“Die idee was om ’n digitale tuiste vir Afrikaanse taalkunde te skep. Dit was duidelik dat as Afrikaans wil saampraat en voortleef, hy ’n digitale voetspoor moet hê,” sê Van Huyssteen, dosent in taalkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en destyds lid van die Afrikaanse Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK).
In VivA se eerste sakeplan haal Van Huyssteen aan uit ’n 2013-artikel van die Hongaarse wiskundige taalkundige prof. András Kornai, “Digital Language Death”. Kornai skryf dat minder as 5% van die wêreld se 7 776 tale ’n teenwoordigheid op die internet het en dat slegs omtrent 250 hiervan die volgende honderd jaar sal oorleef.
‘’n Diamant’
Prof. Wannie Carstens, voormalige direkteur van die NWU se Skool vir Tale op die Potchefstroom-kampus, onthou die dag toe Van Huyssteen ’n dokument voor hom neergesit het.
“Ek dink dit was vroeg in 2011. Gerhard het gevra: ‘Wat dink jy hiervan?’ Ek het vlugtig gekyk, min daarvan verstaan omdat dit oor taaltegnologie gegaan het, maar ek kon dadelik sien dat ek ’n diamant voor my het. Ek kon deur die tegniese detail sien wat hy met die projek wou doen – ’n virtuele bron wat Afrikaans wêreldwyd toeganklik wou maak. Ek onthou dat ek daardie dag letterlik hoendervleis gekry het omdat ek as taalkundige die enorme potensiaal van die plan begryp het.”
Van Huyssteen sê die idee het hom een oggend in 2010 in die stort te binne geskiet.
“By die Taalkommissie was ons pas klaar met die 2009-uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) en ek het met die vraag geloop: Wat volgende?
“Daar het dit my getref: Ons het nie in Afrikaans iets soos die Meertens Instituut in Nederland nie. Afrikaanse letterkunde het vir LitNet, maar daar is nie vir taalkunde ’n virtuele platform nie.”
In die oprigting van VivA sou die bewaring van die hoër funksies van Afrikaans deurentyd sentraal wees. Van Huyssteen wys in sy sakeplan daarop dat vir Afrikaans om in die digitale inligtingsera te oorleef, hy gevestig moet word as ’n taal wat belangrik genoeg is om gebruik te word in domeine soos die onderwys, media, regswêreld, mediese wêreld, sakewêreld en akademie, en wat oor die vermoë beskik om hierdie hoë funksies te vervul. Afrikaans se sprekers moet in staat gestel word om hulself in alle hoëfunksiedomeine te handhaaf. Om homself as ’n digitaal toepaslike taal vir die toekoms te posisioneer, moet die taal dus oor die nodige digitale hulpbronne en dienste beskik om taalgebruikers te bemagtig.
Van Huyssteen het verskeie leemtes in die taallandskap geïdentifiseer:
- Afrikaans se teks- en spraakkorpora (’n korpus is ’n groot versameling tekste en gegewens wat vir taalnavorsingdoeleindes en produkontwikkeling saamgestel word) was beperk. Die Taalkommissiekorpus was toe die grootste korpus van geskrewe Afrikaans en het uit slegs 57 miljoen woorde bestaan. Duits, daarenteen, se spraakkorpus het toe reeds uit 4 miljard woorde bestaan.
- Die mees omvattende en resente beskrywing van Afrikaans se grammatika (fonologie, morfologie en sintaksis) was op daardie stadium reeds 20 jaar oud, het dus nie die jongste ontwikkelinge in die taal beskryf nie en was redelik beperk in omvang.
- Daar was ’n groot behoefte om Afrikaans se ortografie (spelling en skryfwyse), soos in die AWS vervat, te verhelder en meer toeganklik vir eindgebruikers te maak.
- Bestaande vakwoordeboeke en termlyste was nie digitaal beskikbaar nie.
- Voorts het 85% van respondente in marknavorsing wat vir VivA gedoen is, aangedui dat hulle graag gebruik sal maak van ’n taaladviesdiens.
Eenstopplatform
In die daaropvolgende maande is ’n visie vir VivA neergepen: om plaaslik en internasionaal bekend te wees as dié gesaghebbende navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in die digitale era.
