Oor die tussen(in)klank in Afrikaans
Benito Trollip
In Germaanse tale soos Afrikaans en Nederlands is die proses van samestelling besonder produktief en algemeen om nuwe woorde te vorm. Dink byvoorbeeld aan woorde soos duifdak(‘die dak by my huis waarop die duiwe graag sit’), of orgideëoorplanting (‘die jaarlikse proses om my orgideë oor te plant in ander houers’). En natuurlik kan samestelling rekursief (herhaaldelik) toegepas word in Afrikaans om woorde soos duiwedakskoonmaakprosesbeplanning te maak (al gebeur dit nie baie nie).
In sommige samestellings kom daar ʼn sogenaamde valensiemorfeem (ook genoem ʼn tussenklankofinterfiks) voor, soos die -e-tussen eend en dam in eendedam en die -s-tussen handel en ooreenkoms in handelsooreenkoms. Wat is die nut en doel van hierdie tussenklanke? Is daar ʼn verskil tussen eenddam en eendedam? En kan ons praat van ʼn handelooreenkoms, of moet dit handelsooreenkoms wees? Is daardie -s- regtig noodsaaklik?
Op die oomblik doen ek navorsing oor die valensiemorfeem en spesifiek of dit nog produktief gebruik word in Afrikaans wanneer samestellings gevorm word. Ek het groot asseblief tien minute van jou tyd nodig om my te help om ʼn vraelys in te vul. Jy hoef niks te skryf nie – dis alles net veelkeusevrae.
Volg gerus hierdie skakel (https://qtrial2013.qualtrics.com/SE/?SID=SV_8BXl1FvXJrtQBhz) om deel te neem aan my vraelys. Jy kan kies om veertig vrae (minder as tien minute) of tagtig vrae (minder as vyftien minute) te beantwoord. Ek sal dit regtig baie waardeer as jy bereid sou wees om tagtig vrae te beantwoord. Indien daar enige vrae of kommentaar is, voel vry om my te kontak by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
By voorbaat dankie vir jou hulp!