Dit is juis hierdie soeke na korrekte en geverifieerde antwoorde wat gelei het tot die totstandkoming van VivA se aanlyn grammatika wat in Taalonderrigportaal lê. Ons is klaar met die gedeelte oor woordsoorte, ons werk tans aan sintaksis en spelling, en morfologie en semantiek lê vir ons voor.
Ek kon al baie navraers na die grammatika verwys, maar omdat daar tans nog niks by ons op virtuele papier oor semantiese kwessies vasgelê is nie, moet ek antwoorde daaroor nog navors. Dit het my intussen opgeval hoeveel taalonderwysers kom aanklop vir raad oor die verskil tussen paronieme en doeblette, en hoe om dit doeltreffend te verduidelik. Ek het gewonder hoekom dit so ʼn tameletjie is, totdat ek gesien het wat in handboeke en op webblaaie daaroor geskryf staan.
Kyk byvoorbeeld na hierdie definisies uit die handboek wat my eie kind in matriek gehad het (ek gaan nie die naam noem nie, want dit sonder die handboek onnodig uit; die ander lyk nie anders of beter nie):
- Doeblette is tweelingwoorde wat stamverwant is, maar verskil in betekenis en gebruik, bv. Die afrigter prakseer ʼn plan x Die dokter praktiseer op die dorp.
- Paronieme is woorde wat dieselfde stam het, maar verskil in betekenis, bv. Die afrigter is besorg oor die speler. Die sorgsame spanbestuurder sien om na sy spelers.
Ek gaan slaan dadelik in die WAT na. Ja, dis ʼn woordeboek, maar dis my verstekbron vir Afrikaanse naslaanwerk, en ek weet hoeveel werk die leksikograwe daar in hulle definisies insit. Ek kry die volgende daar:
- doeblet, s.nw., doeblette (taalkunde). Enigeen van 'n tweetal woorde met 'n gemeenskaplike oorsprong wat weens uiteenlopende ontwikkeling in vorm verskil, en gew. ook in betekenis en gevoelswaarde; tweelingwoord: Daarom/darem, kwaad/kwaai, passasie/passaat, tabak/twak, vars/fris is doeblette.
- paroniem s.nw., paronieme. Enigeen van twee of meer woorde wat 'n stam gemeen het; sin. stamverwante woord: By woorde van vreemde herkoms kry ons paronieme soos: moraal/moreel (S.P.E. Boshoff, e.a.: Luister St. VIII, 1959, 145). Wat is die verband tussen dié woord (ontstaan) en verstaan, bestaan en afstaan? ... Formuleer 'n definisie vir paronieme na aanleiding van bg. afleidings van staan (K. Botha, e.a.: Ruimland 82, 1990, 53).
Ek begin lig sien. Dit gaan hier oor ʼn verhouding tussen woorde, en oor ʼn etimologiese proses, maar ek soek nog skietgoed om my argument te staaf. Ek gaan pluk my Barnes uit. Dis ʼn horingou taalhandboek (1944 uitgegee) waarmee my ma se generasie nog taalreëls aangeleer het. Dis outyds, maar my ma se generasie het hulle taalreëls geken. In Afrikaanse grammatika en taalkunde vir Afrikaanssprekende leerlinge deur ASV Barnes, M.A., M.Ed., D.Ed., kry ek die volgende:
- Doeblette is twee vorme van dieselfde oorspronklike woord. Sulke woordpare het verskillende betekenis of gebruik, bv. Jan is siek, daarom bly hy tuis x Jan is darem ʼn gawe seun.
- Paronieme is van dieselfde stam afgelei, bv. Hy het ʼn tydelike betrekking aanvaar x Ek was net betyds om die trein te haal.
Net om te bevestig dat ek op die regte spoor is, raadpleeg ek die onontbeerlike Fowler’s Modern English Usage. Ja, dis ʼn Engelse naslaanbron, maar ʼn taalverskynsel is ʼn taalverskynsel, en die definisie gaan nie verskil nie, net die voorbeelde gaan in Engels wees. So lyk die definisie in Fowler’s vir ʼn doeblet:
- doublet. A term of etymology meanng either of a pair of words of the same origin but which, for historical reasons, end up as two separate words. Examples: Latin uncia (‘twelfth part’) -> Old French ynce -> English inch AND Old French unce -> English ounce.
