Daar is nóg ’n belangrike rede waarom ’n koppelwerkwoord ’n sinsdeel daarná kort. Die sinsdeel ná die koppelwerkwoord druk ’n eienskap uit, en die koppelwerkwoord ken hierdie eienskap toe aan die saak waarna die subjek (oftewel onderwerp) verwys. Hierdie proses kan soos volg vir leerders verduidelik word deur die voorbeeldsin Haar kleindogter word groot te gebruik:

Soos uit die figuur hier bo blyk, kan ’n adjektief (oftewel byvoeglike naamwoord) ná ’n koppelwerkwoord gebruik word. As ’n mens nou taalkundig korrek wil praat, is dit eerder ’n adjektiefstuk wat ná die koppelwerkwoord staan. Leleti gaan nou vir ons verduidelik wat “adjektiefstuk” beteken.

Dankie vir die verduideliking, Leleti! Iets is daarom ’n adjektiefstuk wanneer ’n adjektief die belangrikste woordsoort of die kern daarvan is.
Onthou dat die adjektief nie alleen hoef te staan nie. Dit kan saam met ’n bywoord, soos in die sin hier onder, gebruik word. In so ’n geval is die adjektief ongeduldig steeds die belangrikste woordsoort (die kern) van taamlik ongeduldig en word hierdie stuk van die sin (of sinstuk) nog steeds ’n “adjektiefstuk” genoem.
- Ek is [taamlik ongeduldig].
Een taalgebruiker het gevra of slegs adjektiewe (of dan eerder adjektiefstukke) ná koppelwerkwoorde gebruik kan word, óf is ander sinsdele ook moontlik? Hier onder word aangedui dat ’n sinsdeel soos ’n rugbyspeler ook ná ’n koppelwerkwoord kan staan.


Kom ons kyk na nog voorbeelde van sinne waarin naamwoordstukke ná koppelwerkwoorde staan. Kyk ook hoe die naamwoordstukke nie noodwendig uit net ’n lidwoord en ’n naamwoord bestaan nie, maar ook ander woordsoorte, soos adjektiewe en telwoorde, bevat. In die laaste voorbeeld word aangedui dat ’n naamwoordstuk ook net uit ’n enkele naamwoord kan bestaan.
- Danie is [’n goeie atleet]. [Die naamwoordstuk bestaan uit die onbepaalde lidwoord, die adjektief goeie en die naamwoord, die kern, atleet.]
- Tussen die oë is [die twee voelhorings]. [Die naamwoordstuk bestaan uit die bepaalde lidwoord, die telwoord twee en die naamwoord, die kern, voelhorings.]
- Dit is [vlakvarke]. [Die naamwoordstuk bestaan net uit ’n naamwoord, die kern, vlakvarke.]
Boonop kan ’n sinsdeel wat met ’n voorsetsetsel (bv. in) ingelei word ná ’n koppelwerkwoord staan.


|
Ekstra inligting: In die voorbeeld hier bo word in ’n goeie bui metafories gebruik om ’n eienskap aan die mens Simon toe te ken. Simon kan mos nie letterlik in/binne ’n goeie bui wees nie. Ons sou hierdie voorsetselstuk net sowel deur vriendelik kon vervang. · Simon is [in ’n goeie bui]. < Simon is [vriendelik]. In die volgende voorbeeld is ’n voorsetselstuk ook ná die koppelwerkwoord is gebruik om metafories ’n eienskap aan Natasha toe te ken. Ook hier sou dit deur beïndruk of tevrede vervang kon word. · Natasha is [in haar skik]. < Natasha is [beïndruk/tevrede]. |
Dit kan ook gebeur dat ’n bywoord (bv. hier) ná ’n koppelwerkwoord staan.

|
Ekstra inligting: Let egter daarop dat VivA sulke gevalle waar ’n bywoord (of eerder dan ’n bywoordstuk) ná is of was staan anders interpreteer. VivA beskou is binne hierdie konteks as 'n kompleks onoorganklike hoofwerkwoord; nie ’n koppelwerkwoord nie. Vir ons is hierdie is nie koppelwerkwoorde nie, want dit koppel nie ’n eienskap of ’n beskrywing aan Lara nie. Dit sê eerder waar Lara haar bevind. Dit het met ander woorde eerder ’n plekbetekenis. Om hierdie rede sal ons dit as onoorganklik klassifiseer, want dit word nie saam met ’n direkte objek (oftewel direkte voorwerp) gebruik nie. Tog vereis dit ’n sinsdeel wat dui op die “waar”, “wanneer” of “hoe”, en daarom noem ons dit “kompleks onoorganklik”. |
Ook telwoorde kan ná koppelwerkwoorde staan.

Dit kan ook gebeur dat ’n bysin (beklemtoon) ná ’n koppelwerkwoord staan.
- Die feit is dat ons steeds baie by Europa kan leer.
- Die vraag is of hy die broodjie geëet het.
Die adjektiefstuk, die naamwoordstuk, die setselstuk, die bywoordstuk en die telwoord wat ná die koppelwerkwoord staan, komplementeer met ander woorde die koppelwerkwoord. Ook die bysin wat ná die koppelwerkwoord staan saam met die onderskikkende voegwoord wat dit inlei (bv. dat en of), komplementeer die koppelwerkwoord. Anders gestel: Al hierdie sinsdele vul die koppelwerkwoord aan. Wanneer ons besig is met sinsontleding en ’n sinsfunksie (bv. subjek of objek) aan sulke sinsdele moet toeken, sê ons hulle is komplemente van die koppelwerkwoord, of sommer net kopulakomplemente.
Onthou, as jy nie die term “adjektiefstuk”, “naamwoordstuk”, “setselstuk”, “bywoordstuk” of “kopulakomplement” aan jou leerders bekend wil stel nie, kan jy bloot die voorbeelde in hierdie blog vir hulle gee om te wys op die verskeidenheid sinsdele wat ná koppelwerkwoorde kan staan.
Mag die klouerige koppelwerkwoord liefde in jou leerders se skryfwerk in die vorm van verskeie kopulakomplemente vind!
VivA-groete
Nadine Fouché-Karsten
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Bronnelys
Brink, N., Kapp, S., Erasmus, C. & Van Rooy, B. 2021. "Woordsoorte: Werkwoorde". Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal?link=Afdeling-Woordsoorte%2FWerkwoord%2FAAG_Woordsoort_V_Inleiding.html].
Du Plessis, H. 1982. Sintaksis vir eerstejaars. Pretoria: Academica.
Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: JL Van Schaik.
Taalversorging
Maureen van Helden