VivA bedank die ATKV, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat steeds hierdie pad saam met VivA stap. VivA bedank ook die Noordwes-Universiteit wat bykans ’n dekade lank baie nou saam met VivA gewerk het. Dit is merkwaardig om te sien hoe hierdie vier instansies – elkeen ’n instansie met verskillende, tog oorvleuelende mandate – saam kan werk, sodat VivA as maatskappy sy mandaat kan uitvoer: om ’n navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste te kan wees.
Die ATKV is VivA se kultuurvennoot, en die Trust vir Afrikaanse Onderwys VivA se onderwysvennoot. Die Noordwes-Universiteit was voorheen saam met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns VivA se akademiese vennote.
VivA erken met trots die ATKV steeds as ons kultuurvennoot, die Trust vir Afrikaanse Onderwys as ons onderwysvennoot, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns as ons akademiese vennoot. VivA verwelkom dan ook nou Akademia as ’n nuwe akademiese vennoot. Prof. Danie Goosen, die uitvoerende hoof: Akademie van Akademia, is deur Akademia as ʼn direkteur op die direksie van VivA aangewys. Volgens Goosen moet die noue samewerking tussen Akademia en VivA as ’n positiewe stap beoordeel word in die verdere uitbouing en versterking van Afrikaans wat betref sy hoogste funksies.
Die bevordering van Afrikaans op alle terreine is nie ’n taak wat alleen aangepak kan word nie. Daarom werk VivA graag mee met ander organisasies wat hulle beywer vir die voortgesette ontwikkeling van Afrikaans. Sedert 2015 het VivA met verskeie instansies hande gevat, insluitend die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse Onderwysnetwerk, die Meertens Instituut en die Zuid-Afrikahuis (in Nederland), Universiteit Gent en KU Leuven (in België), RSG, die Taalkommissie, Afrikaans.com, die Universiteit Stellenbosch, Universiteit van die Vrystaat, die MOS-inisiatief en die WOW Spelfees om talle suksesvolle projekte en inisiatiewe die lig te laat sien ter uitbreiding van Afrikaans nasionaal en internasionaal.
“VivA is opgewonde om nouer met Akademia te kan saamwerk ten einde Afrikaans as akademiese taal te kan bevorder,” vertel Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA.
Akademia het op 14 Maart 2024 tydens ’n glansgeleentheid in Centurion aangekondig dat hulle van 2025 af ’n BA (Taalstudies)-kwalifikasie aan hul departement Tale en Kultuurwetenskappe sal aanbied. Tydens hierdie glansgeleentheid is Akademia se nuwe Taalsentrum, wat ten doel het om Afrikaans as vreemde taal te bevorder, om die akademiese taalvaardighede van hul studente uit te bou en Afrikaans as akademiese taal te bevorder, ook bekendgestel. Die belange van Akademia se Taalsentrum resoneer met VivA se eie doelstellings op hierdie gebied. Dit is dus ’n voorreg om voortaan saam te span ten einde die breë Afrikaanse gemeenskap, asook enigeen wat graag Afrikaans wil aanleer, te kan bedien.
VivA dien as ’n onafhanklike kontrakteur van Akademia se Taalsentrum. Van die opwindende samewerkingsgeleenthede wat hieruit gaan voortvloei, sluit onder meer in: die aanbied van internasionale konferensies, navorsingsuitsette, die ontwikkeling en aanbieding van verskeie werkwinkels, en internskapgeleenthede vir Akademia-studente om by VivA werkservaring op te doen.
Dr. Theuns Eloff, direksievoorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), sê: “Die TAO verwelkom die feit dat VivA, ’n noodsaaklike en unieke organisasie in diens van die Afrikaanse taal, ’n akademiese [vennootskap] by Akademia gevind het. Hierdie vennootskap sal vir albei instansies tot voordeel wees, maar belangriker as dit, die diens wat VivA aan die Afrikaanse taalgemeenskap lewer, verder verdiep en uitbrei. Die TAO wens albei instansies alles van die beste toe op hierdie opwindende reis.”
Met hierdie nuwe samewerking verseker VivA en Akademia dat Afrikaans in die hoëronderwyssektor floreer. Ons glo dat hierdie samewerking ons nader aan ons doel sal bring om Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te bevorder as ’n akademiese taal, maar ook as ’n onderrigtaal, kultuurtaal en gesinstaal.
Vir meer inligting besoek die instellings se webwerwe by www.viva-afrikaans.org en www.akademia.ac.za, en bly ingeskakel op die instellings se onderskeie sosialemediaplatforms.