'Donkerblou' of 'donker blou'? Só werk die los en vas skryf van kleure

Geplaas deur Riaan Grobler Donderdag, 09 Mei 2024
Gepubliseer in VivA;

Ek ontvang onlangs 'n vraag oor wat die korrekte skryfwyse van "donker/lig" saam met 'n daaropvolgende kleuradjektief (soos "blou") is. Word dit los of vas geskryf?

Ten eerste word kleurkombinasies in die reël vas geskryf, dink byvoorbeeld aan "rooibruin" en "goudgeel" (vergelyk die 2017-AWS: 15.3). Die vraag rondom "donker-" en "lig-" werk egter 'n bietjie anders, omdat hierdie woorde nie die benaming van 'n spesifieke kleur is nie, maar die betekenis van onderskeidelik 'nader aan swart as wit' en 'wat op 'n kleurskaal tussen wit en swart meer na wit neig; bleek/sagte' uitdruk.

My eerste stap was om te kyk hoe hierdie woorde in verskillende bronne opgeteken is.

  • Volgens die WAT se inskrywing oor "donker-" is dit die eerste lid van 'n samestelling en word sodanige samestellings vas geskryf, te wete "donkerblond", "donkerkleurig", "donkerharig", "donkerswart", ens. Na analogie van "donker-" kan geredeneer word dat "lig-" ook vas aan die daaropvolgende woorddeel geskryf word, hoewel die WAT nie 'n inskrywing vir "lig-" het nie.
  • Volgens die 2015-HAT word "donker blou" net as twee woorde los geskryf, terwyl kombinasies van "lig" met 'n kleuradjektief weer as een woord (bv. "ligblou") of as twee woorde (bv. "lig blou / ligte blou") geskryf word.
  • In die 2017-AWS word "donker blou" naas "donkerblou" gelys, en "ligblou" naas "ligte blou".

Die 2017-AWS en die 2015-HAT verskil in die opsig dat (i) die 2017-AWS ook "blou" vas aan 'n kleuradjektief skryf (d.w.s. "donkerblou"), en dat (ii) die 2017-AWS "lig" slegs vas aan die daaropvolgende woorddeel skryf (d.w.s. "ligblou"), maar "ligte" los van die daaropvolgende woord (Wat ook duidelik uit die 2017-AWS is, is dat "donkerblou" en "ligblou" samestellings van twee adjektiewe (byvoeglike naamwoorde) is, en daarom vas geskryf moet word, maar dat die skryfwyse van "donker (adjektief) blou (adjektief)" en "ligte (adjektief) blou (adjektief)" nie as verkeerd beskou moet word nie. Sulke konstruksies is bloot net nie samestellings nie.

Albei hierdie pare woorde ("donker blou / "donkerblou"; "ligblou / ligte blou") kan dus binne dieselfde konteks gebruik word om dieselfde betekenis te kommunikeer. Vergelyk voorbeelde hiervan uit VivA se versameling elektroniese tekste in Korpusportaal:

  • "Haar sagte, uitdrukkingsvolle, ligblou oë was nou vol verdriet."
  • "Maar sy ligte blou oë kyk reguit, sy skraal figuur staan regop."

In al die bostaande voorbeelde, hetsy in vaste of los vorm, word 'bleek/sagte blou' gekommunikeer.

  • "Wanneer 'n baba gebore word, is hulle ogies meestal almal donker blou, en die ware kleur word eers later sigbaar."
  • "Ons toetsmotor se donkerblou metaalverf het dié elemente nie baie goed beklemtoon nie, dus sou ek persoonlik 'n meer opwindende kleur aanbeveel."

In al die bostaande voorbeelde, hetsy in vaste of los vorm, word 'nader aan swart as aan wit' gekommunikeer.

Indien die Woordelyste van die verskillende uitgawes van die AWS bestudeer word, is dit duidelik dat die los vorm eers later bygevoeg is.

Uitgawe van AWS

Skryfwyse van "lig" + "blou"

Skryfwyse van "donker" + "blou"

1917

"ligblouw"

geen inskrywing vir "donkerblouw" nie

1918

"ligblouw"

geen inskrywing vir "donkerblouw" nie

1921

"ligblou"

geen inskrywing vir "donkerblou" nie)

1931

"liggroen"

geen inskrywing vir "donkergroen" nie

1937

"liggroen"

geen inskrywing vir "donkergroen" nie

1955

"ligblou"

"donkerblou"

1960

"ligblou"

"donkerblou"

1966

"ligblou"

"donkerblou"

1991

"ligblou"

"donkerblou"

2002

"ligte blou / lig blou / ligblou"

"donker blou / donkerblou"

2009

"lig blou / ligblou / ligte blou"

"donkerblou / donker blou"

 

'n Moontlike rede waarom die los vorm bygevoeg is, is dat dit in die skryfwerk van die mense figureer. Soos Suléne Pilon op 9 September 2022 tydens haar aanbieding "Die reëls het al weer verander?! Verskonings, verklarings en voorbeelde uit die deskriptiewe en preskriptiewe taalkunde" by die Lenteseminaar van die Universiteit van Pretoria gesê het, word die werklike taalgebruik van gebruikers as vertrekpunt gebruik om konvensies te bepaal wat deur preskriptiviste na taalreëls omgeskakel word. Die los vorm, "donker blou" en "ligte blou" (en "lig blou" wat nie tans in die 2017-AWS ingesluit word nie – slegs in die 2015-HAT), moes dus in taalgebruik gefigureer het om in die Woordelys vanaf 2002 ingesluit te wees.

Dit is tog duidelik uit die ontleding van tekste in Korpusportaal dat die vaste skryfwyse van dié betrokke woorde die voorkeurvorm is.

  • Die woord "ligblou" word 476 keer in 175 dokumente gebruik, terwyl "ligte blou" slegs 33 keer in 26 dokumente verskyn.
  • Die vorm "donkerblou" word 507 keer in 175 dokumente gebruik, terwyl "donker blou" maar 59 keer in 48 dokumente verskyn.

Om van VivA se taaladviesdiens gebruik te maak, stuur jou navraag per WhatsApp na 062 126 0295. Jy kan ook 'n e-pos stuur om só 'n antwoord op jou navraag te kry. Stuur dit aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

VivA-groete

Riaan

*Nadine Fouché-Karsten het bygedra tot hierdie blog

Lees 2245 tye Laaste modifikasie op Donderdag, 30 Mei 2024 06:22