Deon se siening is in ooreenstemming met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se onderskeid: “Kop aan kop” beteken “gelyk(lopende)”, terwyl “kop teen kop” verwys na ʼn manier waarop twee dinge teen mekaar kan bots.
Maar, o wee, hoe gemaak met die feit dat die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) beide “kop-aan-kop-botsing” en “kop-teen-kop-botsing” erken?
As ek ʼn ondersoek doen in ʼn korpus (meestal geredigeerde en gepubliseerde tekste) wat uit meer as 200 miljoen woorde bestaan, word Chris se vermoedens bevestig. En nie sommer so nie: oortuigend so!
Die resultate word in die tabel hiernaas opgesom en sluit los vorme (byvoorbeeld “kop aan kop”), vas vorme (“kop-aan-kop”), samestellings (“kop-aan-kop-botsing”) en selfs spel- en skryffoute (byvoorbeeld *“kop-aan-kop botsing”) in. F is die rou frekwensies (die aantal kere wat dit in die korpus met ʼn bepaalde betekenis voorkom); P is die waarskynlikheid dat iemand kies tussen “kop teen kop” en “kop aan kop” om ʼn bepaalde betekenis uit te druk.
Die ondersoek se resultate kan soos volg saamgevat word:
- Ongeag die betekenis, skryf mense byna vyf keer meer waarskynlik “kop aan kop” (P=0,83) as “kop teen kop” (P=0,17). Só gesien is laasgenoemde ampertjies uitgestorwe – as ʼn mens die resultate nou ʼn bietjie dramaties wil aanbied.
- Wanneer mense oor botsings praat, gebruik hulle in meer as tweederdes van die gevalle “kop aan kop” (P=0,68) in plaas van “kop teen kop” (P=0,32). Wanneer mense oor gelykop situasies praat, gebruik hulle eksklusief "kop aan kop" (P=1) en nooit “kop teen kop” (P=0) nie.
- In ʼn handjie vol gevalle (F=8 gesamentlik) word dié twee uitdrukkings letterlik gebruik, soos byvoorbeeld: “Hoe harder Etzebeth probeer het om Ackermann te ontsenu, hoe nader het hy aan Etzebeth beweeg, naderhand letterlik kop teen kop met sy spanmaats broederlik om hom.”
- In vier gevalle kon ek nie uit die konteks bepaal wat die veronderstelde betekenis is nie.
Dus, wat die WAT sê, klop dalk met gegewens van vroeër tye (spesifiek voor 1984; want toe het die deel van die WAT waarin “kop” behandel word, verskyn), maar in hedendaagse Afrikaanse word “kop aan kop” meestal gebruik vir sowel ongelukke as wedstryde.
Jy is dus veilig as jy slegs “kop aan kop” in Afrikaans gebruik, solank jy nie dink “kop-teen-kop-botsings” is verkeerd nie.
En “nek aan nek”? Pft, ek het die pot so ver mis gesit, ek kon maar net sowel bly staan het. Dié kom slegs drie keer in die korpus voor (telkens met die ‘gelykop’-betekenis). Wys jou net: Moenie te vinnig aannames slegs op grond van jou eie ervarings of vermoedens maak nie.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 29 Maart 2019 verskyn.