Uiteindelik sou VivA enig in sy soort in die wêreld wees: ’n eenstopplatform vir navorsing én hulpbronne – terwyl daar in ander tale soortgelyke dienste deur verskillende maatskappye op verskillende platforms gelewer word.
In die sakeplan is VivA se missie so verwoord: Om die gebruik en gehalte van Afrikaans in die digitale era plaaslik en internasionaal te bevorder deur die beskrywing en bestudering van Afrikaans in sy volle omvang; die ontwikkeling van omvattende digitale hulpbronne, hulpmiddels en platforms vir gesproke en geskrewe Afrikaans; en die lewering van praktiese Afrikaanse taaldienste deur middel van tegnologie.
Vennootskappe gesoek
Die plan vir die baanbrekerswerk was op papier. Vir die werk om te begin was daar egter een groot struikelblok.
“Geld, geld, geld,” sê Van Huyssteen en voeg by dat die soektog na finansiering die projek met tussen twee en drie jaar teruggehou het. “Ons het die land vol gereis en universiteite en ondernemings besoek. Ons het wyd vir geld gesoek.”
Van Huyssteen sê hoewel hy nat agter die ore was wat entrepreneurskap betref en van sakeplanne en risikobestuur min geweet het, was die fondswerwing ’n heerlike ervaring.
“Dit was ’n baie groot uitdaging, maar ontsettend lekker om aan Afrikaans as ’n produk te dink, as iets wat as ’n sakegeleentheid ontgin kan word.”
Die plan was dat die projek tydens die oprigtingfase, wat oor vier jaar sou strek, sewe subprojekte loods: die ontwikkeling van ’n digitale Afrikaanse tekskorpus; ’n digitale Afrikaanse spraakkorpus; ’n aanlyn Afrikaanse grammatika; ’n elektroniese Afrikaanse ortografie; ’n aanlyn terminologiediens; ’n telefoniese en aanlyn taaladviesdiens; en ’n VivA-app.
Die eerste skenking vir die projek was R20 000. Carstens vertel:
“Ek het destyds die projek en begroting voorgelê aan die trustees van die PUK-Kanselierstrust. Ek het vooraf met dr. Theuns Eloff, toe die NWU se visekanselier en voorsitter van die Kanselierstrust, daaroor gaan praat. Ek waardeer dit baie dat hy my aansoek in die vergadering vir die projek gesteun het. Daar kon ek R20 000 bekom – die eerste fondse van die latere VivA. Die projek het daarmee van die grond af gekom. Ek het die idee gekry die ander lede van die Trust was net so opgewonde as ek oor die projek.”
As ondervoorsitter van die raad van die SAAWK het Carstens aanvoorwerk gedoen en later as voorsitter het hy die steun van die SAAWK bekom – ’n groot deurbraak vir die projek.
“My motivering was dat die projek 100% binne die SAAWK se mandaat val – as instansie wat die ontwikkeling van hoë funksies van Afrikaans moet steun, in die besonder van Afrikaans as taal van die wetenskap. Teen die einde van 2012 was die Raad bykans eenparig agter die projek (gegewe die mandaat van die SAAWK) en daar is selfs befondsing (weliswaar beperk gegewe die SAAWK se stand van sake) gegee soos die projek ontvou het. Maar die gewig van die SAAWK agter die projek het dit stukrag en statuur gegee.
“Met die ywerige steun van die destydse uitvoerende hoof van die SAAWK, prof. Jacques van der Elst, is daar begin om vennote te soek, met die SAAWK as stuurder van die projek. Intussen het ek die NWU genader oor die projek en met my dekaan se steun is ook dr. Eloff se steun as visekanselier gesoek. Wat ons gekry het.
Eloff sê gedurende die eerste gesprekke oor die vestiging van ’n virtuele navorsingsinstituut vir Afrikaans en die NWU se betrokkenheid daarby, het veral drie elemente uitgestaan.
“Ons het besef dat Afrikaans in ’n digitale konteks al hoe belangriker word. Daarby was die navorsingselement vir ’n instelling soos ’n universiteit van groot belang. Die derde element was dat die Potchefstroom-kampus van die NWU toe nog Afrikaans was. Dit was in daardie stadium duidelik dat Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Pretoria en Kovsies uitgefaseer word. By die NWU het Afrikaans nog sentraal gestaan.”
Eloff onthou dat hy gedurende die eerste voorlegging oor VivA gedink het dat dit presies is wat Afrikaans nodig het.
