Of dié manier van praat omkeerbaar is, is twyfelagtig. Die jonger geslag Afrikaanssprekendes hoor en sien Engelse vermaak en sosiale media tot versadiging toe, en hulle lees waarskynlik gans te min Afrikaanse media en literatuur. Die onderbou van hulle taalvaardigheid word dus Engels.
Objektief gesien kom ’n mens te staan voor die onafwendbaarheid van taalverandering. Om aan die lewe te bly, moet ’n taal ’n taalgemeenskap hê waarin dit aktief gebruik word. Maar ’n taal wat só gebruik word, gaan desnoods ook verander, soos die wêreld om hom verander. Gaan staan ’n taal stil in die tyd, beteken dit dié taal verloor sy gebruike of sy gemeenskap kwyn en die taal gaan weldra uitsterf.
In ’n situasie van taalkontak soos waarin Afrikaans en die ander inheemse tale hulle met Engels bevind, vind taalbeïnvloeding en die gevolglike taalverandering uiteraard nog vinniger en diepgaande plaas. Engels is die wêreldtaal van die ekonomie en die media, die taal van globale kommunikasie. Afrikaans en ons land se ander klein taaltjies kan hoegenaamd nie op alle terreine en vlakke met Engels meeding nie. Of jy jou moedertaal bly praat en gebruik, is nie meer ’n kwessie van noodsaaklikheid nie.
Enersyds neem ’n mens met spyt waar hoe Afrikaans sienderoë onder invloed van Engels verander. Andersyds is dit vanuit ’n taalkundige oogpunt boeiend om te sien hoe Afrikaans verander. En dat die taal steeds verander, sê tog ook iets. Afrikaans word gebruik. Afrikaans lewe. Inderdaad, dit doen!