Ons het hier by VivA 'n verantwoordelikheid om die taal korrek aan te wend, daarvan is ons deeglik bewus. Daarom doen ons baie moeite om in ons korrespondensie met gebruikers korrekte Afrikaans te gebruik, en om in die wenke wat ons op sosialemediaplatforms deel, korrek te skryf. Dit is egter noodsaaklik dat ons nie lukraak besluit wat "reg" en "verkeerd" is nie, en dat ons nie ons eie opvattings daaroor op die res van die taalgemeenskap afdwing nie. Enige besluit oor korrekte en aanvaarbare taalgebruik moet uit erkende normeringsbronne gestaaf kan word.
Om hierdie rede haal ons telkens in ons taalwenke die bron aan waaruit ons die inligting kry, juis sodat gebruikers weet dis nie sommer ons persoonlike voorkeure wat ons op ander afdwing nie. In hierdie wenke verwys ons gereeld na die Afrikaanse woordelys en spelreëls (afkorting: AWS) as die bron waarin Standaardafrikaans bereël word. Die AWS is opgestel en word bygewerk deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat onder andere deur PanSAT ingevolge die Suid-Afrikaanse Talewet as die standaardiseringsliggaam vir Afrikaans erken word, en wat bestaan uit ‘n paneel kundiges wat almal dekades se ervaring van taalwerk agter die blad het. Die Taalkommissie se werk is onder andere om te besluit of 'n bepaalde woord deel is van Standaardafrikaans se formele skryftaal, en om dié woord dan in die woordelys van die AWS op te neem. Hierdie besluite word nie lukraak geneem nie, dit word getoets aan ‘n korpus van geredigeerde tekste en aan opnames van die woord in ander gesaghebbende bronne.
As jy in ons slimfoontoepassing gaan kyk, sal jy sien dat die woorde diskrepansie en informasie in die woordelys van die AWS opgeneem is. Dit beteken die woorde word as Standaardafrikaans beskou. Buiten die AWS, erken die volgende bronne ook diskrepansie en informasie as geldige woorde:
- HAT
- WAT
- Blokkiesraaiselwoordeboek
- Tweetalige voorsetselwoordeboek
- Statistiekwoordeboek
- Nuwerwetse Politieke Woordeboek
- Kuberwoordeboek
- Afrikaanse SkryfGoed
- Verklarende Afrikaanse Woordeboek
- Tweetalige woordeboek (Pharos)
- Groot woordeboek Afrikaans en Nederlands
- Oseanologiewoordeboek
- Tesourus van Afrikaans
Die opvatting dat diskrepansie en informasie anglisismes is, is ook nie korrek nie. Etimologies kan die woord diskrepansie via Nederlands (discrepancie) en Oudfrans (discrepance) teruggevoer word na Latyn (discrepantia van discrepantem en discrepare). Ons kry die woord informasie ook via Nederlands (informatie) en Frans (information) uit Latyn (informatio, waar dit ‘n samestelling was van in [vorm aan iets gee] en forma [gestalte/vorm]).
Hou in gedagte dat Afrikaans, Engels en Nederlands almal Germaanse tale is en dus leksikografiese, morfologiese en sintaktiese kenmerke gaan deel. Al drie hierdie tale het ook ‘n sterk Romaanse invloed ervaar toe Noord-Europa deur die Romeine ingeneem is en Latyn die voertaal geword het. Afrikaans het met ander woorde, soos al die ander Germaanse tale, ‘n Romaanse erfenis, en woorde met ‘n Romaanse etimologie is net so geldig en net so Afrikaans as die Dietse ekwivalente.
Ek het uitvoerig oor anglisismes geskryf in hierdie blogs. Daarin verduidelik ek presies hoe ‘n mens anglisismes identifiseer, en wat die gevare daaraan verbonde is om Afrikaans se woordeskat te verskraal deur geldige Afrikaanse woorde verkeerdelik as anglisismes te klassifiseer:
https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/344-subliem-is-n-anglisisme-en-ander-wanopvattings
https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/347-die-duiwel-se-franchise-vers-2-oor-anglisismes
https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/350-taalsuiwerheid-kry-jou-anglisisme-aangespreek-en-jou-lingo-in-lyn
Mag ons voortaan dan eerder ons aandag wy aan die diskrepansies en die informasie in die grammatika, eerder as aan 'n kwessie wat nie 'n kwessie is nie. Laat staan nou maar die anglisismespook, ons hoef hom nie vir hierdie twee woorde op te roep nie.
VivA-groete
Sophia