“Die konsep was ’n samekoms van entrepreneurskap en akademiese uitnemendheid, en ek het geweet dit is wat dit volhoubaar sal maak. Gerhard se sakevernuf en entrepreneurskap het vir my gemoedsrus gegee dat ons die vrugte vir Afrikaans, die SAAWK en die NWU sal pluk.”
Die Dagbreek Trust, van wie Eloff die voorsitter is, het uiteindelik ook ’n jaarlikse bedrag toegestaan.
Eloff glo die betrokkenheid van drie swaargewiginstansies, naamlik die NWU, die Dagbreek Trust en die SAAWK, het die deurslag vir die suksesvolle vestiging van VivA gegee. Die betrokkenheid van die instansies was uit die staanspoor meer as om net ’n verdienstelike saak te steun, sê hy. “Dit was belangrik dat dit eerder vennootskappe sal wees om te verseker dat Afrikaans ’n digitale vastrapplek kry.”
Die ATKV (danksy Japie Gouws wat toe die besturende direkteur was) het as strategiese vennoot toegetree en het onderneem om die administratiewe steun te gee om VivA as maatskappy sonder winsmotief te registreer.
Carstens vertel van ’n groot finansiële deurbraak eendag in Nederland met Taalportaal, VivA se vlagskipprojek.
“Die tegnologie wat VivA ondersteun het, was die Nederlandse Taalportaal. Gerhard het VivA gevisualiseer met Taalportaal as basis. Omdat dit nie oorspronklike tegnologie was nie, moes toestemming vir die gebruik daarvan verkry word. Omdat die SAAWK op daardie stadium die ‘gesig’ van die projek was, moes die SAAWK formele toestemming kry. Ons het wel geweet ons het nie geld om daarvoor te betaal nie en het gehoop die mense van die Meertens Instituut (MI) in Amsterdam sou inskiklik wees.
“Ek is na die Lae Lande vir ’n navorsingsbesoek van vier maande en het in Leiden tuisgegaan. Op ’n dag is ek na die MI in Amsterdam om die formele toestemming te gaan kry – met die wete ons kan nie daarvoor betaal nie.”
“Ek kan nog onthou dat ek en prof. Hans Bennis, die destydse direkteur, koffie gekry het. Ek het my saak gestel en toe gevra (met kommer in my hart) hoeveel die gebruik van die MI se tegnologie sou kos. Hy het my aangekyk en gesê: ‘Niks.’ My mond het seker oopgehang ... Toe ek hom vra hoekom dit so is, het hy ’n uiters belangrike rede gegee: ‘Ons is almal in dieselfde bedryf en ons moet mekaar steun deur te deel wat ons het.’ Ek is daardie dag met groot vrede en vreugde in my hart terug Leiden toe.”
Vroeg in 2014 het VivA nieamptelik begin met drie topprioriteite: die ontwikkeling van Taalportaal, die oprigting van die Taaladviesdiens, en die Woordeboekportaal, wat die VivA-app insluit.
Afrikaans betree die internasionale taalnavorsingswêreld
Vir Van Huyssteen was ’n hoogtepunt, en een van die eerste groot stappe in die oprigting van VivA, vroeg in Oktober 2014 toe vooraanstaande taalkundiges uit Nederland na Suid-Afrika gekom het om saam met die voorste taalkundiges in Afrikaans aan ’n werkswinkel deel te neem om te help om Afrikaans se grammatika omvattend te beskryf.
“Dit was wonderlik om mense van daardie kaliber saam om ’n tafel te hê,” vertel Van Huyssteen.
Maroela Media haal Van Huyssteen soos volg aan oor die geleentheid:
“In 2010 het die Nederlandse regering byna €2 miljoen bewillig vir die ontwikkeling van ’n vergelykende grammatika vir Nederlands en Fries. Nadat die SAAWK ’n samewerkingsooreenkoms met die MI in Nederland geteken het, is Afrikaans deel van die inisiatief.”
Prof. Jac Conradie, navorsingsgenoot by die Universiteit van Johannesburg, een van die taalkundiges wat destyds by die werkswinkel betrokke was en tot 2020 bydraes vir Taalportaal geskryf het, dink met heimwee terug.
