Wat is die indirekte objek?
Die indirekte objek (oftewel indirekte voorwerp) moet beskou word as ’n funksie (“werk”) wat deur ’n sinsdeel in ’n sin verrig word. Wat beteken dit, as ’n sinsdeel die funksie (“werk”) van ’n indirekte objek het? Dit beteken die volgende (Biber et al., 2018:49; Ponelis, 1979:206).
- Dit is ’n sinsdeel wat ná werkwoorde[i] soos “bied”, “bewys”, “deel”, “gee”, “gun”, “leer”, “deel”, “dien ... toe”, “skuld”, “vertel”, “vergeef” en “wys” staan.
- Dit is ’n sinsdeel wat tipies voor ’n direkte objek staan.
- Dit is ’n sinsdeel wat die werkwoordgedeelte[ii] aanvul deur in die plek van X in Werkwoordgedeelte X direkte objek te gaan staan, waar dit betekenisgewys aandui wie iets, aangedui deur die direkte objek, ontvang, daarby baat of dit prysgee.