Op Maandag 20 Oktober het me. Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA, en prof. Debra Meyer, waarnemende en aangewese visekanselier van SPU, ’n samewerkingsooreenkoms by Sol Plaatje Universiteit in Kimberley onderteken. Hierdie samewerkingsooreenkoms is daarop gemik om die uitbou en bestudering van Afrikaans in sy volle rykdom en diversiteit te bevorder.
Die ooreenkoms lê die grondslag vir gesamentlike navorsingsprojekte wat fokus op die verskillende variëteite van Afrikaans wat in Suid-Afrika gebruik en geleef word. Die doel is om hierdie verskille nie net te beskryf nie, maar ook om dit te waardeer as deel van die taal se natuurlike groei en aanpasbaarheid.
’n Vennootskap met gedeelde oogmerke
Die samewerking ondersteun beide instellings se doelwitte om Afrikaans te bevorder en verder te ontwikkel. VivA sal in noue samewerking met SPU se Fakulteite Opvoedkunde en Geesteswetenskappe kernprojekte help uitvoer wat Afrikaans se lewenskragtigheid in akademiese, opvoedkundige en gemeenskapskontekste versterk.
Dit kan insluit – maar is nie beperk nie tot – taaladvies, navorsingsondersteuning, die ontwikkeling en aanbied van werkwinkels, internskapgeleenthede, asook hulp met skoleprojekte en subskripsies.
Deur hierdie vennootskap word die bande tussen VivA en SPU verder versterk. SPU se verteenwoordiger op VivA se direksie is dr. Glynnis Daries, met dr. Marga Stander as haar sekundus.
Navorsing – die hart van VivA se werk
VivA se rol as navorsingsinstelling staan sentraal tot hierdie vennootskap. Elke produk, diens en hulpmiddel wat VivA ontwikkel – van digitale taalhulpmiddels tot opleidingsmateriaal – rus op deeglike navorsing oor Afrikaans in sy verskillende vorme en gebruiksruimtes.
VivA glo dat betroubare, toegepaste navorsing die fondament is van taalontwikkeling. Daarom werk VivA nie net binne Suid-Afrika nie, maar bevorder ook internasionale samewerking oor Afrikaans deur kongresse, publikasies en navorsingsprojekte wat die taal se posisie op wêreldvlak versterk.
Hierdie nuwe ooreenkoms met Sol Plaatje Universiteit is nog ’n stap in VivA se missie om Afrikaans as ’n lewende, inklusiewe en dinamiese taal te bestudeer – ’n taal wat sy mense, geskiedenis en toekoms saamweef.
VivA-groete