“Die hervatte kontak met en blootstelling aan Nederlandse en Friese taalkundiges en hulle werkswyse (ná oorsese studie lank gelede), en die geleentheid om self te moet nadink oor allerlei aspekte van die Afrikaanse grammatika was hoogtepunte van my betrokkenheid by VivA. Dit was ook ’n vrugbare afsluiting van my taalkundige beroepslewe.
“Oor Taalportaal: Ek is baie bly dat so ’n groot deel van die Afrikaanse grammatika sistematies bewerk kon word.”
Boonop was Afrikaans nou onomkeerbaar deel van die internasionale taalnavorsingswêreld.
Afrikaans in die kuberruimte ingelanseer
In Februarie 2015 is VivA as ’n maatskappy sonder winsmotief geregistreer en op 17 Julie daardie jaar om 16:00 was die VivA-webblad amptelik vir die publiek aktief. Die Taaladviesdiens was in volle gang, die Woordeboekportaal met beperkte woordelyste was beskikbaar en navorsers kon toegang tot die Korpusportaal kry.
Carstens beskryf dié mylpaal as ’n “wow-oomblik” vir Afrikaans en word in die daaropvolgende week in Maroela Media soos volg aangehaal: “Hierdie projek lanseer Afrikaans in die kuberruimte in – enige persoon wêreldwyd met internettoegang sal nou Afrikaanse bronne kan gebruik.”
Op daardie selfde dag is die VivA-app vir Google en Android bekend gestel. Binne die eerste vyf dae het 1 750 gebruikers die app afgelaai.
Carstens, nou buitengewone professor in Afrikaanse taalkunde aan die NWU, sê hy voel soos ’n jaloerse vader oor VivA.
“Vir my is dit ’n groot bron van vreugde dat die SAAWK in my termyn so ’n groot stap kon neem en dat ek daaraan ’n aandeel gehad het. Wat my betref, is VivA een van die SAAWK se groot prestasies in die 21ste eeu – dat met ’n idee gesteun deur die SAAWK (wat uiters nodig was omdat die projek uit ’n akademiese hoek gekom het en in ooreenstemming met die mandaat van die SAAWK was) ’n visionêre droom gestalte kon kry en in hierdie proses sou meebring dat Afrikaans letterlik wêreldwyd sou vlieg.
“VivA dien as ondersteuning en dokumentering van soveel Afrikaanse materiaal – ek kan my op hierdie stadium nie die Afrikaanse akademiese landskap sonder VivA indink nie.”
VivA se voetspoor buite Suid-Afrika is baie duidelik, sê Carstens.
“Ek het sedert 2015 telkemale in Europa les gegee (soos in Leiden in 2018, Gent in 2018 en 2023, en tydens ’n uitgebreide reis in 2019 in Europa om klasse oor die Afrikaanse taalkunde by talle universiteite te gee – Duitsland, Switserland, Oostenryk, Kroasië en Serwië) en orals het die mense geweet van VivA.”
Tegnologie, die Woordeboekportaal
Van Huyssteen sê betreffende die tegnologiese uitdagings om ’n platform soos VivA op te rig, was dit ongelooflik om mense soos Martin Puttkammer, senior lektor in Taaltegnologie en hoof van die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) by die NWU, en Cornelius van der Walt van BlueTek Computers aan sy sy te hê.
“Hul antwoord was net altyd ja. As ek vra ‘Kan ons dit doen?’, was die antwoord ‘Ja’. Of ‘Is dit moontlik?’ was die antwoord ‘Ons kyk’. Hul kan-doen-mentaliteit was fantasties.”
Van Huyssteen se gunstelingprojek op VivA is die Woordeboekportaal en die VivA-app.
“Om die woordeboekmense van die verskillende woordeboeke te kry om in te koop, was wonderlik. Hulle het net gesê ons is in. Ons gee ons woordeboeke.”
In Oktober 2018 het VivA sy Artikel 18A-vrystelling vanaf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang.
Toe die oprigtingsfase (Februarie 2015 tot Desember 2019) ten einde geloop het, is al die doelwitte bereik en Van Huyssteen het die aflosstokkie oorgegee.
“Langenhoven het gesê hoe korter jy kuier, hoe gouer word jy weer genooi,” sê hy oor sy besluit. “As jy innoverend wil bly dink, jou kop wil vars hou, moenie te lank bly en op jou louere rus nie.”
VivA was nou op sy voete en dit was tyd vir die volgende generasie om dinge op hul manier te doen.
