In die 14 boekdele van “A” tot by “skooi” kry ek uit die oeuvre van dié skrywer-digter-dramaturg, dokter-koskenner-reisiger 1 966 sitate. Onder meer by “aansa”: “Hy maak die honde los en sa hulle aan”; “dantjang”: “die dantjangs (Oosterse, mitologiese wesens) wat soms die bos verlaat om in die dorp te kom speel; “doeselig”: “Constantiawyn wat my ’n bietjie doeselig (lomerig) gemaak het”; en “hopmajantjie”: “Die weerkaatsing van die spieëllig speel hopmajantjie op die vloer”, na ’n speletjie waarin kinders op en af op hulle hurke spring.
Oor die botse van die branders, het Leipoldt geskryf; oor grippies deur water uitgespoel; boggeltjies in die veld; boggelkoppies wat die blou lug sny; nuutgeboende bloekoms langs die paaie. Gekorste leiklippe; die geknoeste wortels van duinbessies; palmiet en fluitjiesgras; grasskeutjies wat weelderig opskiet. Die gekwetter van bruin tinktinkies; veld vergroei met kêr-kêrbos; koggelmannetjies; ghoboontjies en ghoemsiebessies; ghnarrabos; die wasem van wilde kamferfoelie; die ruik van knoflokknolle en kanferbolle. Koekmakrankalikeur, en ’n pimpeltjie brandewyn.
Die smeltkroes van Leipoldt se Afrikaans was die Hantam (in die taal van die Nama letterlik “die landstreek waar die uintjies groei”), die gebied oos van die Bokkeveldberge van Calvinia na Nieuwoudtville, ook die Klein Hantam genoem; en die Groot Hantam, die hoogland suid van die Oranjerivier en noord van die Kikvors- en Suurberge, wat die distrikte Colesberg, Noupoort, Steynsburg, Burgersdorp en Venterstad insluit. Hy het opgegroei in Clanwilliam. Sy pa was Duits; sy ma Afrikaans, en Engels. In sy ouerhuis is ook tale van die Indonesiese eiland Soematra gepraat, uit die tyd voor sy geboorte, toe sy pa daar sendeling was. As volwassene het hy self uitgebreid gereis.
In sy huldeblyk toe Leipoldt, “die kosmopoliet en individualis”, en volgens W.E.G. Louw die “eerste werklik nasionale Afrikaanse digter”, in 1947 oorlede is, het DF Malherbe op 19 April van daardie jaar in Die Volksblad geskryf: “Tot in die verre toekoms, solank ’n Afrikaanse kultuur lewe, sal Leipoldt se naam staan tussen dié van [Afrikaans se] grootstes en sal sy eiegeaarde, oorspronklike woord voortklink in duisende harte.”
Ek dink dus vandag aan C. Louis Leipoldt, dié eiegeaarde met sy “ankerangels diep in veraf lande”, wat met sy “anderster sê” van Afrikaans se mooiste prosa en onthouverse geskep het. Ook ter herinnering daaraan dat ’n enkele “suiwer” taal nie bestaan nie; dat Afrikaans oor elke tong ’n samemenging van baie tale is, en dat die standaardvariëteit tot ’n groot mate kunsmatig geskep en in stand gehou word.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 29 Junie 2018 verskyn.