Ongelukkig help Fowler’s my nie met ʼn definisie vir ʼn paroniem nie, maar die Oxford English Dictionary is baie duidelik in sy uitspraak oor die saak:
- A word which is a derivative of another and has a related meaning. wisdom is a paronym of wise
Op hierdie punt breek Die Waarheid oor doeblette en paronieme vir my soos ʼn dagbreek oop. Ek kan met sekerheid die volgende verduidelikings van die twee verskynsels gee:
- Doeblette is woorde wat ʼn gemeenskaplike oorsprong het, sê nou maar in Latyn, maar wat met verloop van eeue deur middel van twee aparte etimologiese prosesse twee verskillende woorde met twee verskillende betekenisse of funksies in ʼn bepaalde taal geword het.
- Paronieme, daarenteen, het dieselfde stam, maar verskillende afleidings. Daar is dus ʼn gemeenskaplike betekenis in die taal wat hierdie woorde onderliggend deel, maar in ʼn gebruikskonteks waar hulle verskillend afgelei is, is daar verskuiwings in die betekenis.
In ʼn neutedop: Doeblette het dieselfde oorsprong. Paronieme het dieselfde stam.
Maar goed, ʼn definisie is een deel van verstaan. Met watter voorbeelde word hierdie verskynsels die maklikste en beste toegelig?
Omdat doeblette kennis van etimologie vereis, is dit moeilik om voorbeelde te kry wat vir leerders (en baie grootmense) gaan sin maak. Dis ʼn paar taalfundi’s, soos Gerhard van Huyssteen, Leon de Stadler en Ernst Kotzé wat daardie geskiedkundige ontwikkeling van woorde op die punte van hulle vingers ken. Ons gewone sterflinge doen ons bes om moderne Afrikaans te beheers, ons kan nie nog met Middelnederlands en Oudhoogduits ook spook nie.
Die daarom x darem-voorbeeld van doeblette in die WAT en in Barnes is in die kol. Daardie woorde kom albei van die Nederlandse daarom, maar het in Afrikaans twee verskillende betekenisse gekry. Nog sulke voorbeelde is vleis x vlees en geslypte x geslepe. Maar dit is dalk interessanter om met ʼn voorbeeld te werk waarby leerders gaan aanklank vind.
In die oorspronklike Hebreeus was daar ʼn eienaam yəhôḥānān (betekenis: ‘God is genadig’). In Bybelse Grieks het dit geword Iōánnēs, en later Iohannes in die Vulgaat (Latynse Bybel). Deur die eeue het die naam in verskillende tale verskillende vorme aangeneem. Afhangend van die etimologiese roete, het die name verskillend verbuig, verkort en verander, maar al hierdie name is terug te trek na die een Hebreeuse woord. Daarom is al die name hier onder doeblette van mekaar. As ʼn Afrikaanse kind een van hierdie name het, is daardie naam in Afrikaans ʼn doeblet van die ander name op hierdie lys.
Moderne doeblette van die naam met ʼn Romaanse etimologie:
- Juan (Spaans)
- João (Portugees)
- Jeanne (Frans, vroulik)
- Jean (Frans, manlik)
- Giovanni (Italiaans)
Moderne doeblette van die naam met ʼn Germaanse erfenis:
- Johannes, Johann (Duits)
- Johanna, Janke, Hanneke, Janneke (Nederlands, vroulik)
- Johannes, Jan, Jans, Jens, Hannes, Hans (Nederlands, manlik)
- Joanne, Joan, Anne, Anna, Hannah (Engels, vroulik)
- John (Engels, manlik)
Moderne doeblette van die naam met ʼn Keltiese geskiedenis:
- Ifan, Evan, Iwan, Ioan, Siôn (Wallies)
- Eóin, Seán (Iers)
- Iain, Ian (Skots)
Moderne doeblette wat in Sentraal- en Oos-Europa ontstaan het:
- Janos (Hongaars)
- Ivan, Jovan (in die Slawiese tale)
Moderne doeblette wat uit Arabies kom:
- Henna, Yūḥannā, Yaḥyā
Daar is letterlik nog lyste name in ander tale wat ook van yəhôḥānān afstam, maar ek het spesifiek hierdie name gekies omdat dit in Afrikaans die rondte doen. Dit is dus voorbeelde van doeblette in Afrikaans.
Met doeblette se voorbeelde uit die weg geruim, is dit maklik om paronieme te kry. Enige stam met afleidings sal deug:
- tydsaam x tydelik x intyds x betyds (stam: tyd)
- gedink x verdink x indink x dinkende (stam: dink)
- verloop x beloop x lopend (stam: loop)
Mag dit die doebletdebat en die paroniemprobleem vir ewig oplos.
VivA-groete
Sophia