Taaladviesdiens – ’n aanklopplek vir hulp
Sophia Kapp, wat VivA se eerste voltydse personeellid was en ’n paar maande voor die amptelike geboorte van VivA reeds die taaladviesdiens aan die gang gekry het, verduidelik dat dié diens vir die “gewone sterfling” is wat Afrikaans op voetsoolvlak besig.
Taalnavrae kan per WhatsApp of per e-pos gerig word, terwyl taalwenke op VivA se sosialemediabladsye aan gesamentlik byna 100 000 volgelinge verskaf word. Op VivA se Facebook-blad is daar daagliks tientalle navrae van taalpraktisyns soos vertalers, tolke, redigeerders en skrywers asook gewone taalgebruikers.
Kapp sê die idee met die adviesportaal is om ’n vaste verwysingspunt of aanklopplek vir taalreëls te wees, maar ook om entoesiasme vir Afrikaans te kweek. Sy het die diens tot einde Oktober 2022 beman.
Vir haar was die lekkerste om te sien dat mense nog vir Afrikaans omgee.
“Wat my die meeste verstom het, is dat ons met iets oninteressant soos spel- en taalreëls werk, en tog het ons soveel volgelinge op sosiale media. Dit dui daarop dat die taalgebruikers wel belangstel en betrokke is. Selfs wanneer hulle met ons verskil, wys dit dat iemand gedink het en omgee.”
Sy was ook soms verbaas oor wie die taaldiens kontak.
“’n Mens sou dink dat dit meestal die ouer, meer konserwatiewe mense sal wees, diegene wat oor taalhandhawing besorg is, wat ons sal kontak. Maar dan kry jy gewone mense soos die bruid wat die spyskaart vir haar troue stuur sodat dit geredigeer kan word, omdat dit vir haar belangrik is dat die taalgebruik daarop reg moet wees.”
Taalonderrigportaal
Vanuit die taaladviesdiens het die idee vir ’n taalonderrigportaal gevloei, een van die projekte waarop sterk in die uitbreidingsfase, wat in 2019 begin het, gefokus is.
Coetzee, wat VivA se leisels in 2019 by Van Huyssteen oorgeneem het, sê die Taalonderrigportaal is die afdeling van VivA waarop sy die trotsste is, maar waar VivA ook die meeste teenkanting gekry het.
VivA se oogmerk met die Taalonderrigportaal is om ’n betroubare, toeganklike, korrekte, moderne en omvattende skoolgrammatika te ontwikkel en te onderhou. Die grammatikas wat in Taalportaal vir M- en D-studente en postdoktorale genote beskikbaar gestel is, word hier vir leerders en onderwysers toeganklik gemaak. So word ’n pyplyn vanuit akademie na gewone taalgebruikers gevorm.
Coetzee verduidelik dat die inhoud in skoolhandboeke vir Afrikaans verouderd is en nie meer bygewerk word nie, met die gevolg dat daar nie tred gehou word met nuwe ontwikkelinge in die taal nie.
Kapp beaam dit: “Kinders word vervreem deurdat taalreëls wat lankal nie meer sin maak nie, steeds afgedwing word. VivA wil sê, hier is die reëls – vir onderwysers en ook vir handboekskrywers.
“Die inligting in die Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG) is die vakinhoud wat nodig is om handboeke te skryf en wat onderwysers van Afrikaans Huistaal nodig het om lesinhoud of leerhulpmiddels te ontwikkel.”
“Met die ASG in die Taalonderrigportaal fokus ons op nuwe ontwikkeling in die taal. Soos byvoorbeeld dat daar nie nou meer net agt woordsoorte onderskei word nie, maar twaalf,” sê Coetzee.
Die kritiek teenoor ASG het veral uit onderwysgeledere gekom – vakkundiges en onderwysers wat gevra het waarom VivA die taal verander.
“Ons benadering is dat dit eerder die taal is wat verander, want dit is hoe ’n taal voortleef. Ons kan nie almal nog CJ Langenhoven se Afrikaans praat nie. Ons moet by die tye bly.”
Coetzee noem die voorbeeld van ’n joernalis wat ’n nuwe woord skep – soos in plaas daarvan om ontploffing te gebruik, skryf hy inploffing.
