Die historikus Petronel Fourie skryf op Netwerk24 (2013) dat Pretorius een oggend vroeg op bevel van Meyer met Krupp-kanonne losgebrand het op die Britse mag onder generaal Penn Symons, wat onder in die kom was. Sonder om die gebruiklike twee proefskote te vuur, val sy tweede skoot reg langs generaal Symons se tent, binne-in die Britte se kamp. 'n Makker het soveel bewondering vir hierdie kolskoot gehad dat hy "Skote, Petoors!" uitgeroep het. En só is Lood se naam in die volksmond verewig. Vandag word "skote petoors" (of "skote Petoors") steeds gebruik wanneer ons wil sê: 'mooi so; knap gedaan!'

Majoor Johannes Lodewyk Pretorius, uit Die Boere-Offisiere 1899-1902 (Malan)
Dit is nie 'n vreemde verskynsel dat mense se name in die volksmond vaste uitdrukkings word nie. Neem nou maar die uitdrukking "daar sal dadels van kom". Hoekom spesifiek "dadels"? Hierdie uitdrukking het egter niks met die dadelvrug te doen nie, maar wel met 'n kêrel genaamd Herman Willem Daendels, skryf Toerien (2008) in Pharos se Spreekwoorde en ander segswyses (Prinsloo, De Stadler & De Stadler, 2022). Dié is gebore in Hattem, Nederland, en hy was in die vroeë 19de eeu tydens Napoleon se besetting van Nederland 'n generaal in die Franse leër. Later is Daendels bevorder tot goewerneur-generaal van Nederlands-Oos-Indië. Maar volgens 'n hele paar bronne het hy nie veel uitgerig nie; trouens, daar bestaan twyfel of hy enigsins die bestuur verbeter en die korrupsie verminder het terwyl hy aan bewind was. Daar is enkele voorkomste van 'n wisselvorm van sy van, "Daedels", wat moontlik aanleiding gegee het tot die uitdrukking "daar kom Da(e)dels van".
Dan is daar die woord "paloeka", wat 'n interessante oorsprong het. Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans het ons dit uit Amerikaanse Engels ontleen: "palooka". Die herkoms van "palooka" is onseker, maar dié woord het gewild geword na aanleiding van 'n strokiesprentkarakter genaamd Joe Palooka, 'n lomp beroepsbokser, wat die eerste keer in 1920 deur Ham Fisher geteken is. Die woord "palooka" het daarná verwys na veral 'n bokser wat nie op standaard is nie en gereeld verloor. Dink 'n bietjie terug aan die fliek Pulp Fiction, waar John Travolta se karakter in 'n kroeg aan Bruce Willis se karakter ('n verouderende bokser) sê: "You ain't my friend, Palooka." Vandag gebruik ons "paloeka" in Afrikaans wanneer ons praat van 'n dom, onbeholpe persoon.

Dan gebruik ons "elke Jan Rap en sy maat" wanneer ons praat van 'n niksbeduidende persoon. "Jan Rap" was vroeër "Jan Rappig", wat in Nederlands 'skurf, vuil, gemeen' beteken het. Oorspronklik is dit net van gespuis gesê, omdat die woord moontlik ook 'afval, saamraapsel' kon beteken. In Afrikaans verwys dit bloot na 'enigiemand of almal', terwyl "janrap", wat vas geskryf word, verwys na 'n 'onbeduidende, onkundige, minderwaardige persoon; persoon sonder aansien'.
Lees gerus ook hierdie blog deur Jana Luther oor name in vaste uitdrukkings.
Om van VivA se taaladviesdiens gebruik te maak, stuur jou navraag per WhatsApp na 062 126 0295. Jy kan ook 'n e-pos stuur om só 'n antwoord op jou navraag te kry. Stuur dit aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
(Ander bronne: 2017-AWS Woordelys; etymologiebank.nl; WAT)