"Lewend" word gebruik vir iets wat leef of bestaan, terwyl "lewendig" gebruik word vir iets wat in 'n lewende toestand is, teenoor "dood" of "leweloos".
In baie gevalle is "lewend" en "lewendig" sinonimies en kan hulle uitruilbaar gebruik word, byvoorbeeld: "Die man was nog lewend/lewendig ná die ongeluk".
Maar in ander gevalle is daar subtiele betekenisverskille wat na gelang van die konteks duideliker word.
Voorbeelde van die gebruik van "lewend":
- "Die hond Laika was die eerste lewende wese in die ruimte."
- "Broodbome is lewende fossiele."
- "Afrikaans is 'n lewende taal wat aanhou groei."
Voorbeelde van die gebruik van "lewendig":
- "Die man is omgery, maar hy is nog lewendig."
- "Die skildery lyk amper lewendig en 'n mens verwag om enige oomblik 'n beweging daarop te sien."
- "Die diere in die wildtuin was lewendig en opgewonde toe hulle die voertuig sien nader kom."
"Lewend" word dus uitsluitlik gebruik vir iets/iemand wat lewe, terwyl "lewendig" ook gebruik kan word vir 'opgewek, vrolik, entoesiasties'.
Nou hoe gemaak met "live" wanneer dit kom by uitsendings?
Die heersende konvensie is om "regstreeks" te gebruik vir geleenthede wat direk uitgesaai of gebeeldsend word. Die WAT skryf dié gebruik voor, dit word so in die geskrewe Afrikaanse media gebruik, en VivA se Korpusportaal bevat beduidend meer trefslae vir "regstreeks(e)" as vir "lewendig(e)" binne die konteks van uitsendings. 'n Mens sal dus praat van 'n "regstreekse uitsending", "regstreekse stroming", ens.
Terloops, "stroom" en "stroming" is ingeburger in Afrikaans ten opsigte van musiek, TV-inhoud, podsendings of enigiets wat met 'n internetverbinding geluister of gekyk word.
Vir "live location pin" kan "regstreekse speldligging" gebruik word.
Laastens, wat konserte of optredes betref: Dié geleenthede vind in die meeste gevalle voor 'n gehoor plaas en dit is onnodig om dit verder te probeer beskryf. Ook in Engels is "live" meestal oorbodig. Omdat "lewendig" ook 'opgewek, vrolik, entoesiasties' kan beteken, is 'n "lewendige optrede/konsert" heel anders as 'n "vervelige optrede/konsert". 'n Mens kan bloot skryf "konsert", "verhoogoptrede", "die volgende groepe gaan optree", "Arno Carstens het opgetree", ens.
Bron(ne): 2015-HAT; Skryf Afrikaans van A-Z (2022); VivA Korpusportaal; VivA Taalwerkersforum; WAT