“Akademici doen navorsing daaroor, maar dit help niks as daar nie ’n pyplyn is na wat kinders in die skool leer of wat jy leer as jy Afrikaans op universiteit neem nie.”
Coetzee beklemtoon dat dit hier steeds oor die hoë funksies van Afrikaans gaan.
“Sodra jy die hoë funksies van ’n taal verloor, verloor jy sy glans, sy status en statuur.”
Dit het ’n goeie vyf jaar geneem om kurrikulumskrywers en onderwysers te oortuig dat VivA aan hulle kant is en wil help.
“VivA is daar vir almal en waar dit kom by moedertaalonderrig, probeer VivA om almal op dieselfde standaard te kry,” sê Coetzee.
VivA vandag
In die uitbreidingsfase het VivA bestaande portale en dienste in stand gehou en uitgebrei, maar ook verskeie nuwe projekte aangepak, waaronder die bekendstelling van Taalonderrigportaal en Teksredaksieportaal, VivA-Uitgewers, die VivA-taaltoer vir hoërskoolleerders, verdere uitbreiding van ’n groot verskeidenheid korpora wat kontemporêre en historiese, gesproke en geskrewe vorme van Afrikaans toeganklik maak vir navorsers en taalpraktisyns, ’n aanlyn biblioteek met lees-en-luistertekste, en die ontwikkeling van ’n digitale leesbaarheidsindeks wat onderwysers in staat stel om te bepaal of ’n teks toeganklik en maklik leesbaar is vir die leerdersgroep waarvoor dit gebruik word.
Die webblad het byna 90 000 geregistreerde gebruikers. Sowat 40% van VivA se gebruikers is tussen 18 en 34 jaar oud. Die eerste weergawe van die VivA-app is 207 000 keer afgelaai en die nuwe weergawe wat in Januarie 2024 bekend gestel is, is reeds meer as 17 000 keer afgelaai.
Die Korpusportaal bestaan nou uit meer as 240 miljoen woorde, met onder meer die ATKV-Taalgenootkorpus, die ATKV-Tienertoneelkorpus, die FAK-korpus, RSG se nuuskorpus, Weet.co.za en Maroela Media se korpora. Daar is ook reeds ooreenkomste gesluit vir ander korpora wat later op Korpusportaal beskikbaar gestel gaan word. Die Spraakatlas demonstreer die verskeidenheid Afrikaanse uitsprake, nasionaal en internasionaal, met die voorlesings en opnames wat op ’n interaktiewe wêreldkaart geplot word.
Susan Lombaard, hoof van Maroela Media, sê die bestuur van dié nuusplatform het nie eers lank gedink toe VivA hul genader het om sy korpus beskikbaar te stel nie.
“Een van die belangrikste lesse wat ons al vroeg in Maroela Media se bestaan geleer het, is dat die Afrikaanse gemeenskap te klein is dat ons ons eie belang kan beskerm en kompetisie kan wees vir mekaar. As dit gaan oor Afrikaans, en nie oor onsself nie, is dit belangrik dat ons dit wat ons het, aan mekaar beskikbaar stel ter wille van vermenigvuldiging.”
Die beta-weergawe van VivA se nuwe app wat met die steun van die ATKV ontwikkel is, is reeds in Januarie 2024 bekend gestel.
Gerrie Lemmer, hoof van kultuur by die ATKV, sê dié organisasie se verhouding met VivA is komplementêr en strategies van aard. “Die ontstaan van VivA het ’n natuurlike uitbreiding van ons eie doelwitte geskep, veral in die digitale domein, wat ’n groeiende en noodsaaklike speelveld vir taalontwikkeling geword het. Van die begin af was ons betrokkenheid strategies gemotiveerd, ’n rol wat die ATKV steeds op die VivA-direksie speel.”
Die nuwe app bevat meer as 679 000 woorde uit ’n versameling van 36 bronne insluitend die 2009- en 2017-uitgawes van die AWS se woordelyste en bylae, niswoordeboeke soos die Brandweerwoordeboek, Stadsbeplanningswoordeboek en Kernbedryfwoordeboek, asook algemene woordeboeke en woordelyste soos die Tweetalige Voorsetselwoordeboek en VivA Vertaal. Dit bevat ook daaglikse taalwenke wat geskoei is op taalnavrae wat VivA se taaladviesspan in die afgelope drie jaar ontvang het en ’n stuurfunksie waar gebruikers woorde wat nog nie in die app of in bestaande woordeboeke voorkom nie, kan aanmeld sodat dit met ’n volgende bywerking oorweeg kan word vir insluiting.
