algemeenste maniere waarop taalverandering plaasvind. Taalverandering kom in enige lewende, aktiewe taalgemeenskap voor, en is as sodanig onkeerbaar. Wanneer ’n taalgemeenskap onaktief raak, soos in die geval van Latyn wat geen moedertaalsprekers meer het nie, gaan die taal “dood”. Op eie bodem het die meeste van ons Khoisantale uitgesterf omdat niemand hulle meer praat nie. Party van hierdie Khoisantale is betyds getranskribeer of op band vasgelê. Soos in die geval van Latyn bestaan daar dus ’n rekord van hulle. Nietemin het dié tale nie meer aktiewe taalgemeenskappe nie, en daarom het sulke tale staties geraak. Hulle het stil gaan staan in die tyd en verander nie meer nie. 

Sondag 05 November 2017 22:23

Kom ons praat maar weer oor “aanspreek”

Onder invloed van Engels wat moeilikhede “address” word vraagstukke in Afrikaans al dekades lank “aangespreek”, ten spyte van deurlopende pogings oor net soveel dekades heen om dié gewraakte woord uit die taal te weer.

So skryf wyle J.J.J (“Tripel-J”) Scholtz, in lewe taalindoena van Die Burger, op 30 September 1991 (ek sou dié rubriek graag weer wou gaan opdiep het, maar die historiese bewussyn van ons taal en identiteit het Media24 in die doofpot gestop – wat ’n enorme verlies vir Afrikaans is dit nie):