Só gesels Chanette:
Een ding wat die vertaling van Offerlam na Nederlands my geleer het, is nuwe respek vir Afrikaans.
Wat my veral opgeval het, is hoe soepel Afrikaans is, hoe dinge op vars wyses uitgedruk kan word sonder om jou vas te loop teen rigiede taalkonvensies. My vertaler het haar verstom aan die bondigheid waarmee ons ʼn gedagte of beeld oordra en moes soms ʼn paar sinne gebruik om te vertaal wat ek in ʼn enkele sin gesê het.
Nederlandse tydsverbuiging het my ook ʼn les geleer. Voorheen het ek dit altyd bekla dat die verlede tyd in Afrikaans so lomp is. Ook dat die gebruik van (historiese) teenwoordige tyd ʼn hele paar beperkings oplê as mens hoofsaaklik daarin skryf. Skryf jy in die verlede tyd, sit jy gou met ʼn barrage van “het ge-“-konstruksies en veroorsaak dit sommer gou ʼn gevoel van mededeling pleks van belewing. Skryf jy in teenwoordige tyd, moet jy onder meer die tydsverloop van die verhaal baie netjies beplan om nie heen en weer in die verhaalhede te beweeg en die leser te verwar oor wanneer wat nou eintlik gebeur het nie.
My vertaler het saamgestem dat ons in die Nederlandse vertaling ook die teenwoordige tyd gebruik. In ʼn storie is daar egter karakters se herinneringe aan dinge wat voor die aanvang van die verhaal gebeur het – soms in die onlangse verlede en soms in die verre verlede. Boonop is daar ook terugverwysings na gebeure wat in die verhaalhede plaasgevind het. En dis net daar waar ek agtergekom het presies hoe omslagtig en ingewikkeld tydverbuigings in ʼn ander taal kan wees.
Ek is nou innig dankbaar vir ons vereenvoudigde gebruik van tydsaanduiding en het van vooraf waardering vir die soepelheid van Afrikaans wat ons toelaat om bondig, vars en oorspronklik met ons taal om te kan gaan.