Nou onlangs stamp Chris van Zyl en Deon Huysamen koppe op Facebook oor “kop aan kop” vs. “kop teen kop”. Ek som die gesprek rofweg in hulle eie woorde op:
Deon glo in die reëls van die taal: “Ek ken my taal, die twee perde hardloop kop aan kop oor die wenstreep. Die twee karre bots kop teen kop. Dit is selfs logies. Julle skok my! Taal het formele reëls wat betekenis moet aandui, daarom moet terme en uitdrukkings korrek gebruik word.”
(Ek tjirp wysneusig nog tussendeur dat “nek aan nek” ook dikwels gebruik word om na gelyklopende entiteite te verwys.)
Chris, aan die ander kant, dink die taalboeke en taalgebruikers praat uit twee monde: “Boekekennis en spreektaal in die volksmond is so ver van mekaar verwyder soos die uitspansel. Gaan vra enigiemand op straat hoe ʼn ongeluk gebeur het: Hulle sal sê dit was kop aan kop, nie kop teen kop nie.”
Wie moet ons glo: Deon en sy reëls, of Chris en sy volksmond?