Vandag is VivA ’n volwaardige digitale maatskappy – sonder winsmotief – wat lewens regoor Suid-Afrika en self internasionaal beïnvloed. En hoewel ons platform virtueel is, is die werk wat ons doen diep menslik.
Kom ek neem jou terug na die begin.
In die vroeë 2000’s het Afrikaans voor ’n kruispad gestaan. Aan die een kant was dit lewendig in gemeenskappe, musiek, sang, debat, kunstefeeste en kultuur. Aan die ander kant was dit onderverteenwoordig in tegnologie-gedrewe ruimtes – in sektore soos die hoër funksies van Afrikaans, naamlik onderwys, navorsing, taalpraktyk en aanlyn navorsingsgefundeerde gehalte-inhoud. Ons het daardie gaping nie as ’n bedreiging gesien nie, maar as ’n geleentheid, ’n plek waar VivA ’n beduidende rol kan speel.
VivA is gebore uit ’n begeerte om hulpmiddels te ontwikkel wat mense help om in Afrikaans te praat, skryf en te floreer – of dit nou ’n graad 7-leerder is wat ’n opstel probeer skryf, ’n professionele persoon wat haar skryfvermoëns wil slyp, óf ’n ouer wat saam met hul kind wil lees. Ons wou hê Afrikaans moet lewendig voel – nooit staties of ontoeganklik nie.
Ons het klein begin. Net ’n handvol digitale gereedskap, ’n prototipe of twee, en baie laat aande. Daar was goggas. Daar was begrotingsbekommernisse. En ja, daar was oomblikke waar ons gewonder het of ons dit sou kon volhou.
Maar ons het aangehou – omdat dit wat ons bou, saak maak.
En omdat mense in ons geglo het – selfs toe ons nog ons voete moes vind.

Marlie Coetzee.
Aan ons vennote en befondsers: Dankie. Julle het nie net in ’n maatskappy belê nie. Julle het belê in ’n taal, in ’n kultuur en in ’n toekoms wat almal insluit wat Afrikaans praat. Julle het potensiaal gesien waar ander net risiko gesien het. Julle het vir ons ruimte gegee om te groei – en die vryheid om te droom – in en vir Afrikaans.
Aan die VivA-span: Julle denke is die kreatiwiteit agter VivA en die kloppende hart van Afrikaans. Ontwikkelaars, skrywers, akademici, navorsers, onderwysers, taalkundiges, ontwerpers, administratiewe personeel, interns, regsadviseurs, direkteure, finansiële adviseurs – elkeen van julle het jul energie, jul kreatiwiteit en jul hart in hierdie werk gestort. Julle weet wat dit behels om met strawwe spertye te werk, om aan innoverende idees gestalte te gee, en ja – dikwels meer ure te werk as waarvoor julle vergoed word. Ek is só trots op wat ons saam gebou het. Want ek weet: julle weet dat die prentjie – die toekoms waarna VivA werk en bou, is groter as net ’n maatskappy. Dit is ’n nalatenskap wat digitaal sal aanhou voortleef.
Aan ons gebruikers, ons gemeenskap: Dankie dat julle ons produkte en dienste getrou gebruik en raadpleeg. Dankie dat julle altyd gereed is om staaltjies te deel oor hoe VivA julle gehelp het met die korrekte antwoord, of ’n glimlag gebring het met ’n taalwenk. Dankie dat julle ons grootste bemarkers is – dat julle die woord versprei én ons aanspreeklik hou om VivA se missie en visie uitleef. Julle herinner ons daagliks daaraan dat VivA nie net oor inhoud of sagtewareprodukte gaan nie – dit gaan oor mense.
Wat het ons in tien jaar bereik?
- Ons het een van die rykste, mees toeganklike Afrikaanse digitale platforms aanlyn ontwikkel.
- Ons het miljoene gebruikers bedien – leerders, opvoeders, skrywers, taalwerkers, navorsers, akademici, ouers en professionele persone.
- Ons het die voorreg om saam met taalkundiges, universiteite, skole en organisasies van regoor die land saam te werk.
- Ons het ’n handelsmerk gebou wat vertroue, inklusiwiteit en digitale trots uitstraal.
Ons grootste sukses?
Ons het gewys dat Afrikaans in die toekoms hoort.
Dat dit aanlyn, in klaskamers, in huise, is werksplekke kan floreer – en dat dit met kreatiwiteit, gehalte en waardigheid gedoen kan doen.
Tien jaar is natuurlik ’n mylpaal – maar dit is nie ’n bestemming nie.
Wat is volgende?
Die volgende tien jaar gaan oor die verdieping van ons impak. Ons wil selfs meer mense bereik – veral jongmense – deur ons digitale ekosisteem verder uit te brei en dit meer toeganklik en relevant te maak.
Ons wil seker maak die Afrikaans wat jy aanlyn sien, weerspieël álmal wat dit praat: in al hul diversiteit, stories en dialekte.
Ons ondersoek vennootskappe wat ons kan help om VivA en Afrikaans van krag tot krag te neem. Ons wil ons projekte, produkte en dienste nog verder uitbrei en KI eties aanwend in die verdere ontwikkeling van Afrikaanse tegnologieë.
Maar ons kan dit nie alleen doen nie.
Ons het jóú nodig – ons ondersteuners, befondsers en vriende – om saam met ons te stap.
Tien jaar gelede het ons ’n saadjie geplant.
Vandag staan ons in die Afrikaanse eter wat VivA help ontwikkel (kweek) het – en ons uit na wat voorlê.
So kom ons vier saam fees. Kom ons lig nie net ’n glas op die verlede nie, maar op die toekoms wat wink.
Dankie dat jy in VivA glo. Dankie dat jy in die VivA-span glo. En dankie dat jy deel was – en steeds is – van hierdie reis.
Kom ons vier tien jaar van VivA saam: tegnologie, taal en toekoms.
VivA-groete
Marlie
Marlie Coetzee is die uitvoerende direkteur van VivA.