Dr. Phillip Louw, sedert 2023 hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), sê die WAT sien VivA as ’n gewaardeerde vennoot in die bewaring en uitbouing van Afrikaans.
“Ons werk op twee vlakke saam – as ’n inhoudsverskaffer vir die Woordeboekportaal, maar ook as ’n vennoot in samewerkingsprojekte, soos met die projek oor variasie in Afrikaans (ProVARIA), die aksiegroep vir navorsing oor Afrikaans se variëteite.
“Met VivA sal ek (taal)oorlog toe gaan. VivA se mense is die mense saam met wie jy in die loopgrawe wil wees,” sê Louw.
Nuwe vennootskappe
Op 16 Oktober 2024 het Akademia as ’n vennoot tot VivA toegetree en ’n samewerkingsooreenkoms is beklink. Die Dagbreek Trust is deesdae by VivA betrokke deur sy nuut gestigte Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO).
Die VivA-span
Oor die span by VivA – ’n gideonsbende van net agt mense – sê Coetzee: “Hul denke en kreatiwiteit is wat VivA laat werk en hul harte wat vir Afrikaans klop, is die passie wat hulle aandryf om elke dag te strewe na die volgende mylpale vir ons taal.”
Tien jaar later, en wat is volgende?
Van Huyssteen sê hy is uiteraard baie trots op wat VivA bereik het.
“Ook op die rigting waarin VivA gegroei het, na iets wat primêre en sekondêre onderwys ondersteun. Dit is ook duidelik in die TAO se betrokkenheid.
“My droom is dat VivA sal aanhou om ’n kringloop te help fasiliteer tussen navorsing en die voetsoolgebruiker. As daar nie navorsing is nie, kan daar ook nie kennis wees wat skole kan gebruik nie. Kinders moet nou in die skool leer hoe Afrikaans in WhatsApp-taal werk. Daarvoor is navorsing nodig. Daar moet byvoorbeeld ook gevra word hoe die taalmodelle vir iets soos ChatGPT lyk. Daardie metamorfiese kringloop is belangrik.”
Coetzee beaam dat die tegnologiese wêreld drasties verander het, en gevolglik sal VivA se volgende stappe wees om Afrikaans binne dié nuwe ruimte te laat floreer. “Maar mense wil steeds met mense werk, en in hierdie digitale revolusie wat alle maatskappye nou beleef, gaan goeie menseverhoudings nóg belangriker word.”
Oor VivA se toekoms sê Eloff: “VivA is nou gevestig as ’n institusionele liggaam vir die ontwikkeling van Afrikaans in ’n digitale toekoms. Die onlangse koppeling met Akademia is uitstekend. Vir die organisasie se suksesvolle voortbestaan is dit belangrik om voortdurend op die uitkyk te wees vir soortgelyke sleutelvennootskappe.”
Coetzee sê op 1 Maart 2026 begin ’n heel nuwe fase vir VivA, maar sy wil nog nie veel verklap nie.
“Ons hooffokus sal steeds wees om te verhoed dat die hoë funksies van die taal uitsterf. Die keuse voor ons is eenvoudig. Ons moet aanpas of anders gaan ons uitsterf. Vir VivA is dit ononderhandelbaar. Ons sal aanpas.”
Dr. Annelise de Vries, hoof van die SAAWK, wys daarop dat volgens Unesco se raamwerk vir taallewenskragtigheid en -bedreiging ’n taal se status afgegradeer sal word as hy nie sy plek in ’n digitale ruimte vol staan nie.
“Afrikaans lê tans in terme van digitale verteenwoordiging op Unesco se skaal by ‘lewendig’. Maar daar is ’n stappie hoër, en dit is ‘florerend’. VivA kan ’n toonaangewende rol speel om Afrikaans van ‘lewendig’ na ‘florerend’ te laat groei,” sê sy.
Coetzee sê die toekoms waaraan VivA werk en bou, is groter as net ’n maatskappy.
“Dit is ’n digitale nalatenskap wat sal voortleef lank nadat ons nie meer hier is nie.
“Wat het ons die afgelope 10 jaar bereik? Ons het gewys dat Afrikaans in die toekoms hoort. Aanlyn.”